Die gewilde FAK Familie- & Erfenisfees te Pretoria keer in ’n nuwe baadjie terug.

Die FAK se Genealogielessenaar vat hande met die Voortrekkermonument (VTM) en die Erfenisstigting (ES) om genealogie en erfenisaktiwiteite by een groot feesterrein te kombineer.

Die Genealogie-afdeling van die fees word deur die FAK in samewerking met Isabel Groesbeek, wat reeds langer as vier-en-dertig jaar by genealogie as wetenskap betrokke is, georganiseer.

Ons moedig die publiek aan om die kans te benut om kundiges rondom familiestambome en familie-erfenis in ’n feesatmosfeer te ontmoet. Bring jou familieleidrade en vrae.

Die fees vind op Maandag 25 September 2023 van 08:00 tot 15:00 in die Voortrekkersaal op die Voortrekkermonumentterrein plaas.

Die doelstellings van die fees is om genealogie aan die wyer publiek bekend te stel met behulp van uitstallings deur navorsers, familiebonde, genealogiese en familiegeskiedenisverenigings.

Uitstallers sluit die volgende in: FAK Genealogielessenaar, Die Erfenisstigting (Navorsingsbiblioteek, Argief & Museum), Bartmann-familie, Bekker-familie, Booyse/Booysen/Booyzen-familie, Botha-familie, Claassen/De Jager-familie, De Lange-familie, De Vaal-familie, Dreyer-familie, Du Plooy-familie, Fourie-familiebond, Human-familie, Jamison/Kruger-familie, die Lamprecht-familiebond, die Malan-familiebond, die Swart-familiebond, Vorster-familie, asook die Genealogiese Genootskap van SA (GGSA), die Hugenote Vereniging van SA, die Aristata Boekwinkel, die publikasie NG Kerkboek – ons erfenis, en Volkskuns.

Aktiwiteite vir kinders, onder andere ’n poppekas met Oupa Uil en erfenispretspeletjies, kleur die dag in. Maak gebruik van die geleentheid om besoek af te lê aan die Historiese Trekroetetuin, asook die Voortrekkermonument en al sy besienswaardighede.

Kom geniet ook verversings by die Skool op Wiele- & Uitspan-restaurant.

Toegang na die fees, insluitende veilige parkering, is beskikbaar teen slegs R30 per persoon en R15 vir pensioenarisse en kinders 18 jaar en jonger.

Navrae aangaande die feesgebeure kan aan Isabel Groesbeek gerig word by isabel@kultuurtuiste.org.za of via www.genealogielessenaar.com