Afrikaanse musiek is omtrent net so oud soos die taal self; die eerste FAK-sangbundel is in 1937 gepubliseer en die eerste kontemporêre Afrikaanse liedjies het omtrent dieselfde tyd verskyn. Hier is ’n honderd van die grootste kontemporêre Afrikaanse treffers van die afgelope honderd jaar; die “volksliedjies” wat in die oorspronklike FAK-sangbundel voorgekom het, word nie hierby ingesluit nie omdat daar nie met sekerheid gesê kan word wie die oorspronklike kunstenaar of groep was wat dit opgeneem het nie. Die lys bevat uiteenlopende genres van Afrikaanse musiek, onder meer kinderliedjies en grensverskuiwende protesmusiek. Hier is die lys in alfabetiese volgorde, met die naam van die kunstenaar of groep wat dit gewild gemaak het, of die komponis/te daarvan.
1. “Agter elke man” – Steve Hofmeyr
Steve Hofmeyr se deurbraak in die vermaaklikheidsbedryf het gekom toe hy die rol van Bruce Beyers in Agter elke man vertolk het. Hy het in 1989 sy eerste langspeelplaat, met hoofsaaklik Engelse liedjies en twee Afrikaanse snitte vrygestel. Met sy tweede album in 1990 het hy al hoe meer Afrikaanse liedjies ingesluit. Een daarvan was “Agter elke man”, wat die temaliedjie van die rolprent gebaseer op die televisiereeks geword het.
2. “Al lê die berge nog so blou” – Johannes Kerkorrel
Hoewel dit ’n ou bekende volksliedjie is wat al deur verskeie kunstenaars opgeneem is, het Johannes Kerkorrel dit aan ’n nuwe gehoor bekendgestel en ’n baie groot treffer daarmee gehad.
3. “Ballonne” – Janita Claassen
Hoewel Janita Claassen reeds in 1983 haar debuutalbum, met die treffer “Rolbos” vrygestel het, was die titelsnit van haar tweede album, Ballonne, haar groot deurbraak. Dit was moontlik die eerste treffer van haar waarvoor tannie Babs Pretorius die woorde geskryf het, en die komponis van die liedjie was Lize Stroebel, wie se ma, tannie Anna Rudolph, in die 1950’s en 1960’s verskeie bekende kinderliedjies geskryf het.
4. “Bicycle sonder slot” – Koos Kombuis
Koos Kombuis was een van die leiersfigure van die Voëlvry-beweging van die laat 1980’s wat alternatiewe Afrikaanse musiek aan ’n groter gehoor bekendgestel het. Met hierdie liedjie het hy bewys dat hy nie nét protesmusiek kan skryf nie, want hierdie liedjie is seker een van die mooiste liefdesliedjies in Afrikaans.
5. “Blommetjie gedenk aan my” – Anton Goosen
Heel moontlik die eerste rockliedjie in Afrikaans. Anton was die eerste Afrikaanse kunstenaar wat ’n album vrygestel het waarvoor hy die musiek en lirieke van elke snit geskryf het. Met hierdie liedjie het Anton gewys dat hy weet hoe om ’n storie te vertel.
6. “Boesmanland” – Worsie Visser
Hoewel Randall Wicomb hierdie liedjie eerste opgeneem het, was dit Worsie Visser wat dit gewild gemaak het. Worsie se musiek is afgekeur vir radiolugtyd maar pleks daarvan dat dit in die vergetelheid verdwyn het, het dit mense net al hoe meer nuuskierig gemaak en die verkope van sy musiek het die hoogte in geskiet.
7. “Boy van die suburbs” – Anton Goosen
Die titelsnit van Anton se debuutalbum as sanger. Die enigste rede waarom dit nie Springbok Radio se Top 20 gehaal het nie, was dat die SAUK dit verbied het, kwansuis omdat dit die Afrikaner as platvloers uitgebeeld het. Dit was egter een van verskeie grensverskuiwende liedjies wat Anton deur die jare geskryf en gesing het.
