Dr. Danie Langner

Ons Here Jesus het self hierdie twee intense emosionele belewenisse by mekaar uitgebring in sy Bergpredikasie: “Salig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt. 5:4).

In ’n aangrypende boek van net meer as 100 bladsye, vertel dr. Danie Langner van Treur en Troos wat mekaar in ’n tuin ontmoet en mekaar dan op ’n besonderse wyse weer in die lewens van mense raakloop. Treur is meestal eerste daar en weldra verskyn Troos op die toneel.

Die ontmoeting van Treur en Troos in ’n grys, skaduryke tuin, gee miskien die hart van die boek die beste weer. “Treur het in die skaduwees van die tuin gewandel. Met elke tree het ’n sagte sug ontsnap, asof die tuin saam met hom getreur het … Op ’n dag, terwyl Treur in die donkerste hoekies van die tuin rondgedwaal het, het hy ’n vreemde figuur sien naderkom. Troos, met ligte voetstappe en ’n glimlag wat die atmosfeer sagter gemaak het, het uit die lig van die dag na hom gekom. Waar sy gegaan het, het die blomme hul koppe opgelig en die lug het vars en vol belofte gevoel. ‘Ek is Treur’, het hy uiteindelik gesê. ‘Ek dra die laste van die wêreld. Ek is die pyn van verlies, die sug van verlore drome … My taak is om hulde te bring aan wat verloor is, om herinneringe te bewaar, om te rou oor wat nie meer is nie.’”

Troos het met groot deernis geantwoord: “Ek verstaan, omdat ek in die hart van daardie herinneringe woon. Ek bring hoop waar daar hartseer is en kalmte waar daar storms woed. My werk is nie om die pyn weg te neem nie, maar om die pad vorentoe draagliker te maak. Ek is hier om te help dra wat jy bring, om lig te wees in die donker skaduwees wat jou volg.”

En dan: “Vanaf daardie dag het Treur en Troos saam begin reis. Waar Treur gegaan het, het Troos hom gevolg. Hulle het die mense gehelp om deur hul diepste smart te kom, om deur hul donkerste ure te lei. Mense wat net die swaar van Treur se besoeke geken het, het nou ook die warmte van Troos se lig begin voel. Hulle het begin verstaan dat hartseer en hoop, pyn en genesing, hand aan hand gaan. Deur albei te erken, het hulle die krag gevind om aan te gaan, om op te staan en met hoop te leef.”

Van die plekke waar Treur en Troos mekaar in die boek ontmoet, is Ontkenning, Dood, Smart, Verlies, Woede, Vrees, Skuld en Vergifnis, Eensaam en Verlang, Depressie. En dan: Aanvaarding, Vrede, Geloof, Hoop, Tuiskoms en Liefde. Bybelgedeeltes wat in die besonder behandel word, is die dood van die dogtertjie van Jaïrus en van Lasarus, Jesus wat die storm stilmaak, die owerspelige vrou van Johannes 8, Thomas, Job, Paulus en Silas in die tronk, Maria Magdalena, die Verlore Seun, en dan natuurlik Maria en die dissipels by die kruis van Jesus en die Nuwe Jerusalem.

Sonder dat ’n teks vir elke situasie gegee word, skyn die Bybelse beginsels duidelik deur by al die ontmoetingsplekke van Treur en Troos. Dit is duidelik dat die besonderse pad wat dr. Langner as herder met verskeie gemeentelede gestap het, die dekor is van hierdie treffende boek.

  • Langner was vir 11 jaar voltydse predikant in die NG Kerk, en verleen nog hulpdiens as predikant. Hy is die besturende direkteur van die FAK sowel as van die Voortrekkermonument. Treur ontmoet Troos kos R120, is deur die FAK uitgegee, en is by die Voortrekkermonument te koop. Dit kan ook aanlyn gekoop word by https://kultuurkafee.com/boekrak/

Verwerkte resensie deur ds. Cassie Aucamp, gepubliseer in Die Kerkblad, Februarie 2025.

Treur ontmoet Troos_boekresensie