Dit is ’n voorreg om jou geskiedenis te ken en te kan oorvertel, maar dit is ’n hele ander ervaring om self te loop waar jou voorouers geloop het. Hierdie geleentheid het dr. Danie Langner vir die jong personeel by die FAK en Voortrekkermonument gegee.

Ons interns en jong personeel het hierdie reis meegemaak en alhoewel ons hierdie toer die “Vrijheidsreis” noem, was dit vir baie van ons ’n ontdekkingsreis. ’n Ontdekking van die geskiedenis, van ons eie wortels en van ons plek en roeping.

Maandag 1 Mei

Tasse gepak en hoed op die kop kom ons voor die Voortrekkermonument in die parkeerarea bymekaar. Ons eerste stop is Udolpho Rivierplaas, die FAK se kultuurplaas buite Parys. Met die aankoms word slaapplek gedeps binne die ossewalaer en hierna kry ons ’n toer deur die terrein.

In ’n land waar ons erfenis keer op keer verwoes word, is dit al hoe meer belangrik om ons erfenisbakens te skuif na veilige kultuurkomplekse waar dit bewaar en besigtig kan word. Só is die Voortrekkermonument en Orania ook plekke waar erfenis bewaar word.

Op Udolpho is daar reeds talle erfenisskatte in veilige bewaring.

Ons kyk na die Penkop-beeld, ’n beeldjie wat die jong mans simboliseer wat na die Anglo-Boereoorlog weer die land help ophou het. Jong mans wat dalk van krygsgevangenes teruggekom het, of jong seuns wat uit die konsentrasiekampe gekom het. Langsaan is ’n beeld van ’n jong dogter wat solank die lande voorberei en begin plant, sodat daar darem al iets is wanneer Pa weer by die huis kom vanaf die krygsgevangenekamp.

Daar staan ons, jong seuns en dogters, sommige met min tot geen geskiedkundige agtergrond om ons te bewapen vir die toekoms nie. Hoe sal ons kan voortbou wanneer ons eie geskiedenis nie vir ons geleer word nie?

Dit is hier waar ek die belangrikheid van hierdie toer besef.

Op Udolpho kry ons ’n oorsig van die Anglo-Boereoorlog, waar dit en die Groot Trek aan mekaar haak en die pad wat die geskiedenis gestap het om ons vandag te bring tot waar ons is.

Die nostalgie van Ouma se Huis, die lewende huismuseum ook op hierdie plaas, neem ons terug na ’n tyd met minder bekommernis en baie lekker eetgoed.

Ons kry mekaar langs die Vaalrivier. Liebenbergkoppie is net oorkant die oewer, waar die Liebenberg-trek deur die Matebeles uitgemoor is en drie kinders weggevoer is. Net klein Barend Liebenberg het dit teruggemaak.

Ek het al gehoor van die storie, was self verlede jaar op Liebenbergkoppie, maar ek sien hoe van die ander vir die eerste keer met die realiteit en brutaliteit van die geskiedenis te doen kry. Nie alle stories het ’n gelukkige einde nie.

Hier begin die ysbreker. Ons kuier die meeste van die aand om ’n oop vuur, met twee nuwe personeellede wat vir die eerste keer daardie oggend by ons span aangesluit het en leer kollegas ken met wie ons al maande lank te doen het.

Dinsdag 2 Mei

Ons vertrek douvoordag na die Vegkop-erfenisterrein, waar die Potgieter-trek die Matebeles verslaan het. Die Voortrekkers het nie in isolasie deur die land getrek nie, maar het met ander nasies te doen gekry. Hierdie verhoudinge kon vyandig of vriendelik wees. In die plat landskap van die Vrystaat is die koppie by Vegkop uniek.

Hier het ’n jong Paul Kruger aan die veldslag deelgeneem, asook Sarel Cilliers, wat tydens die veldslag gewond is – sy bebloede broek kan in die Voortrekkermonument gesien word.

