Mediaverklaring

28 Februarie 2023

Parow gemeenskap ontdek nuwe waardering vir erfenis

Inwoners uit Parow het op Saterdag 25 Februarie saam met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerk in die Kaap, die graf van ’n ou legende in dié omgewing opgeknap. Kaptein Parow, waarna die omgewing vernoem is, is nou weer skoon vir die 190-jaar herdenking van sy geboortedag op 1 Maart 1833.

Parow het aan die suidpunt van Afrika te lande gekom as deel van sy beroep as skeepskaptein en het diep spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenis getrap.

“In elke dorp of stad is ’n storie van pioniers en wordingsgeskiedenis opgesluit wat vertel moet word.”

Só sê Elizma Smith, die kultuurkoördineerder van die Kaapprovinsies.

“Om jou leefwêreld se storie te ken bring trots en waardering. Dit is wanneer die inwoners van ’n gemeenskap aktief betrokke begin raak en hande vat om self die bakens en plekke wat hierdie stories vertel, te help skoonmaak en in stand te hou sodat ons stukkie vir stukkie verval en verwaarlosing kan teenwerk en erfenis kan bewaar vir die geslagte na ons,” gaan Smith voort.

Skeepsvaart en seelui kan gevind word in die oorsprong van baie stories uit die ou Kaap. Só was dit ook die geval met die verhaal van Johan Heinrich Ferdinand Parow wat 1833 in Pruise gebore is. Johan Parow het ’n loopbaan as skeepskaptein gevolg. Een van sy talle seevaarte neem hom ook na die suidpunt van Afrika.

In 1865 beleef hy die volle mag van die Kaap van Storms, toe die skoener onder sy bevel, die Kehrwieder, saam met 18 ander skepe in Tafelbaai skipbreuk gely het.

In die Kaap maak hy kennis met die Nederlandse gesin, Timmerman, wat hom help om weer op die been te kom na die skeepsramp. Hy besluit om in die Kaap te bly en nie terug te keer na Pruise nie en hy trou met die dogter van die Timmerman gesin, Johanna Wilhelmina.

Hy tree op as bevelvoerder oor ’n kusvaarder tussen Tafelbaai en die Weskus, maar ondersoek ook ander geleenthede wat hom lei na ’n area naby Kaapstad. Hy vind dat hierdie gebied besonder geskik is as weiding, en hy begin handel dryf met grootvee en vestig hom hier. Dit lei later tot die stigting van ’n landsindikaat met vier vennote, hyself, skeepskaptein Schramberg en menere Weimar en Wrensch. Erwe word uitgesit en ’n woongebied ontwikkel. Die area word vandag Parow genoem, een van die noordelike voorstede van Kaapstad. Vier strate in Parow dra ook vandag nog elkeen die name van een van die lede van die landsindikaat.

Kaptein Parow sterf op 4 Desember 1910 as ’n welvarende man op sy plaas Cassibelle in Maitland en word begrawe in die Woltemade begraafplaas naby Kaapstad by sy vrou wat reeds in 1900 oorlede is. Die huwelik was kinderloos. Op dieselfde erf in die begraafplaas is ook die grafte van Johan Hendrik en Johanna Elizabeth Timmerman, Johan Peter Timmerman asook Johanna Chatarina Maynard (neé Timmerman) wat waarskynlik kaptein Parow se skoonouers en ander familielede was. Die gebruik van ankers op grafstene bevestig die betrokkenheid by skeepsvaart.

Die FAK se Kultuurnetwerke maak elke dag ’n verksil in die gemeenskap. Jy kan ook betrokke raak by erfenisbewaring deur vir Elizma Smith te kontak by elizma@kultuurtuiste.org.za.