Mediaverklaring

12 Junie 2024

Na ’n verwoestende brand op Saterdag 8 Junie lê nóg ’n nasionale gedenkwaardigheid, die ou Landdroskantoor op Utrecht, KwaZulu-Natal, in puin.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het hiervan verneem na Nico Moolman, ’n besorgde inwoner en geskiedeniskenner en ‘n getroue vriend van die FAK, ons hiervan in kennis gestel het en dié vraag wéér stel: “Wanneer gaan die verwoesting stop.”

Die FAK het vanjaar reeds verskeie voorbeelde van hierdie tipe verwoesting en die skynbare laksheid van owerhede om dit te verhoed regoor die land geïdentifiseer en dit is tragies om te sien dat ons erfenisskatte soos hierdie 1892-gebou in die slag moes bly.

Die historiese gebou was die ou woning van die landdros, waarna dit gebruik was as ’n tydelike landdroskantoor en later ook ’n poskantoor.

Moolman het aan die FAK verduidelik dat die brand vermoedelik uitgebreek het as gevolg van sluipslapers wat in dié gebou vuur gemaak het.

Hy het verder sy kommer uitgespreek dat daar verskeie erfenisskatte op die dorp is wat gebuk gaan onder vandalisme en diefstal.

“Die begraafplaas met die name van al die gesneuwelde Engelse soldate, van onder andere die Slag van Isandlwana, is al lank terug van die gedenkmuur afgesteel. Die ou Kruidhuis word ook op die oomblik as ’n brandstofstoor gebruik en hoewel dit nog in ’n redelike ordentlike toestand is begin olievlekke al die sandsteen beskadig,” sê Moolman.

Dit is nie die eerste keer dat ons land se erfenis in puin lê nie. ‘n Treintrok by Noordwes Landboumuseum het verlede jaar afgebrand. Daarna het die Ampie Bosman kultuurhistoriese museum in dieselfde dorp, Lichtenburg, in vlamme opgegaan en op 1 Junie daarna is die historiese stadsaal in Lichtenburg ook in ‘n brand verwoes. Skaars ‘n week daarna lê die Landdrosgebou ook nou in puin.

Die FAK het vroeër vandag (12 Junie) kontak gemaak met die uitvoerende hoof van Amafa (die KwaZulu-Natal Amafa and Research Institute), dr. Mxolisi Dlamuka, om vas te stel wat die skade is én wat gedoen kan word om verdere agteruitgang in die dorp te keer.

Barry Müller, hoof van nasionale projekte van die FAK, sê mens se hart breek om te sien hoe ons erfenis vernietig word.

“Hierdie is historiese museums en landmerke wat nou vir ewig weg is, ons sal dit nie weer kan terugkry om die nageslag daarvan te kan vertel en wys nie. Die FAK kon al in die verlede verskeie artefakte uit die as red. Daarom is dit vir ons belangrik dat die gemeenskap by ons inskakel en deel word van die FAK sodat ons ons erfenis kan bewaar en beskerm,” sê Müller.

Ondersteun nou die FAK en help ons om dié vlamme van verwoesting te blus: https://fak.org.za/vriende-van-die-fak/