In 1870 vertrek vier Marais-broers, Frederik, Abraham, Christian en Jannie, vanaf hulle geboorteplaas Coetzenburg, toe nog op die buitewyke van Stellenbosch, na die Gong Gong-diamantdelwery tussen die Vaal- en Hartsrivier in die Noord-Kaap. Soos baie ander delwers is hulle hoopvol om diamante te vind. Vanaf Gong Gong gaan hulle in 1871 na Kimberley met die groot stormloop.
Die broers se harde werk, deursettingsvermoë en vindingrykheid om geleenthede te benut word beloon. Na 20 jaar keer Jannie Marais terug na Stellenbosch as ’n vermoënde man en raak hy betrokke by talle ondernemings en inisiatiewe op Stellenbosch waartoe hy en sy broers finansieel ruim bydra. Hieronder tel die vestiging van Victoria-kollege as ’n volwaardige universiteit, bydraes tot die oprigting van universiteitsgeboue, koshuise en sportvelde, die Stellenbosch-stadsaal, ’n hospitaal, die Christelijke Jongelieden Vereniging-saal en die oprigting van NASPERS en die Afrikaanse koerant, 𝘋𝘪𝘦 𝘉𝘶𝘳𝘨𝘦𝘳.
Op Saterdag 24 Mei het ’n groep FAK-vriende deur Stellenbosch gereis om die storie van Jannie Marais, die Goeie Gewer soos hy bekend geword het, te hoor, hom as mens te leer ken en dít wat hy nagelaat het te besoek. Die groep ontmoet mekaar by die graf van Jannie Marais in die Onder-Papegaaiberg- begraafplaas. Jannie was die jongste van nege kinders waarvan die meeste met hulle eggenotes hier in ’n Marais-akker langs hul ouers begrawe is.

Jannie en sy vrou Elizabeth (tante Bes) was kinderloos. Hulle was geliefd onder die studente en het dikwels studente by hul huis op Coetzenburg ontvang. Tante Bes het menige student gemotiveer en geïnspireer. Op die universiteitsplein, waar baie studente daagliks beweeg, staan ’n standbeeld van Jannie Marais deur die beeldhouer Coert Steynberg. Ons gesels lekker oor hierdie man tydens besoeke aan die argief en die biblioteek. Jannie Marais was nederig, nie iemand wat op die voorgrond wou wees nie. Ons vertoef by geboue wat met hom verband hou en besoek sy eertydse woonhuis voor ons ’n heerlike samesyn rondom ’n interessante storie uit ons geskiedenis afsluit met ’n middagete in die Jannie Marais Botaniese Tuin.
Jannie Henoch Marais, ’n Franse Hugenote-afstammeling van die stamvader Charles Gerhardus Marais wat in 1688 met sy gesin met die skip 𝘝𝘰𝘰𝘳𝘴𝘤𝘩𝘰𝘰𝘵𝘦𝘯 na die Kaap gekom het, is op 30 Mei 1915 oorlede, hierdie maand 110 jaar gelede. Die FAK huldig hom vir die bydrae wat hy gemaak het tot die bevordering van Afrikaans en hoër onderwys