Terwyl die Voortrekkermonument bekend is vir sy historiese betekenis, bied dit ook verskeie bykomende ervarings wat die monument se veelsydige aanbod nog verder uitbrei. In ’n onlangse onderhoud met Henk Maree van die Voortrekkermonument, het ons gehoor van die uiteenlopende reeks aktiwiteite en besienswaardighede, wat vir besoekers beskikbaar is.

Maree het die breë spektrum van buiteluggeleenthede wat op gaste wag, uitgelig. “Baie mense kom om die monument te sien, maar daar is soveel meer om te verken.”

“Ons het pragtige perdryroetes waar besoekers ’n rit deur ons terrein se natuurskoonheid kan geniet. Dit is ’n wonderlike manier om die landskap vanuit ’n ander perspektief te ervaar,” sê hy.

Stap is nog ’n gewilde aktiwiteit, met vyf afsonderlike roetes wat besoekers en natuurliefhebbers kan geniet.

“Elke roete bied unieke uitsigte en ’n geleentheid om jouself in die natuurlike skoonheid van die area te verdiep. Dit is ’n fantastiese manier om die diverse ekosisteme wat ons hier het te verken,” sê Maree.

Vir fietsry-entoesiaste beskik die monument oor goed onderhoude fietsroetes wat voorsiening maak vir verskeie vaardigheidsvlakke. “Ons fietsroetes bied ’n lekker manier om die omgewing in te neem terwyl jy bietjie oefening kry. Dis ’n fantastiese opsie vir gesinne en individue,” beklemtoon Maree.

Die Voortrekkermonumentgronde spog ook met indrukwekkende botaniese diversiteit. Die monument se terrein is die tuiste vir 47 boomsoorte, 19 blomspesies en ses soorte gras.

Volgens Maree is opwindende verwikkelinge ook op die horison. ’n Nuwe plantkwekery is in die pyplyn, wat belowe om die monument se botaniese aanbod verder te verbeter.

Die kwekery sal die monument toelaat om ons versameling uit te brei en meer opvoedkundige geleenthede te bied vir besoekers wat belangstel in plaaslike flora.

Vroeër vanjaar het die VTM se tuinboukundige, Allan Tait, na maande se navorsing ook die medisinale tuin in die walaer voor die monument uitgebrei.

Tait vertel dat hierdie tuin die medisinale plante verteenwoordig wat die Voortrekkers tydens die Groot Trek as medikasie gebruik het. “Ons wou graag met die uitbreiding van dié tuin vir toeriste die ervaring gee om hierdie plante te ruik en in te dink hoe dit daardie tyd gebruik is,” sê Tait.

Volgens Maree kan wildlewe-entoesiaste ’n lewendige ekosisteem met 12 soorte soogdiere, 11 soorte reptiele en 86 soorte voëls verken. “Ons terrein is ’n toevlugsoord vir biodiversiteit. Dit is nie ongewoon om ’n verskeidenheid voëls of selfs ’n paar skoenlappers te sien nie – daar is 16 soorte wat rondfladder,” sê Maree.

Deur hierdie elemente in te sluit, is die Voortrekkermonument meer as net ’n historiese terrein; dis ’n bestemming vir buitelugavontuur en natuurlike verkenning. “Ons poog om ’n veelsydige ervaring vir ons besoekers te bied,” sê Maree. “Van staproetes en fietsry tot die waarneming van plaaslike wild, daar is soveel om te geniet buite die monument self.”

“Ons wil hê besoekers moet hier wegstap met meer as net ’n herinnering aan die monument self, maar ook van ons kulturele-, historiese- en natuurerfenis. Ons streef daarna om ’n volledige ervaring te bied wat beide ons geskiedenis en die natuurlike skoonheid van ons omgewing vier,” sluit Maree af.

Vir diegene wat belangstel om die vele fasette van die Voortrekkermonument te verken, insluitend sy buitelugaktiwiteite en natuurlike besienswaardighede, besoek gerus die monument se webwerf by www.vtm.org.za

Ondersteun ook die monument sodat ons die ryk erfenis wat jy hier ervaar, volhoubaar kan aanbied en ook aan die gemeenskap kan teruggee. Klik hier: https://vtm.org.za/donasies/

Marianne Pouwels