8. “Bring jou hart” – Juanita du Plessis en Theuns Jordaan
Wat gebeur as twee legendes van Afrikaanse musiek saamspan vir ’n vertoning en ’n album? ’n Treffer. Juanita se altstem en Theuns se basstem het perfek by mekaar gepas en hulle het mekaar perfek as kunstenaars en liedjieskrywers aangevul. Die titelsnit van hul eerste album kon niks anders as ’n groot treffer wees nie.
9. “Byeboerwa” – Carike Keuzenkamp
Anton Goosen hou daarvan om oor die geskiedenis te skryf, en met hierdie liedjie, wat ’n groot treffer vir Carike Keuzenkamp was, het hy weer die kol getref.
10. “Daar’s niks soos ware liefde” – Groep 2
Nadat Sias Reinecke in 1969 tydelik van Groep 2 weggebreek het, het Eddie Trautman hom by Gert van Tonder aangesluit. Eddie is in 1971 oorlede en Groep 2 se platebaas, Albie Venter, het daarop aangedring dat Sias weer deel van die groep moes word. Die gevolg was “Daar’s niks soos ware liefde”, wat Lance James blykbaar aanvanklik wou opneem. Die liedjie het in Augustus 1971 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die derde plek gehaal. Die tydperk van agttien weke wat dit op die Top 20 gebly het, was ’n rekord vir ’n Afrikaanse liedjie wat eers in 1983 deur “Vyfster” van Lloyd Ross verbeter sou word.
11. “Dankie” – Lance James
Lance James het aanvanklik in Engels gesing, maar op aandrang van Albie Venter het hy en Min Shaw in 1968 as sangpaar saamgespan en in 1969 die klankbaan van die rolprent oor die liedjieskrywer Danie Bosman opgeneem. Lance het “Dankie”, sy eerste solotreffer, beskou as die liedjie wat sy lewe verander het. Dit het in Maart 1970 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en tot by die dertiende plek gevorder.
12. “Dans” – Riana Nel
Riana Nel is, soos Juanita du Plessis, in Namibië gebore. Sy het aanvanklik bekendheid verwerf as ’n sangeres van kontemporêre Christelike musiek en eers later kommersiële Afrikaanse musiek begin sing. “Dans” was seker haar grootste Afrikaanse treffer tot dusver en het ’n gunsteling by huwelikseremonies geword.
13. “De la Rey” – Bok van Blerk
Een van die mees grensverskuiwende Afrikaanse liedjies tot nog toe; dit het ongelukkig ’n strydkreet vir regsgesinde Afrikaners geword. Hoe ook al, dit was een van die heel grootste Afrikaanse treffers die afgelope twintig jaar en het ’n gevoel van Afrikanerpatriotisme wakker gemaak.
14. “Die Bosveldbul” – Chris Blignaut
Chris Blignaut was een van die pioniers van Afrikaanse musiek en hy het baie liedjies met ’n komiese inslag gesing. Hierdie liedjie was een van sy heel grootste treffers.
15. “Die dapper muis” – Dawie Couzyn en Doris Brasch
Dawie Couzyn en Doris Brasch was albei operasangers maar hulle het ’n aantal kinderalbums saamgestel, met liedjies geskryf deur Betty Misheiker wat van Israelse herkoms was. “Die dapper muis” was seker een van hul grootste treffers en die boodskap wat hulle aan kinders wou oordra, was dat ’n mens nie moet grootpraat nie.
16. “Die donkie” – Chris Blignaut
Cissie en Willie Cooper was ’n egpaar wat reeds in die 1930’s begin het om liedjies te skryf. Willie het saam met Chris Blignaut gewerk, en Chris het “Die donkie”, wat Cissie en Willie geskryf het, opgeneem toe Chris op soek was na Afrikaanse liedjies met ’n komiese inslag. Dit het ’n baie groot treffer geword.
17. “Die gezoem van die bye” – Des Lindberg
Dit was die heel eerste Afrikaanse liedjie wat tot Springbok Radio se Top 20 toegetree het en dit het in Mei 1966 sowaar die nr. 1-posisie bereik. Dit is die Afrikaanse weergawe van Hoyt Axton se “Big rock candy mountain”, en Des het die eerste vers van die oorspronklike liedjie aan die begin gesing voordat hy na die Afrikaanse een oorgegaan het.
