Mediaverklaring

27 November 2023

Die 42-jare Jacky Burgess wou net die ou huis waar haar ouma en oupa gebly het vir haar gesin wys. Die dag het heel anders uitgedraai as wat sy beplan het.

Brugess, tans woonagtig in Sydney, Australië, saam met haar man en kinders, het die terrein besoek om te deel in al die gelukkige herinneringe wat sy as kind ervaar het. Vandag huisves dié huis die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en staan aan die voete van die Voortrekkermonument.

Sy onthou hoe sy as kind saam met haar sussie vakansies by oupa en ouma gekuier het, wat vir meer as 20 jaar in daardie huisie gewoon het. Luther en Freda Bezuidenhout het in die huis gewoon toe Luther 24 jaar gelede die bestuurder van die Voortrekkermonument en die terrein was.

“Hierdie plek verskyn gereeld in my drome,” sê Burgess.

Die FAK noem hierdie selfde gebou steeds vandag Huis en het die besondere voorreg gehad om nie net Burgess en haar gesin terug te verwelkom nie, maar ook die 94-jarige Freda, wat 22 jaar in die huis gebly het.

“Ek het nooit in my lewe so iets verwag nie. Dis vir my ’n voorreg. Ek kan dit nie glo nie.”

Dis is al wat Bezuidenhout kan uiter nadat die FAK Personeel haar verwelkom het met ’n heerlike boerekos-ete, soos wat sy al daardie jare vir haar man voorberei het.

Soveel herinneringe word aan die etenstafel herroep. Jare lank was die Voortrekkermonuement-terrein hulle tuiste. Hier het die Bezuidenhouts in die tuin gewerk en gesorg dat die kosbare erfenis vir die nageslag behoue bly.

Burgess onthou hoe sy haar ouma se naels geverf het en hoe sy en haar sussie as kind in die tuin gespeel het. Vir soveel jaar koester sy die herinneringe.

“Dit is so ’n spesiale en emosionele dag,” sê Burgess.

Bezuidenhout het soveel stories om te vertel. Sy het self in die tuine gewerk, sy en haar man het na die gronde omgesien en gesorg dat dit beskerm word, “na die beste van [hulle] vemoë”.

In 1999 het Luther Bezuidenhout afgetree en het die paartjie uit die huisie getrek waarna hulle eintlik net omgesien het.

Geskiedenis leef om ons. Dit is ’n voorreg om te deel in die spesiale storie waarvan die Bezuidenhouts ook net deel was. So is ons almal ’n hoofstuk in ’n verhaal vir ons nageslag om te ontdek. Met dankbaarheid en ’n vol hart, kan ons hierdie hoofstuk afsluit en liefdevolle herinneringe koester.