Die afgelope paar weke het ’n aantal nuwe Afrikaanse vrystellings weer die lig gesien; hierdie keer is daar nóg ’n klassieke treffer van weleer wat ’n gedaanteverwisseling ondergaan, ’n groot Afrikaanse treffer word nuut opgeneem twintig jaar nadat dit oorspronklik vrygestel is, ’n legende keer terug met ’n komposisie van ’n opkomende liedjieskrywer terwyl nog een ’n jarelange stilte verbreek.

Byeboerwa (Sensasie-remix) – Carike Keuzenkamp

In 1979, te midde van die ontstaan van die Musiek-en-Liriekbeweging, het Anton Goosen en Carike Keuzenkamp saamgespan vir ’n liedjie wat die kol getref het. Na hul sukses met “Hoeka toeka” in 1978 het hulle dit die volgende jaar opgevolg met “Byeboerwa”, seker een van Carike se grootste treffers. Nou is hierdie liedjie vir die nuwe geslag oorgedoen; dit is die jongste Afrikaanse treffer waarvan ’n “sensasie-remix” vrygestel is. Dit gaan van voor af gewild word, en sal die dansvloere vir seker vinnig vol kry.

Liewe lewe – Laurika Rauch (saam met Christi van Niekerk)

Laurika Rauch was lank stil, maar sy het haar aanhangers eindelik weer iets gegee om oor opgewonde te raak. Laurika het jong opkomende liedjieskrywers dwarsdeur haar loopbaan ’n kans gegee, onder meer Etienne Steyn, Gian Groen en Vernette Wessels, wat onderskeidelik “As ek eendag oud is”, “Vier seisoene kind” en “Die reis” geskryf het. Nou het sy dit weer gedoen, en hierdie keer stel sy die werk van Christi van Niekerk aan ’n breër gehoor bekend, en dit was Arnold Coleske se idee om Christi as “medewerkende kunstenaar” te betrek. Die liedjie vertel ’n verhaal van hoop en vernuwing waarby elke mens aanklank sal kan vind en gaan weer eens ’n groot treffer vir haar word. Goeie nuus vir Laurika se aanhangers is dat ’n nuwe album vir later vanjaar beplan word.

Maia hee (Net die een vir my) – Nicholis Louw en Shine 4

Dis moeilik om te glo dat Nicholis Louw nou al twintig jaar lank in die Afrikaanse musiekbedryf is. Sy debuutalbum, My hart is aan die brand, is in 2004 te midde van ’n bloeitydperk in die geskiedenis van Afrikaanse musiek vrygestel en het hom behoorlik onder die publiek se aandag gebring. Op “Net die een vir my” het hy met die vrouegroep Shine 4 saamgespan en hierdie snit het baie vir albei se loopbane beteken. Hoewel Shine 4 intussen ontbind het, het hulle weer bymekaargekom vir die nuwe opname van hierdie liedjie ter viering van sy twintigste verjaardag.

Gigi – Anton Goosen
Een van die leiersfigure van die Musiek-en-Liriekbeweging was Anton Goosen, en oor die afgelope 45 jaar het hy homself as een van die veelsydigste liedjieskrywers in Afrikaanse musiek gevestig. Sy nuwe album, Sirkels, is onlangs vrygestel en die jongste enkelsnit, “Gigi”, is ’n bewys dat hy weet hoe om ’n treffer te skryf.

Kartientjie Katryn – Karlien van Jaarsveld

Met haar jongste enkelsnit, “Kartientjie Katryn”, wys Karlien van Jaarsveld haar dieper kant, want sy sing van die pynlike herinneringe van haar kinderjare wat ’n blywende indruk op haar gemaak het. Volgens haar het sy by haar kleiner self gaan sit en daardie oomblikke saam met haar. Sy vra ook waar die Here tydens haar grootwordjare was. Sy sê dat die brein ’n manier het om die seer van die verlede toe te maak en dat dit tot selfvernietiging kan lei. Daarom het sy besluit om liewer eerlik hieroor te skryf. Haar dogtertjie, Elah, vertolk die jonger weergawe van Karlien in die musiekvideo.