18. “Die lappop” – Doris Brasch
“Die lappop” was nog ’n komposisie van Betty Misheiker, wat deur Doris Brasch opgeneem is. Hoewel Doris ’n opera-sopraan was, het hierdie liedjie haar musiek aan ’n jonger gehoor bekendgestel. Lindie Roux en Carike Keuzenkamp het later ook opnames daarvan gemaak.
19. “Die ou Kalahari” – Danie Pretorius
Hoewel Danie Pretorius se naam dalk nie so bekend klink nie, het hy bekendheid verwerf vir grappige liedjies soos “Die brakke van Turffontein” en “Sjeef by die koffie”. Hy was die oorspronklike komponis en sanger van hierdie groot treffer, wat ook deur Jurie Ferreira en Ben E. Madison opgeneem is. Nog ’n groot treffer wat hy geskryf het, was “Die wilgerboom”, wat deur Herbie en Spence gewild gemaak is.
20. “Die oukraalliedjie” – Groep 2
Een van die lekkerste saamsingliedjies in Afrikaans. Hoewel Min Shaw die eerste kunstenaar was wat hierdie liedjie opgeneem het, was dit Groep 2 wat groot sukses daarmee behaal het. Hulle het in Maart 1967 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die derde plek gehaal. Die Boet van Wyk-orkes, wie se treffer “Oliekolonie” omtrent dieselfde tyd op die Top 20 was, het in daardie tyd ook ’n instrumentale weergawe opgeneem.
21. “Die Royal hotel” – David Kramer
In 1981 het David Kramer baie groot sukses behaal; sy album Bakgat het vroeg in die jaar verskyn en hoewel die SAUK die meeste snitte verbied het, het “Krisjan Swart” ’n treffer geword. Later daardie jaar het hy sy deurbraak-album Die verhaal van/The story of Blokkies Joubert, vrygestel. Hy het die nr. 1-posisie op Springbok Radio met sy tweetalige treffer “Haak hom Blokkies” gehaal, en in Desember daardie jaar was hy terug op die Top 20; hierdie keer met “Die Royal hotel”, wat die sewende plek gehaal het.
22. “Die rugbyonthaal” – Leon Schuster
Nadat Leon Schuster in die 1970’s bekendheid verwerf het as SAUK-omroeper en komediant, het hy in 1982 sy eerste vollengte-album vrygestel. Dit het ’n groot polemiek veroorsaak aangesien die feit dat die destydse Radio Hoëveld geweier het om dit te speel, gemaak het dat dit uiters gewild geword het. Leon het “Die rugbyonthaal” saam met Sias Reinecke geskryf; dit was die laaste liedjie waaraan Sias gewerk het voordat hy in Oktober 1982 oorlede is. Dit was 1982 se Treffer van die Jaar op Edwill van Aarde se radioprogram Afrikaanse Treffers.
23. “Die seewind bring heimwee” – Sias Reinecke
Hoewel Groep 2 seker die suksesvolste sangpaar in die geskiedenis van Afrikaanse musiek was, wou Sias Reinecke altyd ’n loopbaan as solokunstenaar volg. Hierdie liedjie was sy eerste solotreffer, en dit het ’n baie groot treffer geword.
24. “Die trein na Matjiesfontein” – Sonja Herholdt
Die kombinasie van Anton Goosen as liedjieskrywer en Sonja Herholdt as sangeres het verskeie treffers opgelewer. Hierdie liedjie was een van die groot treffers vanaf Sonja se album Waterblommetjies, en dit is ook in die televisieprogram Musiek en Liriek, waaraan Sias Reinecke, Mynie Grové, Laurika Rauch en Des Lindberg deelgeneem het, ingesluit.
25. “Die trein na Pretoria” – Die Briels
Frans en Sannie Briel het een van die mees omstrede sangpare tot nog toe gevorm; hulle het die mense wat weens die depressie gely het, ’n stem gegee. Miskien sal mense vandag lag vir “Die trein na Pretoria”, maar dit was ’n baie groot treffer.
