Volg in die voetspore van ’n volksreus

Deur: Barend Groenewald

“Mag die Afrikaanse stam, van wie die toekoms nog altyd vol hoop was, in die einde opgroei tot ’n kragtige boom” – Paul Kruger

Die invloed wat Paul Kruger op die verloop van die Afrikaner se geskiedenis gehad het, is bykans onmeetbaar en die FAK bied met ’n unieke toer die geleentheid om hierdie volksreus in sy handel en wandel te beleef. Dié FAK-toer deur Pretoria doen by verskeie besienswaardighede aan om Paul Kruger, die laaste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), te herdenk: Melrosehuis, die Ou Raadsaal, Kerkplein, Kruger se huis, die Krugerkerk oorkant die straat, asook die Heldeakker in die voormalige Kerkstraat. Die toer word afgesluit met ’n besoek aan die Kruger-sterfkamer in die Kruger-galery van die Voortrekkermonument.

Die besienswaardighede op die toer het belangrike geskiedkundige waarde. In Melrosehuis, ’n statige Victoriaanse herehuis, is die Vrede van Vereeniging onderteken. Op Kerkplein is die Ou Raadsaal van groot belang, asook Kruger se standbeeld. Dit is vanuit dié Ou Raadsaal waar dié groot gees regeer het.

Daarna vertrek die toer na Krugerhuis. Hier het Paul Kruger vanaf 1884 tot 1901 saam met sy geliefde, tant Gezina, gewoon. Ná haar afsterwe het die huis verskillende rolle vertolk, insluitend as kraaminrigting vir die Bond Van Afrikaanse Moeders.

Oorkant die huis staan die Gereformeerde Krugerkerk. Kruger het die hoeksteen van dié kerk op 10 Oktober 1896, op sy verjaardag, gelê. Die kerk is amptelik op Kersdag in 1897 in gebruik geneem. ’n Merkwaardige eienskap van die ZAR-president was dat hy nie net as ’n politieke en militêre leier bekend gestaan het nie, maar ook as ’n geestelike leier. By die afwesigheid van die predikant het pres. Kruger dikwels die erediens gelei.

Daarna word die graf van dié merkwaardige leier in die Heldeakker in Pretoria-Wes besoek. Kruger en Gezina is hier saam met verskeie helde uit Suid-Afrika se geskiedenis, insluitend Andries Pretorius, Jopie Fourie, Eugène Marais en J.H. Pierneef begrawe. Die FAK, lede van die publiek en verskeie ander kultuurorganisasies hou die Heldeakker in ’n goeie toestand, sodat enigiemand dit kan besoek om hulde aan ons helde te bring.

Vanaf die Heldeakker word daar na die Voortrekkermonument gereis. Die Monument is die eindpunt, maar tog ook ’n beginpunt, want dit is Kruger wat voorgestel het dat die Monument gebou moet word. Hoogtepunte uit sy jonger dae word ook hier uitgebeeld. Vervolgens word die Kruger-sterfkamer besoek, ’n replika van die kamer in Clarens, Switserland, waar hy sy laaste asem uitgeblaas het. Oorspronklike stukke en meubels wat in 2024, gedurende die 120ste herdenking van sy afsterwe vanaf Switserland na Suid-Afrika gebring is, kan ook besigtig word.

Die Paul Kruger-toer bied ’n wonderlike geleentheid om die doen en late van een van ons grootste helde beter te verstaan. Dit is nie net ’n toer nie, dis ’n reis deur die lewe van ’n ware leier.