Samestellers: Stefaans Coetzee en Anchen Conradie

Naledi-Uitgewers

Stefaans Coetzee doen dit weer! Minder as ’n jaar nadat Op pad na Grysberg sy verskyning op die rakke gemaak het, maak Sewe keer sondig opslae met 42 skrywers – twee skrywers per kortverhaal.

Wag, voor ek die wa voor die perde inspan met dié uitsonderlike spanningsbundel, eers ’n bietjie agtergrond.

Stefaans Coetzee is ’n passievolle leser, self ’n skrywer van vele boeke en iemand wat skrywers in die gemeenskap graag ondersteun. In 2023 wen Stefaans Netwerk24 se “Smaakmaker” (infulencer)-toekenning vir die persoon wat die aktiefste boeke op sosiale media bemark. Anchen Conradie, medesamesteller van Sewe keer sondig, is ook vir dié toekenning genomineer.

Stefaans is ’n vars bries in die boekbedryf deur sy eksperimentele projekte wat voorheen as onmoontlik of ondoenbaar beskou is. Kan 22 skrywers saam aan een roman skryf? As jy iemand ’n paar jaar gelede gevra het, sou die antwoord waarskynlik wees: “Ek dink nie so nie.”

Om te skryf, word bestempel as ’n “eensame” en “lang proses” waar die skrywer vir maande aaneen woeker met sy/haar eie gedagtes en idees. Mense mag miskien dink om saam met iemand hierdie sterk individualistiese kuns te probeer aanpak, klink soos ’n groeptaak in hoërskool waarvoor die meeste skrywers hul neus sal optrek.

Stefaans het ons verkeerd bewys. In 2023 verskyn Op pad na Grysberg met 22 van Suid-Afrika se topskrywers wat saamskryf aan een roman. Kort op sy hakke volg Sewe keer sondig waar skrywers twee-twee aan een kortverhaal geskaaf het.

Die opdrag was eenvoudig genoeg: die tema is die sewe doodsondes, hier is die persoon saam met wie jy moet skryf – mag geluk aan julle kant wees!

En hét dié skrywers nou beïndruk. Hoe die verskillende skrywers die tema aanpak en op ongelooflike kreatiewe wyses hulle eie maak, is genoeg om enige leser die bladsye sonder breuke te laat omblaai.

In die voorwoord skryf Stefaans dat hy gewonder het wat sou gebeur as ’n romanseskrywer saam met ’n speurverhaalskrywer werk; en as ’n opkomende skrywer saam met ’n meester skryf. Nou hoef die leser nie meer te wonder nie.

Die groot verskeidenheid uiteenlopende skrywers en hul genres, maak van elke kortverhaal byna ’n mini-roman op sy eie. Dit sal miskien vir die leser wys wees om na elke verhaal of twee eers ’n breuk te vat, sodat die verskil in skryfstyle, temas en genres nie die leser oorweldig of deurmekaar maak nie.

Hierdie spanningsbundel is beslis ook nie vir laerskoolleerders nie! Net soos enige goeie speurverhaal of riller, is daar sommige grafiese tonele wat die sensitiewe leser kan ontstel. Aan die teenkant, as jy van ’n spanningsvolle, speur- en rilstorie hou, is hierdie die bundel om te lees.

Hierdie bundel word sterk aanbeveel vir enige leser wat die speurgenre geniet, veral dié wat daarvan hou om te lees hoe die genre getoets kan word. Sewe keer sondig wys beslis dat skrywers kán saamwerk aan ’n projek en daarmee TOOR.

Anneke Langner