Tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 is ongeveer 25 000 Boerekrygsgevangenes en simpatiseerders na kampe in Indië, Ceylon, St. Helena en Bermuda gestuur. Die kunstenaarsboek, Na Bermuda, is ’n uitbeelding van die reiservarings van gevangenes bestem vir die eilandgroep in die Atlantiese Oseaan en hulle pogings om hulle ervaring te verwoord. Verder beliggaam die werk vervagende herinneringe en ’n tydperk, gebeure en mense wat in die vergetelheid verdwyn het. Die kunstenaarsboek bied aan lesers ’n interaktiewe ervaring soortgelyk aan dié van ’n navorser wat die verlede uit argiefdokumente herskep. Lesers kan moontlik ook eie familievertellings oor die oorlog herroep of nadink oor die lot van gewone mense wat in oorloë vasgevang word. Handwerkitems wat deur die krygsgevangenes gemaak is, het die formaat en uitvoering van die werk geïnspireer.

Franci Greyling het die projek gekonseptualiseer, ontwerp en die navorsing onderneem. Franci het onder meer by die Erfenisstigting navorsing gedoen en het groot waardering vir die hulp van die personeel. Die houtkassie is gemaak deur Hennie Greyling (Phenco CC) en die Perspexkassie deur Adri Benade.

Die kunstenaarsboek is deel van ’n groepsuitstalling, Stairways and ruins, in die NWU-galery op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (17 Julie tot 31 Augustus). Die galery is weeksdae oop tussen 09:30 en 16:00.

Inligting oor en ’n virtuele toer van die uitstalling is beskikbaar by: https://humanities.nwu.ac.za/vinco/stairways-and-ruins-exhibition

Kontak gerus vir Franci Greyling vir meer inligting oor die Na Bermuda-projek. Franci sal ook graag besoekers by die uitstalling ontmoet en meer oor die projek vertel. Franci.greyling@nwu.ac.za