Die timpani, wat ook bekendstaan as ’n keteltrom, is deel van die familie van slaginstrumente wat in ’n simfonieorkes voorkom.

Dit is ’n tipe trom wat bestaan uit ’n membraan wat as ’n kop bekendstaan, uitgestrek oor ’n groot bak wat gewoonlik van koper gemaak word. Die meeste moderne keteltromme word met pedale bespeel en staan bekend as ’n pedaaltimpani. Dit kan vinnig en akkuraat ingestel word vir spesifieke note deur vaardige spelers met die gebruik van ’n beweeglike voetpedaal. Hulle word bespeel deur die kop te slaan met ’n gespesialiseerde tromstok, wat as ’n timpanistok of timpanihamer bekendstaan.

Timpani het ontstaan uit die militêre tromme en militêre orkeste uit die laaste derde van die 18de eeu. Vandag word dit gebruik in verskillende tipes ensembles, onder meer konsertorkeste, marsjeerorkeste en selfs in rock-orkeste.

Timpani is ’n Italiaanse meervoud, waarvan die enkelvoud timpano is. Daar word egter hoofsaaklik daarna verwys as timpani of keteltromme. Die Italiaanse woord is van Latyn afkomstig; die Latynse woord tympanum is die Latynse vorm van die Griekse woord tumpana, wat “handtrom” beteken. Op sy beurt is dit afkomstig van die Griekse werkwoord tupto wat “slaan” of “tref” beteken. Hoewel die woord timpani in die Engelse taal erken word, verkies die meeste mense om dit ’n keteltrom te noem. Die tympanum is ’n vel wat aan een kant oor ’n houtraam gerek word. Dit is die helfte so groot soos ’n symphonia-trom en lyk soos ’n sif. Soos die symphonia-trom word dit met ’n tromstok bespeel.

Die vorm en grootte van die bak van die keteltrom bepaal sy toongehalte; die halfronde bak bring ’n helderder toongehalte voort en die paraboliese bak ’n donkerder toongehalte. Moderne keteltromme word hoofsaaklik uit koper vervaardig weens die doeltreffende regulering van interne en eksterne temperature in vergelyking met veselglas en aluminium. Die grootste keteltromme is 84 cm groot en die kleinstes, wat as piccoli timpani bekendstaan, omtrent 30 cm of kleiner.

Die mees algemene weergawe wat vandag gebruik word, is die pedaal-keteltrom, wat maak dat die spanning van die kop deur ’n pedaalmegamisme verstel kan word. Gewoonlik word die pedaal aan die spanningskroewe verbind deur middel van ’n samestelling van gegote metaal of metaalstawe wat as die “spinnekop” bekendstaan.

Die meeste skoolorkeste, of orkeste onderkant universiteitsvlak, gebruik goedkoper en meer duursame keteltromme met bakke wat van koper, veselglas of aluminium vervaardig word. Die meganiese dele word binne die raam en bak gehuisves. Hulle kan sommige van die pedaalmeganismes gebruik, maar die gebalanseerde aksie is die gewildste, gevolg deur die wrywing-koppelaaraksie. Baie professionele keteltromspelers maak gebruik van hierdie tromme vir buitelugoptredes as gevolg van hul duursaamheid en ligter massa. Die pedaal is in die middel van die trom self.

Op die ketting-keteltrom word die spanningstawe aan mekaar gekoppel deur ’n rollerketting, baie soos dié van ’n fiets. Sommige vervaardigers gebruik egter ander materiaal, onder meer staalkabels. Met hierdie stelsels kan die spanningskroewe met een handvatsel stywer of slapper gestel word. Hoewel dit minder algemeen voorkom, kan ketting- en kabeltromme ook nog prakties aangewend word. Professionele spelers gebruik soms besonder groot kabel- of kettingketeltromme vir lae of hoë note.

Die eerste opgetekende gebruik van keteltromme was in antieke tye toe dit deur die Hebreërs in godsdienstige rituele gebruik is. Die Moon of Pejeng, die grootste enkel-gegote bronsketeltrom ter wêreld, is meer as 2000 jaar oud. Dit is die grootste oorblyfsel uit die Suidoos-Asiese Bronstydperk. Die trom staan in die Puran Penatran Sasih-tempel wat in Bali in Indonesië geleë is.

Geen musiek wat voor die 16de eeu vir keteltromme geskryf is, bestaan nie aangesien die tegniek en repertorium mondelings oorgedra is en geheim gehou is. Die eerste voorbeeld van musiek wat vir ’n trompet en ’n keteltrom geskryf is, was aan die begin van Claudio Monteverdi se opera L’Orfeo. In die barok-era het Johann Sebastian Bach ook sekulêre kantate geskryf; ’n vokale komposisie waarin trompette en keteltromme op die voorgrond was. Hy het hierdie stuk verwerk in die eerste deel van sy Kersoratorium. Mozart en Haydn het heelwat musiek vir keteltromme geskryf en dit ook in hul simfonieë ingesluit. Nog ’n komponis wat van keteltromme gebruik gemaak het, was die Franse komponis Hector Berlioz.

Die keteltrom is later ook in ander musiekgenres gebruik, onder meer in militêre orkeste, wat veselglastromme begin gebruik het omdat dit ligter is om te dra. Die gebruik van keteltromme in militêre orkeste het egter in die 1970’s en 1980’s begin afneem. Keteltromme is egter van die 1960’s af ook in pop- en rock-musiek gebruik. Onder die treffers waarin dit voorkom, is “Wouldn’t it be nice?”, van The Beach Boys, “Under the moon of love” van Showaddywaddy, “Talk to me” van Stevie Nicks, “Life in a northern town” van The Dream Academy en “Brilliant disguise” van Bruce Springsteen. Kort voordat Roy Orbison in 1988 oorlede is, het hy die album Mystery girl opgeneem. Die eerste enkelsnit vanaf hierdie album, “You got it”, was ’n treffer na sy dood en die keteltromme kan duidelik in die refrein van hierdie liedjie gehoor word.

Daantjie Badenhorst