Mediaverklaring

8 November 2023

“Nie om gedien te word nie, maar om te dien.”

Dié woorde staan op die grafsteen van Paul Roos, die rugbylegende waarna die Paul Roos Gymnasium vernoem is. 50 jong rugbyspelers het dié naweek die Onder-Pappegaaiberg-begraafplaas by Stellenbosch saam met personeel van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) besoek, die laaste rusplek van drie van Suid-Afrika se grootste rugbylegendes.

Dié seuns, op die drempel van man-word, almal met drome om eendag die geleentheid te kry om die groen trui aan te trek en hulle land trots te maak, het inspirasie gevind by August Frederick Markötter (Oubaas Mark), Danie Craven en Paul Roos, wat gesamentlik oor ’n tydperk van 90 jaar tussen 1903 en 1993 groot impak gehad het op Suid-Afrikaanse rugby en bygedra het tot wêreldrugby.

Riley Norton, ’n graad 11-leerling van die Paul Roos Gimnasium, was werklik geïnspireer deur die uitstappie.

“Dit was fantasties om meer te kon leer van ons geskiedenis en voorgangers. Dit is so inspirerend om te besef dat jy nie net vir die span speel nie, maar vir almal wat voor ons was en ook tot die Paul Roos-nalatenskap bygedra het. Ons is deel van iets groter.”

Norton vertel verder dat hy vir altyd sal onthou hoe ryk ons geskiedenis is.

Juanine Kok, kultuurorganiseerder van die FAK in die Kaapse streek, het gesê sy is dankbaar vir nalatenskap van elkeen van die drie rugbylegendes.

“Hul opoffering en toewyding, nie net vir die spel van rugby nie, maar vir dit wat hulle vir hul medemens gedoen het in hul tyd in ons geskiedenis, is voorbeelde om na te volg en waaruit ons inspirasie kan kry. Om die ‎kringetjie rugbyspelers rondom Paul Roos se graf te aanskou terwyl hulle deur die rugbyafrigter ‎gemotiveer word tot iets dieper as net die spel van rugby, gee my hoop vir ons jeug.”

Markötter, afrigter en later nasionale keurder het die Stellenbosch rugbyklub uitgebou in sy tyd het tot die grootste ter wêreld. Onder Markötter se afrigting is 50 Springbokke en 150 provinsiale spelers opgelewer. Hy het ook die 3-4-1 skrumformasie gewild gemaak en spelers afgerig om die formasie te swaai sodat die 8ste man met die bal kon wegbreek.

Craven, afrigter, langsdienende president van Suid-Afrikaanse Rugbyraad en lid van die internasionale Rugbyraad, wat die duikaangee gevestig het, is in sy tyd as die beste skrumskakel ter wêreld beskou. Sy afrigtershandleidings het daartoe bygedra dat rugby vandag goeie Afrikaanse terminologie het.

Roos was die kaptein van die eerste Suid-Afrikaanse oorsese toer in 1906 na Brittanje. Nie net het hy daarin geslaag om slegs vier jaar na die Anglo-Boereoorlog Afrikaanse en Engelssprekende spelers in sy eie span te verenig nie, maar hy het tydens die 1906-toer deurlopend daaraan gewerk om verhoudings te herstel tussen die twee lande. So groot was die agting vir hom internasionaal dat hy na ’n oorwinning teen Wallis nie net deur sy eie spanmaats nie, maar ook deur Walliese ondersteuners van die veld afgedra is.

Die jeug smag na ’n konneksie met geskiedenis en hul kultuurerfenis. Deur aanknooppunte tussen hul belangstellings en die geskiedenis te identifiseer, kan die jeug geïnspireer word daardeur en daarop voortbou om vir die toekoms hoop te skep.