Sytze Wopkes Wierda was ‘n Nederlandse argitek en ingenieur wat op 28 Februarie 1839 in Friesland, Nederland gebore is, vanjaar 185 jaar gelede. Hy is in 1911 oorlede in Seepunt en begrawe in die Maitland begraafplaas naby Kaapstad. Personeellede van die FAK kantoor in die Kaap het op die herdenking van sy geboortedag sy graf besoek, dit skoon gemaak en blomme gelê.

Ervaring in die konstruksie van treinspore en ander publieke werke, skrynwerk en die ontwerp van talle kerke in Nederland het handig te pas gekom toe president Paul Kruger hom na Suid-Afrika laat kom het en hom in 1887 aangestel het as Staatsingenieur en Argitek van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Sy opdrag was die ontwerp van openbare geboue met ‘n unieke Suid-Afrikaanse styl en Nederlandse wortels.

Sytze Wierda het gevolglik in die laat 19de eeu en vroeë 20ste eeu ‘n groot gespeel in die openbare argitektuur veral in die ou ZAR waar die nalatenskap van sy werk in indrukwekkende openbare geboue vandag nog sigbaar is. Hy was verantwoordelik vir geboue soos die Ou Raadsaal en Paleis van Justisie by Kerkplein in Pretoria.

Ook buite Pretoria het hy geboue en strukture ontwerp soos die hoofposkantoor in Johannesburg en die magistraatskantore in Krugersdorp en Klerksdorp. Dit was ook hy wat die Paardekraal monument ontwerp het.

Wierda is deur die ZAR regering verder getaak met die ontwikkeling van die vervoerstelsel. Hy het brûe ontwerp en gebou oor die Apiesrivier. Hy was ook verantwoordelik vir ontwerp en bou van die eerste staalburg in die ZAR, vandag bekend as die Wierdabrug oor die Sesmylspruit. Hierdie brug is in 1965 tot historiese monument verklaar.

Die voorstad Wierdapark is na hom vernoem. Sytze Wopkes Wierda sterf op 10 Desember 1911 in die huis van sy skoonseun in Seepunt. Sy grafsteen staan vandag nog stewig, sekuur en netjies soos die geboue wat hy ontwerp het.