26. “Dink jy darem nog aan my?” – Groep 2
Groep 2 se derde en laaste treffer wat Springbok Radio se Top 20 gehaal het; dit was op 17 November 1972 in die twintigste plek, maar het die volgende week uitgesak.
27. “Drie pikkewyne” – Jakkie Louw
Jakkie Louw het begin sing toe hy ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch was en dit het lank geduur voordat hy ’n deurbraak kon maak. Hierdie liedjie het dadelik ’n groot treffer geword, en Jakkie onder die publiek se aandag gebring.
28. “Duitswes-wals” – Randall en Koba Wicomb
Randall en Koba het bekendheid vir hul volksliedjies verwerf; hierdie lekker saamsingliedjie was gebaseer op Dawid de Lange se komposisie van die 1940’s, “Ek is my mamma se enigste kind”. Dawid se naam word ook in die refrein genoem.
29. “Ek lewe” – Anneli van Rooyen
Sonder twyfel een van Anneli van Rooyen se grootste treffers, en een van die liedjies wat haar die legende gemaak het wat sy vandag is. Dit is reeds in 1986 vrygestel, maar was so gewild dat dit twee jaar later eers die Treffer van die Jaar op Afrikaanse Treffers was.
30. “Ek sien vandag die son weer skyn” – Rina Hugo
Mense is geneig om Leon Schuster vlak te kyk omdat hy hoofsaaklik bekendheid vir humoristiese rolprente en liedjies verwerf het. Hy het egter die woorde van hierdie snit vanaf Rina Hugo se debuutalbum geskryf. Later jare het sy die liedjie as ’n duet saam met Tobi Jooste opgeneem.
31. “Ek verlang na jou” – Sonja Herholdt
In 1975 het ’n student aan die Goudstadse Onderwyskollege die Afrikaanse musiektoneel soos ’n bom getref met hierdie komposisie van Jan de Wet. Sy het Springbok Radio se Top 20 in Julie 1975 gehaal en tot by die sesde plek gevorder.
32. “Ek wil jou ken” – Anneli van Rooyen
Die titelsnit van die album wat Anneli in 1983 uitgereik het; dit was die temaliedjie van die televisiereeks Skoppensboer.
33. “Ek wil jou nooit weer sien” – André Schwartz
Hierdie grensverskuiwende liedjie was die eerste snit van André se eerste Afrikaanse album; snaaks genoeg was daar tot dusver min Afrikaanse liedjies met dieselfde strekking. Die video, met Pierre Knoesen, Casper de Vries, Tobie Cronjé en die voormalige mej. SA, Michelle Bruce, was skreeusnaaks.
34. “Engel” – Karen Zoid
Hoewel ons Karen Zoid as rocksangeres leer ken het, het hierdie liedjie haar veelsydigheid bo alle twyfel bewys.
35. “Gebed” – Koos du Plessis
Ongelukkig is Koos du Plessis in ’n motorongeluk oorlede voordat hy hierdie lied kon opneem. Dit was wel ’n treffer vir onder meer Jannie du Toit en Piet Smit en is intussen as amptelike kerklied goedgekeur.
36. “Geelperskereën” – Anton Goosen
Een van die lekkerste saamsingliedjies wat Anton tot dusver geskryf en gesing het; dit het ’n baie groot treffer geword.
37. “Groen en goud” – The Bats
Die eerste Afrikaanse rugbyliedjie; dit is vrygestel in 1968, toe die Springbokke teen die Britse Leeus en teen Frankryk gespeel het. Dit het in Julie 1968 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die sewende plek gehaal.
38. “Groen koringlande” – Ben E. Madison
Die trefferliedjie vanaf Ben E. Madison se debuutalbum het hom as kunstenaar gevestig. Hy het in Augustus 1968 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die elfde plek behaal. Hy het later die woorde van twee liedjies wat Bles Bridges gewild gemaak het, geskryf, naamlik “Ruiter van die windjie” en “Jou hart is weer myne”.
