Deur Charles Rademeyer

Vryheid word dikwels beskryf as die gevoel dat ’n mens nie deur reëls of mense beheer word nie, en wanneer Suid-Afrikaners Vryheidsdag jaarliks op 27 April herdenk, sentreer die openbare diskoers dikwels rondom die oorgang na ’n demokratiese bestel in 1994.

Die begrip “vryheid” is egter veel ouer, ryker en meer kompleks as ’n enkele politieke gebeurtenis. Vir die Afrikaner leef daar ’n dieper, historiese betekenis in hierdie woord – ’n betekenis wat gesmee is in die smeltkroes van ’n pioniersgees. ’n “Vrijheidsreis” vol swaarkry én seges.

Die Voortrekkers: Vryheid as selfbeskikking
Die Groot Trek in die 1830’s en 1840’s was nie bloot ’n volksverhuising nie; dit was ’n radikale vryheidsverklaring.

Die Voortrekkers het die Kaapkolonie verlaat; nie net weens ekonomiese redes nie, maar omdat hulle onderdruk gevoel het deur die Britse administrasie. Die inperking van onder meer hul taal en godsdiensvryheid het tot ’n diepgewortelde gevoel van vervreemding gelei.

Vir die Voortrekker was vryheid nie ’n abstrakte ideaal nie – dit was tasbaar: die reg om hul eie lewenswyse te bepaal, hul eie wette te formuleer, en volgens hul eie kultuur en geloof te leef. Trekleiers soos Piet Retief, Andries Pretorius en Gerrit Maritz het nie net fisies weggetrek nie, maar geestelik onafhanklikheid geëis – mense op soek na ’n tuiste waar hulle hul eie meester kon wees …

Die Boererepublieke: Vryheid as staatsvorm
Hierdie soeke na selfbeskikking het uitgeloop op die stigting van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die Oranje-Vrystaat – twee Boererepublieke wat gebou is op beginsels van volksoewereiniteit. Hier het die begrip vryheid verder gestalte gekry; nie net as persoonlike vryheid nie, maar as kollektiewe onafhanklikheid. Die reg op ’n eie vlag, ’n eie regering, ’n eie taal en ’n eie kultuur.

Tog het hierdie droom van vryheid weer in die visier van imperiale ambisies beland. Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het die Britse Ryk se oog op die Boererepublieke gevestig en só het vryheid weer onder beleg gekom – hierdie keer in die vorm van oorlog.

Die Anglo-Boereoorlog: Vryheid as opoffering
Die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) was ’n epiese stryd waarin die Boerevolk, gewapen met geloof en vasberadenheid, die magtigste wêreldryk van sy tyd die stryd aangesê het.

Die oorlog het die uiterste betekenis van vryheid ontbloot: dat ware vryheid dikwels met bloed, trane en die hoogste prys betaal word.

In konsentrasiekampe is vroue en kinders, asook oues van dae aan die dood oorgelaat – nie as slagoffers van ’n natuurramp nie, maar as gevolg van ’n doelbewuste oorlogstrategie. Tog het hierdie lyding nie die Afrikaner se gees gebreek nie – dit het dit eerder veredel, geanker, gesmee.

Vryheid as identiteit
Vir die Afrikaner is vryheid deur die eeue sinoniem met identiteit. Dit is die reg om te wees wie jy is, sonder inmenging, sonder vernedering, sonder vervreemding. Dit is ’n kultuurbegrip wat nie net in politieke strukture vasgevang is nie, maar in taal, godsdiens, gebruike, tradisies, familie en volksgeheue.

Hierdie vryheid het altyd ’n morele ondertoon gehad: om God eerste te stel, om arbeid eerbaar te ag en om met regverdigheid oor die medemens te regeer – ’n idealistiese strewe, ja, maar opreg nagejaag.

Wanneer ons op 27 April oor vryheid nadink, behoort ons nie ons eie verhaal te vergeet nie. Vryheid is nie ’n geskenk van buite af nie, maar ’n diepgeankerde waarde wat van binne af groei – deur pyn, drome, opofferings en geloof.

Vir die Afrikaner bly vryheid ’n lewende ideaal – nie net om gedenk te word nie, maar om geleef, beskerm en aan die volgende geslag oorgedra te word.

Vryheid vandag: Uitdagings én hoop
Die Afrikaner bevind hom vandag in ’n ingewikkelde werklikheid. Politieke magteloosheid, kulturele marginalisering, ekonomiese uitsluiting, plaasmoorde, rasgedrewe wetgewing. Dit alles vorm ’n hedendaagse “strydgrond” wat dikwels ons strewe na vryheid in sy spore stuit.

Ons taal word met minagting hanteer, ons geskiedenis word herskryf of uitgewis, en ons gemeenskappe word gedwing om aan te pas by strukture wat min ruimte laat vir selfstandigheid of kulturele behoud. Die vryheid om onsself te wees – om ons geloof, taal en waardes uit te leef – is voortdurend onder druk.

Voor in die donker wapad van hierdie uitdagings, brand daar tog ’n helder lig van hoop.

Hoop lê in die gemeenskapsinisiatiewe wat floreer – in skole wat deur eie hande gebou word, in universiteite wat veg-harte kweek, in boerderye wat volhard ten spyte van terugslae, in kultuurorganisasies, koorsang, kunstefeeste, die behoud van Afrikaanse publikasies, en die bewaring van monumente, historiese bakens en erfenisterreine.

Hoop lê in die herontdekking van ons gemeenskap se selfstandigheid – nie afhanklik van staatsbystand nie, maar op eie bene, met arbeid, entrepreneurskap, geloof en toewyding as grondslag. Die Afrikaner floreer waar hy saamstaan, bou en sélf die toekoms skep.

Ons strewe na vryheid vandag is nie polities of geografies nie. Dit is bowenal ’n kulturele en geestelike vryheid: die vryheid om betekenisvol te leef, die vryheid om ons kinders in hul moedertaal te leer, om ons waardes te handhaaf en ’n nalatenskap te skep wat nie die opofferings van die verlede vergeet nie.

Soos die Voortrekkers, soos die Boere van die kommando’s, het ons ook ’n roeping – nie om te vlug nie, maar om te vestig, te bou en ’n toekoms te skep waarin vryheid nie net ’n herinnering is nie, maar ’n werklikheid wat leef, groei en oorgedra word: Dit is ons voorreg en Vryheidsdagopdrag!

Charles Rademeyer is kultuurkoördineerder van die FAK.