“Ek is opreg dankbaar dat ons Afrikanerjeug toegerus word om ons geliefde moedertaal te kan bevorder.” Só sê Hardus Louw, ’n lid van die graad 8-span van Kraaifontein Voortrekkers, nadat hy en sy span die besonderse geleentheid gehad het om die FAK se Suid-Kaap-kultuurnetwerk se unieke Taaldraai-toer te beleef.
Met hierdie sentiment het Louw nie net die gevoel van hom en die verkenners in sy span verwoord nie, maar die wese van hierdie toer perfek vasgevang: “Dankbaarheid.”
Juanine Kok, FAK-kultuurkoördineerder wat die toer aangebied het, sê dié toer was vanjaar vir haar ekstra spesiaal omdat sy dit in Afrikaans se eeufeesjaar met die jong Voortrekkers kon deel.
“Van Kaapland Voortrekkers se talle kampe vir hoërskoolleerlinge het die afgelope naweek plaasgevind, waar die graad 8’s ’n program Afrikaanse Taalgeskiedenis bygewoon het.
“Dit was wonderlik vir die FAK om tydens die Taaldraai-toer saam met die jonges wye draaie in en om die Paarl te gooi. Verskeie bakens is besoek wat verband hou met die taalstryd in die 1800’s toe Engelse en Nederlandse sprekers in ’n taalstryd gewikkel was te midde van die ontwaking van ’n nuwe taal wat deur Arnoldus Pannevis Afrikaans gedoop is,” sê Kok. · Lees die volledige artikel op die FAK Kultuurnetwerke: Suid se blad en besoek https://fak.org.za/kultuur-en-geskiedenistoere/ vir meer inligting oor toekomstige Erfenisavonture en -toere wat landwyd deur die FAK aangebied word.