Om te reis, is om te ervaar

Deur: Barend Groenewald

Die Kaapse geskiedenis is ryk en oud. Daar is geen beter manier om die kulturele erfenis van die Afrikaner in dié provinsie te ervaar as om self Kaap toe te reis nie. Onlangs het ek en ’n medekollega die Wes-Kaap besoek om die geskiedenis te ervaar. Ons het verskeie dorpe en historiese bakens besoek, asook vier FAK-toere bygewoon. Kom reis saam met ons.

Op die lang pad af Kaap toe besef ’n mens dat plekke soos die Karoo en Franschhoek vasgevang word in puik foto’s en artikels, maar iets is wel afwesig. Die ontmoeting van plaaslike legendes en panoramiese uitsigte wat eerstehands ervaar word, is nêrens te vinde nie. Om te reis, doen die teenoorgestelde, want om te reis, is om te ervaar. Geborge stories smeek om ontdek te word op die langpad. Soos die pad kilometer vir kilometer verbygaan, verskyn die Karoo-granietkoppe en oop vlaktes wat die natuurliefhebber lok. Klein dorpies soos Laingsburg roep die historici om te kom ontdek.

Die eerste dag het ons die Hugenote Gedenkmuseum en Hugenotemonument in Franschhoek besoek. Dié dorp het eers bekend gestaan as “Oliphanthoek” na aanleiding van olifante wat in dié gebied kom kalf het, vertel ’n inligtingsbordjie in die museum. Die wêreldklas wynbedryf van die Kaap is danksy die Hugenote se bydrae. Hulle taal is vandag afwesig, maar die magiese bydrae tot ons landbou en ekonomie leef nog voort. Vanaf Franschhoek is die pad tussen skouspelagtige berge en wingerde na die historiese Stellenbosch aangedurf. Wit geboue, grafte van bekendes en vele historiese bakens kleur die prentjie in van hoe ryk dié dorpie is! ’n Dorpie met ’n reusebydrae tot die Afrikaanse kultuur. Danie Craven se standbeeld pronk op die universiteitsgronde en die “Ik bek een Afrikaner”-gedenksteen is te vinde in die dorp. Met warm harte word ’n mens uitgenooi om ’n dieper insig tot ons kultuur en weë te verstaan.

Die volgende dag was Paarl op die lys. Om die jong, kreatiewe en ontwikkelende Afrikaanse taal te verstaan, is dít die plek om ’n besoek af te lê. Die Taalmonument toring statig bo die dorp uit met sy fasiliteite wat in puik kondisie is. Pragtige uitsigte oor die omringende gebied groet ’n mens soos jy om die taalstruktuur beweeg. Ná die Monument het ons die Taalmuseum besoek. Dit is hier in die eetkamer waar die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 gestig is. Hulle harde werk het ’n enorme bydrae gelewer tot die proses om Afrikaans as ’n amptelike taal te erken. Die belewenis om in dié vertrek te staan, kan nie beskryf word nie.

Kaapstad met sy vele kulturele lae en diep geskiedenis was die bestemming vir die volgende paar dae. Ons het verskeie toere van die FAK bygewoon, wat ons teruggeneem het na Jan van Riebeeck se aankoms. Die toere het verskeie historiese bakens ingesluit asook die plantryke Kompanjiestuin en interessante museums. Met kundige gidse is die geskiedenis in die hedendaagse kusstad ingekleur. Verskeie tydmilieus het lewendig geword terwyl ons deur die diverse strate gestap het. Dis ’n plek van samekoms, vanaf die Europeërs se aankoms in die 1600’s tot hedendaagse toeriste, kulture, en lande – ’n smeltpot. Tafelberg, ikoniese natuurbaken en werk van die Skepper, is die aankondiger van die Kaap – absoluut indrukwekkend.

Die laaste dag in die Kaap het ons in die eeue-oue Boschendal voetgeslaan. ’n Wandelpaadjie deur strome, wingerde en boorde het ons met natuurprag betower. Die berge was ’n bekoring vir die groep gewees.

Verrykend het ons die Kaap verlaat. ’n Reis in die Kaap neem ’n mens na die oorsprong van Afrikanererfenis. Daar is waarskynlik nie ’n beter manier om jou oorsprong van taal en kultuur te ervaar as in ’n wêreldklas stad met Kaapse wynlande en endemiese flora nie?