39. “Haai Casanova” – Glenys Lynne
Glenys Lynne was die hoofsangeres van die groep Four Jacks and a Jill en sy is getroud met die baskitaarspeler van die groep, Clive Harding. Hoewel hulle die heeltyd haar orkes was, is hierdie liedjie as Glenys se eerste solotreffer bemark. In Mei 1974 het sy tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die sewende plek gehaal. Die liedjie is in die rolprent Pens en pootjies, met Al Debbo en Don Leonard in die hoofrolle, gebruik.
40. “Halala Afrika” – Johannes Kerkorrel
Die eerste snit vanaf Johannes Kerkorrel se album Bloudruk, wat as een van die heel beste Afrikaanse albums tot dusver beskou word. Met hierdie liedjie het hy gewys dat hy tot meer as protesmusiek in staat was.
41. “Hanoverstraat” – Sonja Herholdt
Nog een van die groot treffers wat Anton Goosen vir Sonja Herholdt geskryf het. Die aansteeklike ritme en saamsingwysie het dit ’n wenner gemaak.
42. “Harlekyn” – Sonja Herholdt
Die titelsnit van die laaste album waarop Anton Goosen en Sonja Herholdt saamgewerk het. Dit is gebruik in die rolprent Sing vir die harlekyn en was die Treffer van die Jaar op Afrikaanse Treffers vir 1980.
43. “Hasie” – Al Debbo
In die 1950’s het Al Debbo en Frederik Burgers in verskeie musiekrolprente saamgespeel. Hierdie komposisie van Nico Carstens en Anton de Waal het in die rolprent Altyd in my drome voorgekom en ’n baie groot treffer geword.
44. “Hier is ’n mens” – Gé Korsten
Gé was ’n legende van Afrikaanse musiek; hy het sy stem met behulp van sangopleiding van ’n bariton na ’n eerste tenoor ontwikkel. Hierdie liedjie was deel van die klankbaan van die rolprent Lokval in Venesië, waarin hy die hoofrol vertolk het.
45. “Hierdie Kind” – Jan de Wet
Dit gebeur baie selfde dat die Afrikaanse weergawe van ’n lied kop en skouers bo die oorspronklike een uitstaan. Jan het Afrikaanse woorde vir die lied “This little child”, ’n komposisie van die bekende Amerikaanse sanger van kontemporêre Christelike musiek, Scott Wesley Brown, geskryf. Die kragtige boodskap en Danny Antill se skitterende musiekverwerking, wat byna vir seker geïnspireer is deur die legendariese Amerikaanse musiekregisseur Jim Steinman, het van hierdie lied ’n groot treffer gemaak.
46. “Hillbrow” – Johannes Kerkorrel
Die Gereformeerde Blues Band, met Johannes Kerkorrel as hoofsanger, het die publiek in 1988 geskok met hul debuutalbum, Eet kreef. Die SAUK het die meeste snitte verbied, maar een snit wat wel lugtyd gekry het en baie gewild geword het, was “Hillbrow”. Selfs Johannes Kerkorrel se felste kritici het daarvan gehou.
47. “Houtkruis” – Prophet
Prophet bestaan uit Koos van der Merwe en Theo Geyser, en hulle verkondig die Woord van God hoofsaaklik deur middel van humor. Met “Houtkruis”, wat Koos geskryf het, het hulle egter hul ander kant gewys. Dit was aanvanklik op die album Prophet sing Houtkruis, maar nadat dit weer opgeneem is en ingesluit is op Ban Hom uit die sinagoge, dalk die heel beste Afrikaanse kontemporêre Christelike album ooit, het dit ’n treffer geword. Intussen het kunstenaars soos Danie Botha, Juanita du Plessis en Romanz dit opgeneem, maar niks het by die oorspronklike een gekom nie.
48. “Hoeka toeka” – Carike Keuzenkamp
Dis feitlik onmoontlik om te glo dat hierdie komposisie van Anton Goosen die enigste Afrikaanse liedjie van Carike Keuzenkamp was wat Springbok Radio se Top 20 gehaal. Dit het in September 1978 toegetree en net tot by die sewentiende plek gevorder.
49. “Huise van glas” – Herman Holtzhausen
Met hierdie liedjie het Herman Holtzhausen nie doekies omgedraai nie; hy het dit gesê soos dit is. Sy oorspronklike weergawe was dalk die beste, maar dit was Cathy Viljoen se weergawe wat die liedjie onder die publiek se aandag gebring het.
