Mediaverklaring

9 April 2024

Die Rustenburg-navorsingsfees het dié dorp die afgelope naweek behoorlik laat wemel.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge se Rustenburg-Kultuurnetwerk het Stigtingsdag (6 April 1652, toe Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het) aan die hand van ’n familienavorsingsfees gevier, waar lede van die publiek die geleentheid gekry het om hul familiewortels op te grawe.

“Die atmosfeer het oorgeloop van trots dat mense hul wortels kan ontdek. Diegene wat die fees bygewoon het, het daar uitgestap met soveel hoop vir die toekoms noudat hulle weet waar hulle vandaan kom, en is dankbaar dat die FAK se Rustenburg-Kultuurnetwerk hierdie tipe geleentheid in die gemeenskap aangebied het.”

Só sê Charles Rademeyer, kultuurkoördineerder van die FAK in die Noordelike streke van die land.

Ywerige navorsers het die geleentheid gehad om saam met familiebonde te werk om hul familielyne op te spoor en insiggewende toesprake is deur topkenners in die veld aangebied. Die fees het by die Nederduitsch Hervormde Kerk Rustenburg-Suid plaasgevind.

Isabel Groesbeek, bekende genealoog, het haar toespraak gelewer oor waar om te begin met familienavorsing. Rentia Landman, lid van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, het die bywoners ingelig oor bronne wat hulle op die internet kan raadpleeg en familieverhale. Peet Coetzee het met die gemeenskap gesels oor die pionierfamilies van Rustenburg.

Ds. Stefan Botha, voorsitter van die FAK-Rustenburg-Kultuurnetwerk, vertel dat die familienavorsingsfees juis op Stigtingsdag gehou is.

“Dit het alles begin met die dagregister van Jan van Riebeeck, waar hy op die 6de April 1654 skryf dat hulle terugkyk op die twee jaar wat hulle oorleef het aan die Kaap te midde van die oorlog wat op daardie stadium tussen Nederland en Engeland was,” sê ds. Botha.

Ds. Botha verduidelik dat die verversingspos nog kwesbaar was en die oeste nie altyd ’n sukses nie.

“Hy (Van Riebeeck) sê in sy dagregister dat onder die hand van die Here en die genade van die Here het hulle gevestig geraak. Hy skryf ook in sy dagregister dat die 6de April vir altyd ’n dank- en biddag moet wees. Dit moet ’n dag wees waarop ons terugkyk en dankie sê vir die beskermende hand van die Here en die seën wat die Here oor ons uitstort. Dan skryf hy ook in sy dagboek dat dit vir die nageslag altyd behoue moet bly.

“Ons het juis die 6de April gekies omdat die dag bietjie vervaag het … waar dit altyd ’n vakansiedag was en ’n dag van onthou, het dit nou net nog ’n dag geword. Dit is nie net die groter geskiedenis wat ons onthou nie, maar ook families se geskiedenis,” sê Botha.

“Ons hoop dat elke jongmens wat net hul eie verhaal, hul eie familie se verhaal, bietjie opsoek, sal sien dat die Here se hand ook in hul familiegeskiedenis was,” sê ds. Botha.

Elandsprag en Magalieskruin Voortrekkerkommando’s het die Rustenburg-navorsingsfees bygewoon en die Afrikanerjeug bemagtig om hul fondasie sterk te maak sodat die toekoms daarop gebou kan word.

Raak betrokke by interessante geleenthede soos dié deur by jou naaste kultuurnetwerk aan te sluit. Besoek gerus https://fak.org.za/kultuurnetwerke/