Prof. Adriaan Moorrees is ’n teologiese reus en word in dié kringe vereer vir die blywende impak wat hy op dié front gemaak het.

Personeel van die FAK in die Wes-Kaap het op die 85ste herdenking van die afsterwe van prof. Adriaan Moorrees sy graf in die Maitland-begraafplaas besoek en skoongemaak. Prof. Moorrees is 85 jaar gelede op 17 November 1938 oorlede.

Die Africana-afdeling van die Universiteit van Stellenbosch se biblioteek is ook besoek. Moorrees was visekanselier en later kanselier van hierdie universiteit en die biblioteek huisves ’n borsbeeld, deur die ene Anton van Wouw, asook dokumentasie en publikasies deur Moorrees.

In veilige bewaring van dié universiteit is onder andere sy Nederlandse digbundel Zevenjaartjes te vinde.

Elizma Smith, kultuurorganiseerder van die FAK in die Suidelike streke van Suid-Afrika, is van mening dat Moorrees waarlik bewonderenswaardig is.

“Vanuit alles wat ek van Moorrees opgelees het, is dit duidelik dat hy ontsettend deeglik en netjies was. Hy is waarlik uitnemend in alles wat hy aangepak het. As jy na sy beeld kyk, kan jy sommer sien hierdie was ’n agtermekaar ou wat gesag afgedwing het. Hy het met waardigheid gelei en wanneer hy gevolg het, het hy ook met waardigheid gevolg.”

Smith vertel dat hy ’n stabiliserende faktor in die gemeente was en dat die gemeentelede en gemeenskap hom dikwels genader het in moeilike situasies. Hy het hierdie sake dan kalm en rustig hanteer. Hy kon ’n plofbare saak ontlont.

“Ons kan vandag nog iets by hom leer en dit is om goed en netjies en deeglik te wees in alles wat jy aanpak,” sê Smith.

As taalkundige was hy goed onderleg in Nederlands, het geskryf en gedig in Nederlands en het hom onvermoeid bearbei in die belang van Nederlands in Suid-Afrika. Hy was stigterslid en voorsitter van die Zuid-Afrikaans Akademie en die Suid-Afrikaanse Taalbond. In 1919 het hy ’n eredoktorsgraad in Letterkunde ontvang.

Moorrees se impak kom duidelik na vore wanneer gekyk word na sy begrafnisbrief, wat ook by die universiteit bewaar word.

Niks minder nie as ses predikante het uiteindelik ’n aandeel gehad in Moorrees se begrafnis en is in opsigself ’n pragtige huldeblyk tot sy lewe en lewensbydrae.

Die FAK-kultuurnetwerke onthou die reuse wat baanbrekerswerk vir Suid-Afrika gedoen het en nooi die publiek uit om betrokke te raak by die FAK-kultuurnetwerk in hul gemeenskap om saam ’n verskil te maak.