Die oënskynlike verbrokkeling van regeringsmag en die nuwe regering van nasionale eenheid (RNE) kan selfs ’n positiewe invloed op die toekoms van Afrikaanse onderwys hê.

In die nasionale verkiesing van Junie het die ANC sy meerderheid verloor, verskeie nuwe ministers is aangestel, portefeuljekomitees is geskommel en die parlement is aansienlik vergroot. Daar is gehoop dat die uitkoms van die verkiesing ook ’n nuwe dinamiek in onderwys sal bring en die BELA-wet van die president se tafel sal vee.

Die beplande BELA-wet sal die Departement van Basiese Onderwys (DBO) die finale gesag gee oor die toelatings- en taalbeleide van skole wat die rol van skoolbeheerliggame (SBL) sal verwater en meer finansiële verslagdoening deur die SBL vereis.

Dit sal ook Graad R verpligtend maak, iets wat enorme finansiële insette gaan vereis – geld wat die staat nie het nie. Die BELA-wet is in wese ’n poging om gemeenskappe van die mag te ontneem om oor hul skole se taal en toelating te besluit. Solidariteit se hoofraad het op 25 Julie 2024 ’n mosie aanvaar dat die wysigingswet in die geheel teengestaan moet word en ’n litigasiestrategie goedgekeur om te keer dat BELA deurgevoer word. Alle beskikbare internasionale en regsinstrumente sal gebruik word om moedertaalonderwys te beskerm.

Dit is belangrik om te verstaan dat BELA nog steeds enige tyd deur die president onderteken kan word. Indien enige gedeelte van die wysigingswet verander of geskrap moet word, moet die hele wet terugverwys word na die parlement. Die president kan nie BELA onderteken en bloot sekere dele uitsluit nie.

Aanvanklike onderhandelinge en ondernemings wat met die oog op die RNE gedoen is, het baie duidelik gemaak dat BELA in die huidige vorm onaanvaarbaar is en terugverwys moet word vir hersiening.

Noudat die RNE egter saamgestel is en die ANC weereens vir hulself ’n meerderheid geskep het met al die nuwe adjunkministerposte, lê dié wetgewing – drie maande na die verkiesing – steeds op die president se tafel. Dit is ’n handige manipulasie-instrument om steeds die ANC se wil af te dwing. Pogings van minister Siviwe Gwarube, die nuutaangestelde minister van die DBO, om BELA terug te verwys na die parlement, het sover geen vrugte afgewerp nie.

Daar is steeds hoop dat minister Gwarube se pogings om die wet terug te verwys na die parlement, sal vrugte afwerp. Daar is egter baie druk uit die ANC en die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) se geledere om die wet te onderteken. Dit is daarom van uiterste belang dat funksionele skole, demokratiese belangegroepe en kultuurgemeenskappe volgehoue druk uitoefen om die wet finaal te skrap.

Die outonomiteit van skole móét gerespekteer word en wetgewing moet in ’n positiewe rigting aangepas word.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum (SOS)