Die gevandaliseerde Trichard-Potgieter-Monument op die R532, noord van Graskop tussen God’s Window en Bourke’s Luck, is tot sy eertydse glorie herstel en op Saterdag 28 Junie weer onthul.

Johan de Bruin, bemarkingsbeampte van die Kultuurtuiste het ook moue opgerol om die gevandaliseerde Trichardt-Potgieter-Monument te herstel. (Foto: Charles Rademeyer)
Hierdie erfenisbaken is in 1976 ter ere aan die twee Voortrekkerleiers, Andries Hendrik Potgieter en Karel Trichardt deur die Rapportryers opgerig. Albei leiers het deur dié gebied getrek om ’n roete na die kus te vind.
Dié monument kan nou weer trots in die Laeveld-son pryk danksy die privaat vervolger, Paul O’Sullivan, en die FAK.

Jaco van Niekerk, beeldhouer van die Kultuurtuiste aan die werk om die Trichardt-Potgieter-Monument te herstel. (Foto: Johan de Bruin)
Gedurende sy navorsingswerk in ’n ondersoek na bedrieglike grondhervormingstransaksies in die gebied het O’Sullivan op die geskiedenis van hierdie erfenisbaken afgekom en vervolgens besluit om vir die FAK geld te skenk om dit te herstel. Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die noordelike provinsies; Johan de Bruin, bemarkingsbeampte en Jaco van Niekerk, beeldhouer van die Kultuurtuiste het vanaf 24 tot 27 Junie herstelwerk gedoen en die onthulling op 28 Junie behartig.

Lede van verskeie organisasies het die heronthulling van die Trichard-Potgieter-Monument bygewoon. (Foto: Johan de Bruin)
“Die Voortrekkers was nie net pioniers nie,” sê Rademeyer, “hulle was bouers van ’n wêreldbeskouing. Hulle het geweet: as jy jou plek in die wêreld wil behou, moet jy weet wie jy is. Jy moet jou wortels verstaan. Hulle het geweet om iets nuuts te begin, beteken nie om die verlede te vergeet nie – dit beteken om dit saam te dra as fondament.”
Hierdie monument is ook van historiese waarde deurdat die benoeming van die Treur- en Blyderiviere aan hierdie erfenisbaken verbind kan word.

Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder van die noordelike provinsies, oorhandig ’n toekenning aan Paul O’Sullivan van O’Sullivan Brosnan & Associates wat dit vir die FAK finansieel moontlik gemaak het om die monument te herstel. (Foto: Johan de Bruin)
Potgieter het ’n gedeelte van sy trekgeselskap in die omgewing, waar die monument opgerig is, agtergelaat terwyl hy op soek was na ’n roete na die kus. Nadat hy vir ’n geruime tyd nie teruggekeer het nie, het sy trekgeselskap vermoed dat hy omgekom het en die naaste rivier die Treurrivier genoem. Hy het egter later veilig teruggekeer en toe het hulle die volgende rivier die Blyderivier genoem.

Paul O’Sullivan en dr. Gerrit Haarhoff in gesprek tydens die heronthulling van die Trichardt-Potgieter-Monument. (Foto: Johan de Bruin)
’n Jaar later het Karel Trichardt (seun van Louis Trichardt) dieselfde roete as Potgieter gevolg om goedere by Delagoabaai te begin verhandel.
Van die gaste by die heronthulling was die oorspronklike Rapportryers wat in 1976 die monument gebou het, nasate van Karel Trichardt en Andries Potgieter, asook die M.O.T.H’s se Jock Shellhole in Sabie.
Die navorser en geskiedskrywer, dr. Gerrit Haarhoff, het ’n pragtige historiese beeld van daardie tydperk geskets en Frederik Brits van die FAK-Pietersburg-Kultuurnetwerk het die belangrikheid van erfenisbewaring uitgelig.

Frederik Brits, geskiedenisliefhebber en lid van die FAK-Pietersburg-Kultuurnetwerk verduidelik die belangrikheid van erfenisbewaring. (Foto: Johan de Bruin)
“Die herstelwerk aan hierdie monument was nie maklik nie,” sê Rademeyer. Dit het opoffering geverg, tyd, handearbeid en ’n diep liefde vir ons geskiedenis. Maar dit was ook ’n groot voorreg. Want elke klip wat herstel is, is ’n klip wat weer begin praat – van moed, van reis, van geloof en van roeping.
“Namens die FAK bedank ek elkeen wat betrokke was. Vandag plant ons weer die vlag van herinnering – nie net vir onsself nie, maar vir geslagte wat kom. Laat ons vandag luister – nie net met ons ore nie, maar met ons harte,” het hy tydens die heronthulling gesê.

Vandag is die Trichardt-Potgieter-Monument weer tot sy volle glorie herstel. (Foto: Johan de Bruin)
Word ’n vriend van die FAK en help ons om erfenisbakens soos dié vir die nageslag te bewaar. Klik hier: https://sluit-aan.fak.org.za