Mediaverklaring

5 Maart 2024

Die ongerepte kultuurskat van die koppe rondom Vredefort is Saterdag verken deur ’n groep erfenisentoesiaste wat dié uitstappie nie sommer sal vergeet nie.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerke in hierdie area, tesame met die voorsitter van Erfenis Potchefstroom, Johan Wolfaardt, het meer geleer van argeologie en die bewaring van artefakte.

“Dis ’n ongelooflike mooi area met geweldige waarde aan die terrein.”

Só sê Johan Wolfaardt wat die uitstappie in die area gelei het. Wolfaardt vertel dat in dié area is talle argeologiese skatte vanuit verskeie eras. Tswana-krale is volop in die area, maar wat dit interessant maak, is die hergebruik van dieselfde infrastruktuur in verskeie eras deur verskeie groepe. So is hierdie krale ook deur Boere en Britte vir skanse gebruik.

Uit artefakte kan argeoloë ’n goeie idee kry van vroeëre beskawings wat in hierdie gebied gevestig was, hul gebruike, veldslae en baie meer.

Die Vredefort-omgewing het ’n ryk geskiedenis wat van betekenisvolle historiese waarde is, en tekens van die Tswana-krale asook Khoisan-bedrywighede van vroeër, word hier gesien.

Wolfaardt verduidelik dat die Tswanas waarskynlik uit die area weggedryf is met die bakleiery tussen die Zoeloes en Matabeles.

Tydens die verkenningstog het Wolfaardt ook die driwwe uitgewys wat genl. Christiaan de Wet met die Anglo-Boereoorlog probeer oophou het, en waar hy vir die president van die Vrystaat, MT Steyn, veilig kon deurkry na die Transvaal-kant van die drif.

Vanuit die argeologiese bewyse kan mens ook met redelike sekerheid vasstel waar die Britte inderhaas hul kransskuilings opgeslaan het, en waarvandaan hulle De Wet en sy manne gebombardeer het.

Met sy interessante vertellinge het Wolfaardt verduidelik hoe De Wet telkens op ’n ander plek deurgekom het en so ook president Steyn weer veilig kon terugbring na die Vrystaat.

Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die FAK in die sentrale streke van Suid-Afrika, sê dit was vir hom ’n leersame dag.

“Ons het nie net ’n belewenis van die natuur ervaar nie, ons kon ook werklik die geskiedenis tasbaar in dié omgewing beleef.”

Dít is hoe mens geskiedenis en erfenis vandag op ’n unieke manier kan oordra – met uitstappies en deur teenwoordig te wees op geskiedkundige grond.

Jy kan ook betrokke raak by uitstappies en projekte soos hierdie deur aan te sluit by jou naaste kultuurnetwerk. Besoek gerus ons webwerf vir meer inligting.