Die pionier wat Afrikaans tot ’n hoër vlak met sy drukkery gedryf het, is destyds sommer “Dokter” genoem.

Op 21 November 1953 is Daniël Francois du Toit in die Paarl gebore en was in 1875 een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).

Hy het die bynaam “Dokter” gekry omdat hy altyd ’n medisynetassie by hom gedra het. Een van die ander GRA-lede was ook Daniël Francois du Toit. Sy bynaam was oom Lokomotief, juis om hierdie twee, wat ook familie was, van mekaar te onderskei.

DF du Toit (Dokter) het grootgeword op die plaas Naauwbepaald, vandag bekend as Valencia, in Daljosafat buite die Paarl. Naauwbepaald is langs Kleinbosch, die Du Toit-familieplaas waar ander lede van die GRA grootgeword het. ’n Gedenksteen op die pad tussen die twee plase bring vandag hulde aan die agt stigterslede van die GRA en verwys veral na “Dokter” se bydrae.

DF du Toit was ’n drukker van beroep. Hy het die GRA se drukkery bestuur wat die drukwerk van die organisasie se spreekbuis, Die Afrikaanse Patriot, en alle ander publikasies wat deur die GRA uitgegee is, behartig het. Voorbeelde van hierdie publikasies sluit in Di Afrikaanse Almanak, Di Koningin fan Skeba en Eerste Afrikaanse Printjies boeki ver soet kinders. Die drukkery het bekend gestaan as De Drukpers Maatschappij DF du Toit & Kie Beperkt.

Die drukkery is aanvanklik bedryf vanuit die huis van Gideon Malherbe, maar toe die ruimte te klein geword het, is dit verskuif na ’n Victoriaanse dubbelverdiepinggebou, bekend as die Patriotgebou, wat vandag nog in die Paarl bestaan. Die oorspronklike drukpers is op uitstalling in Gideon Malherbe se huis, vandag die Afrikaanse Taalmuseum. Uit hierdie klein begin het die hele Afrikaanse pers- en uitgewerswese sy beslag gekry.

Nadat die GRA in 1878 feitlik ophou bestaan het, was dit “Dokter” wat as bestuurder van die drukkery met die taalstryd voortgegaan het. Tussen 1878 en 1906 het sowat 80 boeke hier verskyn. Van 1896 het hy ook die drukwerk van die tydskrif Ons Klyntji behartig.

Hy het ook die Paarl-gemeenskap gedien as lid van die munisipale raad en ook later as burgermeester. Hierdie taalstryder is op 3 April 1918 oorlede en in die familiebegraafplaas op Kleinbosch begrawe.

Tydens die FAK se taaltoer in die Paarl word ook die Taalmuseum, GRA-gedenksteen en die Patriotgebou besoek. Stuur vir ons ’n e-pos na Kaapstad@kultuurtuiste.org.za om ’n taaltoer te bespreek. Ons deel graag interessante staaltjies oor die GRA en sy lede by die talle bakens wat vandag nog bestaan.