Wonder jy nog altyd oor jou familiewortels of waar jy by die groter familienetwerk inpas?

Nou hoef jy nie meer te wonder nie, want danksy die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se nuwe aanlyn genealogielessenaar kan jy op ’n
speurtog gaan om jou familiewortels te ontdek.

Die nuwe webblad: www.genealogielessenaar.com laat jou nou toe om meer uit te vind oor genealogie en hoe jy dan te werk moet gaan om meer oor jou voorouers uit te vind.

Die gerekende genealoog Isabel Groesbeek, wat familielyne vir meer as 30 jaar naspoor en sedert die begin van die jaar deel is van die FAK-familie, staan aan die hoof van dié navorsingslessenaar. Sy bied sedert 2000 die ‘Van waar Gehasi?’-werkswinkels aan om mense meer vertroud met genealogie te maak en om hulle meer te leer oor hoe om hulle familiewortels te ontdek.

Die FAK het weens die koronavirus-pandemie en verpligte tuisinperking op 14 April sy heel eerste virtuele ‘Van waar Gehasi?’-werkswinkel aangebied, waar belangstellendes eerstehands meer oor hulle families kon leer.

Foto is ter illustrasie van ‘n iemand wat via die internet ‘n kursus bywoon

Johannes Grobler van Limpopo en Renate Scheepers van Jeffreysbaai het in hierdie geskiedkundige eerste meer oor hulle eie families uitgevind. Renate het na afloop van die aanlyn kursus gesê dit was ‘n belewenis.

“Baie dankie. Ek is so bly ek het dit gedoen. Dit was elke sent werd.”

In hierdie kursus kan tot agt mense oor Zoom met hulle rekenaars inskakel, waar Isabel hulle meer sal vertel oor wat genealogie is, watter tipe navorsing jy moet onderneem, waar en hoe jy moet begin, watter bronne geraadpleeg moet word, waar vind jy hierdie bronne, watter rekenaarprogram jy moet gebruik en hoe jy die internet kan benut.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sien die FAK genealogie as ’n belangrike sleutel om die historiese geheueverlies onder kinders aan te spreek.

“Deur genealogie weet elkeen in die gesin waar hy vandaan kom en dit gee baie
raakpunte om ook met kinders te gesels oor die konteks waarin hulle ouers en
grootouers geleef het. Afrikaners is een van die min volke ter wêreld wie se rekords redelik volledig tot die 17de eeu terugstrek.

Die FAK het ervaar daar is onder gesinne en families ’n nuwe belangstelling in wie ons is en waar ons vandaan kom. Udolpho, die FAK se kultuurvakansieplaas naby Parys, is vir familiesaamtrekke veral gewild. Daar is ’n toename in besprekings van families wat duidelik dui op ’n groot behoefte,” aldus Langner.

Die Genealogielessenaar is juis gevestig om by te dra tot die bewusmaking en
bewaring van persoonlike familiegeskiedenis as onderbou van algemene Afrikaanse
kultuurerfenis.

Alhoewel genealogiese navorsing wêreldwyd een van die belangstellings/stokperdjies is wat jaarliks groei, is genealogiese navorsing tans in Suid-Afrika aangewese op enkele professionele navorsers, vrywilligers in die vakvereniging, die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika en biblioteek- en argiefdienste verspreid oor die land. Die internet skep ook die gevaar dat belangstellendes data net klakkeloos naskryf sonder raadpleging van primêre bronne.

Die FAK-Genealogielessenaar wil juis daarom ’n genealogiese inligtingsdiens aan die
breër publiek lewer, genealogiese navorsing aanmoedig, belangstellendes met
wetenskaplike navorsingsmetodiek toerus en ’n genealogiese dataregister opbou.

Belangstellendes vir die volgende eerste virtuele ‘Van waar Gehasi?’-genealogiewerkswinkels kan ’n e-pos stuur aan isabel@fak.org.za.