Mediaverklaring

6 April 2024

372 jaar ná die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap, word sy nalatenskap steeds gevier.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) hou geskiedenis lewend deur dit kreatief aan die jeug oor te dra. Die FAK vier jaarliks Stigtingsdag, op 6 April, toe Jan van Riebeeck met sy drie skepe aan die Kaap geland het.

’n Kranslegging om eer te betoon aan die Van Riebeecks by hul standbeelde in Adderleystraat is maar net die begin. Dit is die skattejag in die Kompanjiestuine wat gevolg het, wat die avontuurlustigstes van Kaapstad en die omliggende areas weer hul herkoms laat ontdek het. Verskeie Voortrekkerspanne het hierdie geleentheid bygewoon.

Jaraka Myburgh het saam met haar gesin die Stigtingsdag-vieringe bygewoon.

“Die kinders word nie meer in skole geleer van waar ons vandaan kom en hoe Kaapstad ontstaan het nie. As jy nie weet waarvandaan jy kom nie, hoe gaan jy weet hoe die toekoms lyk? Dit is vir my wonderlik om deur die tuine met die kinders te stap en alles vir die kinders uit te wys. Dit is al in die sestienhonderds hier aangelê en dit is nog steeds hier. Dit wys jou net die kosbare skatte wat ons in ons land het om te bewaar. Ek is baie trots daarop om dit met my kinders te deel,” sê Myburgh.

Hané Myburgh is tans in graad 6. Saam met haar jonger boeties, Abri (graad 4) en Riaan (graad 1), het hulle as gesin hierdie avontuur meegemaak.

“Dit was lekker om meer van Jan van Riebeeck te leer. Ek het baie geleer van die tuin en die plantegroei,” sê Abri.

Die standbeeld van Jan van Riebeeck, oftewel Johan van Riebeeck soos dit op sy standbeeld verskyn, is op 18 Mei 1899 onthul. Jan staan fier en regop op ’n voetstuk van meer as 4 meter met sy rug na die see; sy blik op Tafelberg. Dieselfde gesig wat die bemanning van die Drommedaris op 6 April 1652 aanskou het toe die drie skepe Tafelbaai binnegevaar het.

Die Kompanjiestuin wat lewe van eekhorings wat baljaar in die beddings en bome, is vandag ’n getuienis van Jan en sy bemanning wat hul VOC-opdrag, naamlik om ’n tuin aan te lê om vars groente en vrugte aan verbygaande skepe te voorsien, gestand gedoen het.

Elizma Smith, kultuurkoördineerder van die FAK in die Suidelike streke van die land, vertel van verskeie skatte wat in hierdie tuine versteek is en wag om ontdek te word.

“Hierdie skatte, wat behoue gebly het, soos Jan van Riebeeck se saffraanpeerboom, die leeupoorthekke, die put en die slaweklok, is bakens waarby die skattejagters moes aandoen om die jag te voltooi,” sê Smith.

“Skatte soos die jong appelboompie, wat in die groentetuin gevind kan word, is ’n baie besondere appelboom. Dis die witte wijnappel wat destyds deur Jan van Riebeeck hier gevestig is. Die eerste appel is op 17 April 1662 in die tuin gepluk. Deur navorsing en teling is hierdie variëteit in die onlangse verlede weer in die tuin hervestig en die boompie groei mooi. Die druiweprieel herinner aan die inskrywing in Jan van Riebeeck se dagboek op 2 Februarie 1659 toe hy geskryf het dat die eerste wyn gemaak is aan die Kaap, die begindatum van die Suid-Afrikaanse wynbedryf,” sê Smith.

Smith vertel ook van die roostuin, sirkelvormig om ’n suurlemoenboom uitgelê wat ’n “skouspel van kleur” is.

Jan van Riebeeck het in sy dagboek geskryf dat die eerste Hollandse roos op 1 November 1659 in die Kompanjiestuin gepluk is. Rose het destyds volop oral in die tuin gegroei en die Hollanders het rooswater oral heen uitgevoer.

Hierdie jong leiers van die toekoms sal verseker nie vergeet waar hulle vandaan kom nie. Deur speel, leer kinders om te onthou en word die liefde vir kultuurerfenis soos ’n vlammetjie aangesteek.

Meer as 370 jaar later vier ons steeds Jan van Riebeeck, wat maar net ’n kort tydjie aan die Kaap gewoon het. Die FAK onthou ons voorgangers, wat die weg vir ons gebaan het om daardie werk vandag weer voort te sit.

In 2024 bou en doen die FAK steeds soos wat die bemanning destyds gedoen het. Saam kan ons ’n verskil maak en verseker dat ons kosbare kultuurerfenis nie verlore gaan nie.

Jy kan ook ’n verskil maak. Kontak gerus https://fak.org.za/kultuurnetwerke/ om betrokke te raak by jou naaste kultuurnetwerk.