Die trekkers se osse is deur die Matebeles weggevoer. So was hulle vir byna ’n week in die laer vasgevang met lyke wat rondom hulle ontbind. Op die ou end is perde voor die waens gespan en is die laer net anderkant die koppie weer getrek om van die stank weg te kom en vir higiëniese redes.

Ons leer dat ’n ander swart stam osse gestuur het om dié trekkers hier weg te bring na Thaba Nchu – die Barolong.

Terug in die kar, slaan ons die pad na Doornkloof in, die Voortrekkerplaas en grond van Voortrekkerheld Sarel Cilliers. Ons slaap in die huis wat hy vir sy vrou gebou het en leer van die geskiedenis van die Voortrekkers.

Op hierdie gronde is die grafte van die Cilliers-familie, asook van NJ van der Merwe, wat in sy kort 50 jaar op aarde ’n nalatenskap agtergelaat het wat ons almal se paaie tot hier gelei het, die man wat Die Voortrekkers én die FAK gestig het. ’n Man wat uit ’n konsentrasiekamp ’n toekoms gebou het, met soveel minder hulpbronne tot sy beskikking, met die trauma van die kamp en die oorlog en ’n land wat tot as verbrand is.

Ons stap tot by Beesveldam waar die jong mans vir ’n wyle weer net sorgelose kinders is. Nadat die eerste een ’n klip opgetel het, moes elkeen kyk of hulle die klip kan laat hop tot aan die oorkant van die dam. Dis snaaks hoe iets so klein, soveel genot kan verskaf.

Sarel Cilliers wat altyd voorbereid. Doornkloof is ’n versteekte kloof in die plat Vrystaat. Van ver af sal jy bo-oor die hele kloof kyk en op die kruin van die kloof het hy ְ’n fort gebou, strategies perfek geposisioneer om enige vyand van enige rigting te kan afweer.

Hier sit ons en kyk na die sonsondergang en geniet mekaar se geselskap.

Woensdag 3 Mei

Nog ’n vroegoggend – ons is uit die bed en op die pad voor die son nog behoorlik wakker is. Ons het ’n lang pad wat voorlê. Ons eet gou ontbyt in Clarens en verken die pragtige dorp in ’n kort rukkie. Hierna vertrek ons om die Kaalvoetvrou-beeld en die Retiefklip by Kerkenberg te besoek.

Vir die ou Voortrekkers in die groep is hierdie nie ’n nuwe ervaring nie, maar die meeste van ons was nog nooit hier nie. Die simboliek van die Kaalvoetvrou vertel die storie van die ystervroue van ons geskiedenis, wat eerder kaalvoet oor die Drakensberg sou stap voordat hulle weer onder Britse bewind sou wees.

Die landskap is ongelooflik mooi in hierdie wêreld en ek verkyk my aan die berge en dale.

Die pad na Kerkenberg is maklik bekombaar in ’n 4×4-motor. Ons het net een van hulle, twee karre wat maklik genoeg die pad kan ry en dan het ons ’n Citi Golf. Dié kar het sy staal gewys en oral gery waar die Fortuner gery het.

By Kerkenberg besoek ons die plek waar Deborah Retief op haar pa se verjaardag die dag en datum in die klip geverf het. Min wetende dat hierdie sy laaste verjaardag sou wees. In hierdie tyd het Retief vertrek om met Dingaan te onderhandel vir grond en dié gedenkwaardigheid vertel die storie van ’n dogter wat verskriklik na haar pa verlang. Enkele maande later, word Retief en sy hele geselskap by KwaMatiwane uitgemoor.

Ek het al gehoor van die klip, maar dit wat ek in my geestesoog gesien het, kom nie naby die werklikheid nie. Net anderkant die klip waarop Deborah geverf het, is ’n Geloftefeesterrein en hier vind ons bewyse van generasies se Geloftefeeste. Met elke fees word daar klippe op die klipstapel in die vorm van ’n wawiel bygevoeg en ek voeg dié Geloftefees op my moet-doen-lysie. Elke jaar word nuwe klippe bygesit en met sement vasgemessel – ’n groeiende gedenkwaardigheid tot God en die Vrijheidsreis van ons voorvaders.