Wille Sarie – Mirandi

Nadat sy redelik goed gevaar het toe sy aan Idols deelgeneem het, het Mirandi die tweede plek in die derde seisoen van Die kontrak losgeslaan. Dit het gemaak dat sy haarself as ’n kunstenaar kon vestig en haar eerste enkelsnit, “As jy bid”, is vrygestel kort nadat sy aan Die kontrak deelgeneem het. Nou is sy terug met iets heeltemal anders. Sy het verras toe sy tydens die televisieopnames ’n weergawe van Little Richard se “Good glooy Miss Molly” met Afrikaanse lirieke wat sy self geskryf het, op die verhoog gesing het. Dit het ’n kant van haar persoonlikheid gewys waarvan min mense bewus was en die beoordelaars en die publiek het dit goed ontvang. Nou is hierdie liedjie eindelik as enkelsnit vrygestel. Sy vertel die verhaal van ’n meisie wat streng grootgemaak is, maar net wil wegbreek en gaan dans. Sy vertel dat dit haar ook baie goed opsom. Die liedjie is ’n vermenging van jazz, blues en rock ’n roll wat bitter selde in Afrikaans gehoor word.

Skoolgeld – Elvis Blue

Dit is nie sommer enigiemand wat daarvoor kans sien om met ’n fiets van George tot in Mbombela te ry nie, maar dit is presies wat Elvis Blue gedoen het. Hy het die lang pad na die Innibos-kunstefees op sy fiets aangedurf om geld vir sy skoolgeld-liefdadigheidsprojek in te samel en volgens hom was dit absoluut nie ’n bemarkingsfoefie nie. Om alles te kroon, het hy ook by Innibos opgetree. Sy jongste treffer gaan oor die opofferings wat ’n mens maak ter wille van ’n huwelik, en die musiekvideo sluit beeldmateriaal van sy rit per fiets in.

Aanhou – Leah

Leah is seker een van die besigste bekende persoonlikhede in Suid-Afrika, want benewens haar sangloopbaan het sy haarself as ’n gewilde en veelsydige televisieaanbieder gevestig. Nou het sy egter besluit om haar sangloopbaan te hervat met haar jongste enkelsnit, “Aanhou”, wat pas vrygestel is. Die musiekvideo is met die samewerking van die Cobra-motorklub verfilm, en ’n pragtige weergawe van hierdie sportmotor kom daarin voor. Die boodskap van hierdie liedjie is dat ’n mens nie moet ophou baklei vir ’n verhouding nie, al gaan dit hoe sleg.

Jou tyd is nou – Jo Black

Jo Black het onlangs ’n kontrak met ’n nuwe musiekmaatskappy gesluit en sy eerste enkelsnit sedertdien is pas vrygestel. Teen hierdie tyd weet ’n mens wat om van hom te verwag, en met “Jou tyd is nou” stel hy weer eens nie teleur nie. Hy het een aand gepraat met ’n man wat ’n baie moeilike tyd deurgemaak het, en hy het vir die man gesê dat daar niks is wat in sy pad staan nie. Dit het hom laat besluit om hierdie liedjie, saam met Richann Brüssow, te skryf. Enigiemand wat moedeloos is, of wat nie ’n uitkoms sien nie, kan gerus hierna luister.

Paaie X – Aidan Kade

Een van die mees belowende nuwelinge tot dusver vanjaar is Aidan Kade, wie se debuutenkelsnit, “Paaie X” (lees Paaie kruis) pas vrygestel is. Sy het dit saam met Stephan van Huyssteen en Don Kelly geskryf, terwyl Robin Kielly die regie behartig het. Hoewel die liedjie afgerond klink, word die growwe egtheid daarvan steeds behou. Sy beweeg maklik tussen ’n hoë en lae register en die liedjie handhaaf ’n balans tussen ’n alternatiewe en toeganklike rock-klank. Dit vertel van die verlange na ’n spesiale persoon om lief te hê. Hopelik gaan ons nog baie van haar hoor!

Daantjie Badenhorst (Augustus 2024)