50. “Jantjie” – Sonja Herholdt
Nadat Sonja haar deurbraak met “Ek verlang na jou” gemaak het, is ’n joernalis van Huisgenoot na haar toe gestuur om ’n onderhoud met haar te voer. Hierdie joernalis het onder die skuilnaam Jantjie Blom geskryf, maar dit was niemand minder as Anton Goosen nie. Tydens die onderhoud het Sonja vertel dat sy besig was om liedjies vir haar debuutalbum bymekaar te maak. Anton het genoem dat hy ’n liedjieskrywer is; hulle het afgespreek om mekaar weer te sien en met hul herontmoeting het Anton ’n lêer vol liedjies wat hy geskryf het, saamgeneem. Sy het “Jantjie” gekies; dit was die begin van ’n suksesvolle samewerking tussen hulle wat oor vier albums gestrek het.
51. “Jou hart is weer myne” – Heintjie Simons
Die enigste Afrikaanse liedjie deur ’n oorsese kunstenaar wat Springbok Radio se Top 20 kon haal. Dit het in Mei 1975 tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die sesde plek bereik. Later het Bles Bridges dit van voor af gewild gemaak, terwyl Steve Hofmeyr en Gerrie Pretorius dit ook opgeneem het.
52. “Jy is my liefling” – Min Shaw
Cissie en Willie Cooper het hierdie liedjie reeds in die 1930’s geskryf, en Jim Reeves het dit tydens ’n besoek aan Suid-Afrika opgeneem. Hy het ook ’n Engelse weergawe, bekend as “You are my love”, opgeneem. In 1968 het Min Shaw teenoor Franz Marx in die rolprent Jy is my liefling gespeel en hierdie liedjie is as temaliedjie gebruik. Dit het toe gewilder as ooit geword.
53. “Kaapse draai” – Danie Bosman
Daar is twee liedjies met hierdie naam, maar die een wat Danie Bosman gekomponeer het, was een van die grootste treffers van die beginjare van Afrikaanse musiek. Danie is in 1946 in die ouderdom van 39 jaar aan kanker oorlede en in 1969 is ’n biografiese rolprent oor sy lewe, met Franz Marx en Min Shaw in die hoofrolle, vrygestel.
54. “Kaptein” – Kurt Darren
Een van die heel grootste treffers van die afgelope vyftien jaar; dit was so gewild dat die titel van die liedjie Kurt se bynaam in die musiekbedryf geword het.
55. “Karoonag” – Coenie de Villiers
Coenie het sy televisiedebuut op die program Kraaines gemaak toe hy nog besig was met sy diensplig. Sy eerste album, Skoppensboer, het ’n paar jaar later verskyn, en “Karoonag” was die grootste treffer vanaf daardie album. Coenie het intussen ’n legende van Afrikaanse musiek geword.
56. “Kinders van die wind” – Laurika Rauch
In 1979 was Katinka Heyns besig met die televisiereeks Phoenix en Kie, waarin Jana Cilliers die rol van ’n nagklubsangeres gespeel het. Jana het geweet dat sy nie ’n sangeres was nie en het Laurika Rauch voorgestel as die kunstenaar wie se sangstem vir Jana se karakter oorgeklank sou word. Katinka het die destyds onbekende Koos du Plessis se musiek vir haar televisieprogram Fyn net van die woord gebruik, en besluit om dit ook vir Phoenix en Kie te gebruik. Dit het dadelik gemaak dat Laurika en Koos legendes geword het. Laurika het Springbok Radio se Top 20 in September 1979 gehaal en die derde plek bereik. In ’n meningspeiling deur Maroela Media is “Kinders van die wind” as die grootste Afrikaanse liedjie tot nog toe aangewys.
57. “Klein Karoo” – Sias Reinecke
Nog een van Sias se grootste solotreffers, wat hy saam met André Viljoen geskryf het. Dit is jare later ook gebruik as die temaliedjie van die gelyknamige rolprent, waarvoor Tim Theron dit opgeneem het.
