Die Kaapse wynlandgoed Vergelegen vier op 1 Februarie sy 325ste bestaansjaar. Gevestig in 1700 was hierdie landgoed destyds die eiendom van die toenmalige Kaapse goewerneur Willem Adriaan van der Stel wat sy vader as goewerneur van die Kaapkolonie in 1699 opgevolg het.

’n Groep van 21 Kaapse FAK-vriende het hierdie besondere historiese landgoed op Saterdag 25 Januarie besoek en ’n begeleide tuin- en erfenistoer meegemaak.

Vanaf sy ontstaan het Vergelegen talle kere van eienaar verwissel. Sedert 1987 behoort die landgoed aan Anglo American. Twee families staan uit vir die rol wat hulle in die restourasie, uitbou en beskerming van Vergelegen se erfenisskatte gespeel het, die Phillips- en Barlow-familie.

Ons besoek die herehuis en die pragtige tuine wat dit omring. Nie net is die herehuis in die Phillips-era gerestoureer nie, maar die ou wynkelder is omskep in ’n biblioteek waarin die indrukwekkende boekeversameling van Sir Lionel Phillips gehuisves word. In die biblioteek skep die rye donker boekrakke, leeromslae van die boeke wat daarop pryk, keurige beligting en die ou raadsaaltafel met stoele ’n indrukwekkende prentjie uit ’n tyd lank gelede.

Na die Phillips-era het die Barlow-familie verder aangevul tot die versameling van besondere meubels en kunswerke wat vandag in die herehuis op Vergelegen te sien is. In die voortuin staan ’n slaweklok en langs die huis is ’n stukkie muur nog sigbaar waar eens ’n watermeul gestaan het.

Ons gids vertel hoe die simmetrie, reguit lyne en agthoek, kenmerkend van Willem Adriaan van der Stel se uitleg van Vergelegen, vandag weer sigbaar is in die uitleg van tuine en paadjies op die landgoed. Ons stap deur die verskillende tuine, sien die vyf groot ou kamferbome in die voortuin, die oudste akkerboom, staan stil by ’n groot ou geelhoutboom wat rondom 1700 geplant is en eindig ons besoek aan Vergelegen af met ’n wandeling deur die roostuin, een van Vergelegen se 17 tematuine.

Willem Adriaan Van der Stel se fokus was op sy plaas, drie dae se reis per ossewa vanaf die kasteel, eerder as sy pligte as goewerneur. Dit het onder andere tot sy afdanking bygedra. Hy word wel gekrediteer vir sy kennis van boerdery en dit wat hy in ses jaar op Vergelegen vermag het. Sy visionêre denke het baie grootliks bygedra tot landbou-ontwikkeling in die Kaap.

Vir enige navrae, kontak [email protected]