Mediaverklaring

5 Februarie 2024

In die Heldeakker rus helde wat diep spore deur Suid-Afrika getrap het. Sonder dat ons weet, het hierdie helde bygedra tot wie ons vandag is.

Buiten vir die bekende figure wat in hierdie begraafplaas rus, is daar vele ander wie se bydrae ook gevier behoort te word.

Met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se mees onlangse besoek en skoonmaakaksie in die Heldeakker, is die ou geskiedenis van die ontstaan van Pretoria weer ontdek.

Die geskiedenis van Pretoria is redelik bekend met MW Pretorius, seun van die held van Bloedrivier, Andries Pretorius, wat die stad gestig en na sy pa vernoem het. Die storie begin egter nie by ’n Andries Pretorius nie, maar eerder by ’n Andries Petrus Jacobus van der Walt.

“Van der Walt het ’n groot rol in die vorming van Pretoria gespeel. Nie net het hy bygedra tot die vorming van Fonteinedal (vandag bekend as Fonteinesirkel) nie, maar hy was ook die eerste veldkornet van Pretoria.”

Só vertel Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK in die noordelike streke van Suid-Afrika.

Andries Petrus Jakobus van der Walt is in Graaff-Reinet op 9 Oktober 1814 gebore en oorlede in die Pretoria-distrik op 16 November 1861. Hy was die veldkommandant van Winburg in die Oranje-Vrystaat (1843). Weens sy deelname aan die Slag van Boomplaats in Augustus 1848 word hy beboet en finansieel geruïneer, waarna hy hom met sy gesin aan die Apiesrivier in Transvaal gaan vestig het.

Hy was een van die eerste setlaars van Pretoria en het ’n gedeelte van die plaas Elandspoort gekoop.

Dit is hierdie grond wat hy later aan President MW Pretorius verkoop het.

“Pretorius het die naam Pretoria aan die plaas gegee en die grond het gestrek tot by ’n gedeelte van ’n plaas Daspoort, wat reeds aan Pretorius behoort het,” gaan Rademeyer voort.

Die landskap in die Elandspoort, suid van Pretoria, waar die Apiesrivier deur die Fonteinedal vloei, word vandag oorheers deur die hoofgebou van die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) wat, gestut deur ’n reuse pilaar, oor die ooshange van die poort uitstrek. Oorkant die poort, skuins onder hierdie moderne betonstruktuur, het Andries Petrus Jakobus van der Walt in ongeveer 1850 een van die vroegste kliphuise van die toekomstige dorp Pretoria gebou.

Raak betrokke by die Heldeakker-begraafplaas en laat stories soos hierdie nie vergete gaan nie. Op 2 Maart 2024 is die Heldeakker weer van 09:00 tot 13:00 oop vir die publiek om te besoek.

Volg gerus die skakel hieronder om meer oor ons Afrikanergeskiedenis te lees: