31 Mei 2025 was ’n yskoue Saterdagoggend, maar een vol verwagting. Vanjaar, presies 123 jaar ná die ondertekening van die Vrede van Vereeniging, het ’n groep mense in Vereeniging saamgetrek. Geskiedenisgeesdriftiges en belangstellendes was almal daar met ’n gevoel van eerbied en nuuskierigheid. Met ’n beker stomende koffie en beskuit in die hand om die koue te trotseer, het ’n reis begin wat nie net die verstand sou voed nie, maar ook die hart diep sou raak.

Die eerste stop was die historiese Vredesboom. Hier is onderhandelinge gevoer wat die Anglo-Boereoorlog ná drie uitmergelende jare tot ’n einde gebring het. In die stilte onder die ou takke is kranse gelê – ’n stille gebaar vir ’n gelaaide geskiedenis. Die plek het gespreek van swaarkry, maar ook van hoop. Dit was asof die boom self fluister van die las en die vrede wat stadig begin wortelskiet het. Van daar het die groep na die Vredesmonument beweeg. Die woorde op dié monument, “Gewond maar onoorwonne”, het soos ’n goue draad deur die dag geloop. Dié woorde het by elke stilhouplek weerklink – ’n getuienis van die Afrikanervolk se storie: getref, maar nooit gebreek nie.

Die volgende stilhouplek was die konsentrasiekampbegraafplaas in Vereeniging. ’n Swaar stilte het oor die groep gedaal met die dramatiese voordrag van Jan F.E. Celliers se gedig “Dis al”. Die woorde het die teenwoordiges nie net laat onthou nie, maar hulle ook laat voel. Die pyn en verlies van die oorlog het weer lewendig geword, en ’n mens kon nie anders as om te wonder oor die onmenslike toestande wat soveel lyding gebring het nie.

In Meyerton was die Witkop-blokhuis, een van die min oorspronklike blokhuise wat nog staan, ’n groot verrassing. Daar het die Dundee Diehards-heruitvoeringsklub ’n skyngeveg aangebied. Skielik het die verlede ’n gesig gekry – stof, gewere, bevelskrete.

’n Onverwagte draai was ’n besoek aan die Russies-Ortodokse kerk in Midrand, waar ’n gedenksteen opgerig is vir 250 brawe Russe wat vrywillig saam met die Boere geveg het. ’n Roerende seremonie en stories van krygsgevangenes wat deur ’n Russiese skip opgetel is, het die unieke internasionale perspektief van die oorlog na vore gebring.

In Pretoria is Melrose-huis besoek – die plek waar die Vredesverdrag op 31 Mei 1902 onderteken is. Die huis van die Heys-familie het vir ’n oomblik weer asem begin haal. Daar, op daardie vloer, tussen daardie mure, is ’n hoofstuk afgesluit – en ’n nuwe een begin.

Die laaste stop, die Vrou-en-kinderbeeld voor die Voortrekkermonument, was ’n gepaste afsluiting. Charles Rademeyer, FAK-kultuurkoördineerder vir die noordelike provinsies, het met ’n inspirerende boodskap afgesluit: “Hoewel die volk ná die oorlog verniel en ontwortel was, het hulle weer opgestaan. Met vasberadenheid, geloof en kultuurtrots het hulle weer begin bou – vir hulself en vir hul kinders.”

Die toer het nie net feite oorgedra nie – dit het iets in mense wakker gemaak. Dit was ’n pelgrimstog deur ’n komplekse geskiedenis: ’n reis langs die paaie van verlies, herinnering en volharding. Van die Vredesboom tot Melrose-huis, van grafte tot monumente, het mense saamgestaan, saamgeluister en met hoopvolle harte huiswaarts gekeer.