Deur: Barend Groenewald
Maandag 30 Junie 2025 is ek en drie kollegas op pad na ’n rivierplaas buite die Vrystaatse dorpie Parys. Dit is die begin van ’n reis wat ons na vele geskiedkundige plekke sal neem om insig te kry tot die diepte, geloof en besonderlike oomblikke van die Groot Trek.
By Udolpho-Rivierplaas word ons begroet deur die vriendelike en hardwerkende personeel. Ons word verwelkom met koffie en melktert en word dan geneem op ’n opwindende toer deur die plaas. Ons leer oor die Vryheidsoorloë en verken die ooptes agter op ’n plaasbakkie. Onder die Afrika-son met berge in die verte kruip die gevoel van vryheid ’n mens binne. Daar word ook besoek afgelê by die pragtige rivieroewer-akkommodasie langs die Vaalrivier. Vriendelike, warm Afrikanergasvryheid saam met smaaklike braaivleis, paptert en groenslaai sluit die eerste dag van ons reis af.
’n Witgerypte grasperk met die eerste sonstrale groet ons vroegoggend. Ons verlaat Udolpho-Rivierplaas vir die geskiedkundige Vegkop waar die Voortrekkers teen die Matabeles te staan gekom het. Hier aan die rand van die kop bekyk ons die oop vlaktes om ’n blik te kry oor die gruwelende gesig wat die Voortrekkers ervaar het. Hoe moes dit gevoel het om na dae van angswekkende vlug die vyand vlak in die oë te kyk en hulle te oorwin?
Vanaf Vegkop reis ons oor oop, ruim Vrystaatse vlaktes wat die siel laat voel daar kan weer asem geskep word. By die toeristedorpie, Clarens, omring deur die skouspelagtige Maluti-berge vertoef ons ’n rukkie voordat daar na die majestueuse Drakensberg gereis word. Hier by ’n Switseragtige lodge neem ons die hoogtes en dieptes van die Draak in – absoluut betowerend. Die vraag kom op: “Is mens nog in Suid-Afrika?”
Woensdagoggend kronkel ons af teen die berg na die pragtige Kerkenberg – die agterpaaie tussen plase maak die Groot Trek lewendig. Met eie oë sien ons die ossewaspore wat vandag getuig van die epiese tog waar duisende ossewaens oor berge en dale beweeg het.
’n Vinnige stop by Little Switserland en ’n stewige bord kos met manjifieke uitsigte sorg vir ’n ontspannende middagete. Van daar kronkel die pad na die Tower of Pizza waar ons die rustigheid van die plaaslewe inneem – smaaklike pizzas en goeie geselskap maak die aand onvergeetlik.
Soos die pad ons die volgende oggend dieper in Natal lei, bou die klimaks al hoe meer soos ’n borrelende ketel wat kookpunt gaan tref. Anderkant Dundee bereik ons die klimaks – Bloedrivier. Hier in die oop vlaktes, wat afgewissel word deur heuwels, herleef ons die deurslaggewende dag van 16 Desember 1838 – ’n handjie vol Voortrekkers oorwin duisende Zoeloes. Die walaer van 64 ossewaens en die kenmerkende Bloedrivier gee lewe aan die verhaal – die Voortrekkers se geloof, geweerskote, spartelende diere, gillende Zoeloes. ’n Mens kan net dink dat dit vreesaanjaend was en dan besef ’n mens die diep geloof van die Voortrekkers. Die dag wat die Groot Trek ’n sukses gemaak het en ’n pionierende, veerkragtige volk twee eeue later nog steeds heg.
Ons reis het die dieptes van die Groot Trek in ons mooie natuur van Suid-Afrika ontgin. Op die pad het ons hartsmense ontmoet en God se skeppingswerk aanskou. Destyds was dit ’n trek na die bestemming van vryheid, en vandag nog word mens herinner aan daardie diep strewe. Enige Afrikaner sal opnuut ’n trots vir sy of haar volk ervaar op die Vrijheidsreis.



