Die afgelope naweek het die NG Kerk Elarduspark gasheer gespeel vir die 11de jaarlikse Afri-Duetfees, ’n geleentheid wat ’n gekoesterde tradisie in die viering van Afrikaanse musiek geword het.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) sorg elke jaar dat dié fees ’n groot hoogtepunt op die Afrikaanse kultuurkalender is, tog staan vanjaar se fees uit in die Afri-Duet-geskiedenis want vanjaar is hulde gebring aan die soldate wat van 1964 tot 1989 in die Grensoorlog in die noordelike streke van Suid-Afrika geveg het.
Die hoogtepunt van die fees was die oorhandiging van die FAK-toekenning vir Lewensbydrae tot die Afrikaanse musiekskat. Hierdie gesogte toekenning is opgedra aan die dapper manne wat tydens die Grensoorlog gedien het, met erkenning aan hul onskatbare invloed op ons musikale erfenis.
Hierdie soldate het liedere geïnspireer wat die hoop, gebede en emosies van ’n nasie gedra het.
Dr. Danie Langner, bestuurdende direkteur van die FAK, sê hy is trots om te kan sê die Pro Partia Militêre Museum is by die Fort Schanskop by die Voortrekkermonument.
“Elkeen wat betrokke is, elkeen wat ’n skenking gemaak het, vir die opoffering en vir die onthou en vir die onthou. En daarmee saam ook ’n belofte dat dit vir ons ’n saak van erens is as kultuurgemeenskap, die Voortrekkermonument, Die Erfenisstigting, FAK, elke organisasie betrokke om ssam met u die geskiedenis in beskerming te neem en te onthou, sê Langner.
Generaal-majoor Lawrence Smith, voorsitter van die Pro Patria-museum by die Voortrekkermonument, het die toekenning namens al die soldate wat in daardie tyd diens gedoen het, in ontvangs geneem.
Smith het sy waardering teenoor die FAK uitgespreek.
“Die Pro Patria manne en vroue is verheug dat daar 35 jaar na die tyd, deur ’n nasionalevlakentiteit, die FAK, erkenning gegee word aan hul bydrae. Hierdie generasie het ’n belangrike konflik in ons land se geskiedenis, vir 23 jaar enduit gevoer, met baie bloed, sweet en trane. Ons het regtig groot waardering vir hierdie toekenning.”
“Die nasionale dienspligtydperk het ’n kultuur van sy eie geskep. Dit sluit nie net musiek wat uniek aan hierdie tydsgleuf is in nie, maar ook ’n etos van spanwerk, integriteit en ’n waardestelsel wat enig in sy soort is. Hierdie geslag se lewensuitkyk het ontwikkel en is gevestig deur hulle ervarings as lede van die Suid-Afrikaanse weermag. Dit is baie lekker om te weet dat ander medelandsburgers hierdie bydrae raaksien en genoeg omgee om erkenning op ’n tasbare wyse daarvoor te gee,” sê Smith.
Ds. Cassie Aucamp, organiseerder van die Afri-Duetfees, het die belangrikheid van hierdie huldeblyk beklemtoon.
“Die temalied van die musiekblyspel ‘Tree Aan: Ons sal onthou!’ weerspieël presies wat ons vanjaar beoog het om te bereik – om diegene wat op die grens was te vereer en te onthou.”
Die opbrengs van die fees is aan die Pro Patria-museum by Fort Schanskop geskenk, wat sy missie ondersteun om die nalatenskap van hierdie soldate te bewaar.
Die geleentheid het vier uitsonderlike duetpare gehad, noukeurig gekies om by hierdie spesiale geleentheid op te tree. Dit sluit in sangers soos Jannie Moolman, Helene Bester, Hendri Myburgh, Nadia Beukes, Louis Loock, Loriska Schmidt, Christopher Vale en Esté Gross. Benewens musiek uit die Grensoorlog-era, het hulle gehore bekoor met ’n verskeidenheid liedjies uit musiekblyspele, rolprente en operas, sowel as romantiese en gewyde stukke. Die bekende musiekensemble, weereens gelei deur Liesl du Plessis, het gesorg vir uitsonderlike begeleiding en ’n onvergeetlike ervaring vir alle gaste.