Ons slaap die aand oor in die ATKV-oord, Drakensville. Ons word hartlik verwelkom en eet die heerlikste kos. Dit neem nie lank nie, of almal van ons is in die warmwaterswembad.

Donderdag 4 Mei

Na ’n heerlike ontbyt, val ons weer in die pad. Ons het twee bestemmings: Bloukrans en Bloedrivier, waar ons sou oornag.

Hoe nader ons beweeg aan Bloukrans, hoe stiller word dit in die kar. Die monument is, soos baie ander, verniel en verwoes. Ons leer van die 185 kinders, 56 vroue, 41 mans en 200 werkers (voorheen slawe wat gekies het om saam met die Voortrekkers te trek), wat in een nag brutaal uitgemoor is.

By die monument is die graf van Gerrit Maritz, wat buiten vir sy rol as leier na die slag ook die rol van weesheer moes aanneem – die versorger van die weeskinders en weduwees van hierdie moorde. Die gedenkplaat op sy graf is gesteel en die marmerkoppies op die friestonele op die gedenksteen is gebreek. Ons staan op ’n massagraf van kinders en babas.

Ons besluit dat ons hierdie monument gaan opknap en behoorlik eer betoon aan ons voorouers.

Die laaste aand word op Bloedrivier deurgebring. Verlede jaar is die museum en terrein pragtig opgeknap en weer kry ons die geleentheid vir ’n eens-in-’n-leeftyd kulturele ervaring – om in die walaer te oornag. Ons dra ons matrasse aan en skrop nes.

Na ’n lang week is die dames vroeg in die bed, maar om middernag (hoor ek toe later) het die manne uit eie inisiatief die Gelofte afgelê en die aand en die toer afgesluit met die Magaliesburgse aandlied.

 

Vrydag 5 Mei

Na ontbyt ry ons na Ncome, die Zoeloe-museum aan die oorkant van die rivier. Dit is ’n leersame ervaring en alhoewel dit nie lekker is nie, besef ons hulle doen maar wat ons ook doen, om die geskiedenis taamlik eensydig aan te bied. Een ding merk ek op: die rede vir die Slag van Bloedrivier is aangegee as ’n oorlog om grond te bekom. Maar om vroue en kinders brutaal te vermoor, kan nie ongestraf gelaat word nie – hierdie slag is in werklikheid slegs in reaksie tot die gruwelike moorde by Bloukrans en Moordkoppie, maar word in dié museum nie ’n woord van gerep nie.

Ons toer is op ’n einde en die lang pad huis toe word aangedurf.

Nou kom die vraag: Wat was die doel hiervan?

Waarom is dit belangrik om self jou geskiedenis te ervaar? Om te loop waar ons voorouers geloop het?

In ’n land waar ons geskiedenis telkemale verdraai word, waar ons nie op skoolvlak ons eie storie vertel word nie, is hierdie plekke wat ons besoek het, bewyse van ons geskiedenis. Piet Retief is nie net iemand wat opgemaak is nie. Die moorde by Bloukrans was nie sommer net ’n liegstorie nie – dit het alles werklik gebeur. Dit is ons plig om dié geskiedenis weer oor te vertel, uit te leef en seker te maak dit word uitgebou.

Oral langs die pad kry ons die spore van die 1938-Eeufees-trek. Oor 15 jaar vier ons 200 jaar sedert die Groot Trek en dit is ons wat dan daardie trek gaan reël. Dit is ons generasie se verantwoordelikheid om nie te vergeet wat 185 jaar gelede gebeur het nie.

Gaan jý vergeet?

Geskryf deur: Marné Scholtz