Mediaverklaring

1 Oktober 2023

Onderwyseres, huisvrou, skrywer en volksmoeder.

Oumatjie Stoffberg (Francina Susanna Aletta, ook genoem Cinie) is deur lede van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnerwerke in Pretoria onthou by haar laaste rusplek in die Rebeccastraat begraafplaas in Pretoria-Wes op die 57ste herdenking van haar dood.

Deur die skoonmaak van haar graf, ’n krans te lê en haar graf te verfraai met die plant van plantjies, bring die FAK hulde aan ’n vrou wat diep spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenis getrap het.

Oumatjie Stoffberg se gelykenis kan op die tweede friestoneel in die historiese Voortrekkermonument gesien word, wat die oorhandiging van ’n Bybel aan Jacobus Uys uitbeeld en op haar 101ste verjaardag het die FAK aan hierdie uitnemende vrou ’n oorkonde toegeken as waardering vir haar onbaatsugtige liefde teenoor gesin, medemens, volk en taal.

Haar naam staan in die geskiedenisboeke opgeskryf saam met dié van Maria Kloppers en Johanna Malan, waar hulle ook, nes Oumatjie Stoffberg, betrokke was by die Abraham Kriel Kinderhuis. Oumatjie Stoffberg was die eerste huismoeder van hierdie kinderhuis.

Wat min mense dalk weet, is dat sy ook die koshuismoeder vir twee prominente ministers was. So was Ouma Stoffberg die koshuismoeder vir beide Jan Smuts, asook vir DF Malan en sy was op talle geleenthede ’n kampvegter vir onderwys in Afrikaans.

Later in haar lewe was sy ook aktief by politieke kwessies betrokke en was sy op 22 Junie 1940 nie net deel van die vroueoptog om verset te bied teen die Tweede Wêreldoorlog nie, maar was sy een van die drie vroue wat ’n versoekskrif, ’n brief wat vra dat Suid-Afrika neutraal sal bly tydens die oorlog, aan Genl. Smuts se adjunk minister, mnr. Jannie Hofmeyr oorhandig het.

Oumatjie Stoffberg het vele bande onderhou met die skryf van briewe en het soms tot 30 briewe per week geskryf. Briewe van vermaning en bemoediging het sy aan ’n wye netwerk vriende geskryf. Al haar briewe het sy onderteken as “Oumatjie Stoffberg”, vanweë haar erenaam.

Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK se kultuurnetwerke in die noordelike streke het baie respek vir Oumatjie Stoffberg.

“Sy is waarlik ’n fantastiese vrou, ’n krag om mee te reken. Dit is so belangrik om te onthou van historiese figure, want in ons eie geskiedenis lê daar soveel hoop, soveel inspirasie en soveel rolmodelle,” sê Müller.

Die publiek kan ook betrokke raak by projekte soos dié, deur aan te sluit by hul naaste FAK kultuurnetwerk. Kontak gerus vir Barry Müller vir meer inligting by barry@kultuurtuiste.org.za.