58. “Klein tambotieboom” – Die Heuwels Fantasties
Die Heuwels Fantasties is een van die min alternatiewe Afrikaanse groepe wie se musiek op ’n groot gehoor gemik is. Hierdie liedjie was hul grootste treffer tot dusver, en hulle het dit later ook saam met Laurika Rauch opgeneem.
59. “Kruidjie roer my nie” – Anton Goosen
Die treffersnit van Anton Goosen se debuutalbum as sanger, Boy van die suburbs. In April 1979 het dit tot Springbok Radio se Top 20 toegetree en die tiende plek bereik. Dit is ook gebruik vir die rolprent Pretoria o Pretoria, met Ben Kruger, Cornelis Esterhuizen en Amanda Strydom in die rolverdeling, maar die SAUK het die weergawe wat Anton vir dié rolprent geskryf het, verbied.
60. “Lied van die lewe” – Gé Korsten
Een van Gé se heel grootste treffers, waarin hy die verskillende fases van die lewe baie goed beskryf en sy breë vokale reikwydte ten toon gestel het. Dis maklik om te verstaan hoekom dit so gewild was.
61. “Liefling” – Gé Korsten
Die titelsnit van een van Gé se gewildste albums en heel moontlik sy grootste treffer. Dit was die Afrikaanse weergawe van “Peace hymn”, deur die Duitse sanger Peter Maffay, wat in 1971 ’n baie groot treffer in Suid-Afrika met “You” gehad het.
62. “Liefste Madelein” – Leonore Veenemans
Een van die hartseerste verhale in die geskiedenis van Afrikaanse musiek. Leonore het “Liefste Madelein” op haar tweede album, Verre lande, ingesluit en die koor van die Suid-Afrikaanse Lugmag het saam met haar gesing. Dit was sonder twyfel haar grootste treffer. Sy is die dag na haar 38ste verjaardag in ’n motorongeluk oorlede.
63. “Lisa se klavier” – Koos Kombuis
Lisa, wat hierdie liedjie geïnspireer het, is regtig ’n vriendin van die komponis en sanger van hierdie liedjie, Koos Kombuis. Dit het een van sy heel grootste treffers geword en verskeie kunstenaars, onder meer Laurika Rauch, Dozi en Elvis Blue, het dit al opgeneem.
64. “Loslappie” – Kurt Darren
Die oorsprong van hierdie saamsingliedjie is ’n twispunt; Theuns Jordaan het dit aanvanklik as deel van ’n keurspel ingesluit maar dit het ’n baie groot treffer geword toe Kurt Darren dit opgeneem het.
65. “Meisie meisie” – Kurt Darren
Kurt het aanvanklik hoofsaaklik ballades gesing en toe hy die eerste keer op Noot vir noot opgetree het, het hy ’n keurspel van Elton John se liedjies gesing. Hierdie liedjie was egter sy groot deurbraak; na die sukses van “Meisie meisie” het hy hom hoofsaaklik op “sokkie”-liedjies begin toespits en hy het al hoe gewilder geword.
66. “Miljoen” – Lucas Maree
Lucas is in sommige kringe as Koos du Plessis se “natuurlike opvolger” Beskou. Lucas en Koos het immers by dieselfde koerant in Pretoria gewerk; Koos as subredakteur en Lucas as fotograaf. Koos het ook ’n invloed op Lucas as liedjieskrywer gehad. Hoewel die meeste van Lucas se komposisies introspektief van aard was, het hy met “Miljoen”, waarmee omtrent almal hulle kan vereenselwig, sy humoristiese kant gewys. Natuurlik het dit ’n reusetreffer geword.
67. “Mooi is die lewe nou” – Rudi Neitz
Hoewel Rudi veral as opera-bariton onthou word, het hy in die 1970’s ’n aantal ligte albums opgeneem. Sy sangstem is gebruik vir Hans Strydom se karakter in die musiekrolprent Vergeet my nie. Jammer vir dié wat gedink het dat “At Koster” kan sing. Die Alabama-studentegeselskap het hierdie liedjie saam met Rudi gesing.
68. “’n Duisend liggies” – Ruben Lennox