Geloofsreis van ‘n vredemaker

Deur: Barend Groenewald

Die Paul Kruger-toer deur Rustenburg gee ’n mens nie net ’n belangrike blik op die lewe van Paul Kruger nie, maar bied veral belangrike insig in ’n grootse karaktertrek van dié held in ons geskiedenis – geloof. Dié boorling van die plaas Bulhoek, noord van Zoutpansdrift aan die Suurberge, was nie net vir die eerste tien jaar van sy lewe ’n veewagter wat veral in droogtetye gereeld saam met sy familie rondgetrek het nie, maar hy het ’n gebrekkige skoolopleiding ten spyt, ’n diepgaande Skrifkennis gehad. Iets wat ’n rigsnoer dwarsdeur sy lewe sou wees.

Gedurende sy dae as boer in die Magaliesberg het Kruger, maar ook die gemeenskap, verskeie geloofsmylpale beleef wat ’n kringuitwerking op die land se geskiedenis sou hê. Die toer begin op sy eerste plaas, Waterkloof, waar hy hom in 1841 gevestig het. Maak ’n mens jou oë toe, kan jy verstaan waarom dié vreedsame staatsman in die rustige bosveld tuisgevoel het. Waterkloof is vandag ’n lodge met kamers wat na sy geliefde eggenoot, Gezina, en haar dogters vernoem is.

Die Versoeningsbeeld voor die Hervormde Kerk in Rustenburg weerspieël ’n mespuntoomblik in die geskiedenis. ’n Ontlonte wedywering tussen vrede en onrus. Die leiers Andries Pretorius en Hendrik Potgieter wou eenheid in Voortrekkergeledere bring, wat tot die 1852-samekoms in Rustenburg gelei het. ’n Ontevrede Potgieter-geselskap het ’n gespanne atmosfeer na die tafel gebring, maar ná twee dae van onderhandeling versoek Potgieter en Pretorius, hande in mekaar gevou, voor ’n oopgeslane Bybel. Kruger moes dikwels as vredemaker en onderhandelaar tussen dié twee leiers optree.

Ons volgende besoekpunt, die Krugerstandbeeld, se storie strek veel wyer as die destydse Transvaal. Die peinsende teleurstelling op Kruger se gesig is kunstig deur die Fransman Jean Georges Archard vasgevang. Die inspirasie vir die beeld waar Kruger in ’n stoel sit: sy ballingskap. Die beeld is op 16 Desember 1921 deur genl. Jan Smuts onthul met die woorde: “Ek hoop dat die lewe van hierdie man ons tot voorbeeld sal strek tot in die laaste nageslag.”

Ons besoek die indrukwekkende NG Kerk waar ’n mens weer ’n waardering vir die statige argitektuur van ouds kry. Hierdie is nie die enigste belangrike kerkmonument op dié toer nie. Ons besoek ook die Seringboom waar die Gereformeerde Kerk in 1859 gestig is. Kruger was een van dié kerk se eerste lidmate.

Boekenhoutfontein, Kruger se laaste plaas, is ons laaste besoekpunt. ’n Gedenkklip, tussen berge, is opgerig waar Kruger tot God gebid het. ’n Mens kan net dink hoeveel kosbare tyd Kruger biddend tussen die klippe, in die teenwoordigheid van die Skepper, omring deur die beeldskone natuur, deurgebring het.

Hierdie besonderse Krugerreis neem jou deur die natuur, en vertel ’n diepgewortelde verhaal van beproewing en geloof, veerkragtigheid en versoening. Dis hier waar jy ’n belangrike eienskap van Kruger leer ken en ons voorgeslagte se geloof beter verstaan. ’n Getuienis van ’n volk se geestelike afhanklikheid van ons Hemelse Vader.

Groep by Paul Kruger Rustenburg-toer