Wanneer jy vandag teen die trappe van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl opstap, trek die woorde “Dit is ons erns”, in groot letters uitgeëts in die plaveisel van die paadjie na die monument, dadelik jou aandag … Dit is nie net woorde nie, maar ’n opdrag om eienaarskap van jou taal te neem; ’n opdrag wat in 1905 reeds ontstaan het toe Jan Hofmeyr aan ’n groep Stellenboschse studente vra “Is’t ons ernst?”

Vandag 120 jaar gelede, op 6 Maart 1905, staan Jan Hendrik Hofmeyr voor ’n gehoor van studente en lewer ’n later bekende toespraak – “Is’t ons ernst?”. Die Anglo-Boereoorlog het onlangs in 1902 tot ’n einde gekom. Die Afrikaanse Patriot verskyn nog tot 1904 en Ons Klyntji tot 1905 en die eerste taalbeweging vir Afrikaans van die Genootskap van Regte Afrikaners het met die oorlog stoom verloor.

Hofmeyr is deeglik bewus van die verengelsing in skole en kerke en algemene omgang wat nou, nadat Brittanje beheer oor Suid-Afrika oorgeneem het, in felheid toeneem.

Hofmeyr, Onze Jan soos hy ook genoem is, was ’n vurige voorstander van Nederlands en doen moet sy toespraak ’n ernstige beroep op volksgenote om Nederlands te handhaaf teen die aanslae van verengelsing.
Ná die oorlog het bevordering van Afrikaans natuurlik ook met nuwe ywer posgevat. Hofmeyr se vraag sou ook weer weerklank vind.

Vanaf April tot Junie 1905 gebruik Gustav Preller, Onze Jan se wekvraag wanneer hy onder die opskrif “Laat’t ons toch ernst wezen” ’n reeks artikels skryf om erns oor Afrikaans te bevorder.

Weer op Stellenbosch, in Augustus 1908, reageer dr. D.F. Malan op Jan Hofmeyr se vraag drie jaar tevore wanneer hy in sy toespraak verklaar: “Het is ons ernst”. Hy verwys na taal wat gebore word in die volkshart en leef in die volksmond. Afrikaans is die antwoord en dit moet nie net gepraat nie, maar ook geskryf word.

Jare later toe die taalfeeskomitee ’n tema soek vir die 1975 Taalfeesjaar, was “Dit is ons erns” ook een van die voorstelle en dit word inderdaad gekies as die feestema.

Ons taal is ons erns. Twintig jaar na Jan Hofmeyr se 1905-toespraak word Afrikaans in 1925 as amptelike landstaal erken en nog 50 jaar later in 1975 word die woorde verewig voor die Afrikaanse taalmonument.
Die FAK vier ook vanjaar Afrikaans 100, die 100-jaar-herdenking van Afrikaans as amptelike taal van Suid-Afrika bou ons voort op die nalatenskap van Hofmeyr met ’n luidkeelse “dit ís ons erns”.

Ziegfried van Huyssteen, die bedryfshoof van die FAK, sê hy is baie opgewonde dat ons met Afrikaans 100 nie net ons taal kan vier nie, maar kan bou op die nalatenskap van taalstryders soos Hofmeyr en Preller en ons taal die volgende honderd jaar en honderd jaar daarna kan indra.

Volgens Van Huyssteen vier die FAK elke dag die mooi van ons taal, hetsy dit met ’n musiekprojek, slypskool, skoonmaakaksie of konsert is.

“Vanjaar pak ons baie opwindende projekte aan om Afrikaans se eeufees te vier en ons wil elke Afrikaanssprekende, oud en jonk, aanmoedig om saam met ons dié ongelooflike mylpaal vir ons taal te vier. 120 jaar gelede het Hofmeyr gevra ‘Is’t ons ernst?’ en vanjaar is die FAK se antwoord, soos elke jaar ‘Ja, ons taal is steeds ons erns’,” sê Van Huyssteen.

Hy voeg by dat in ’n tyd soos vandag waar Afrikaans weer in die spervuur is met situasies soos die verandering van die BELA-wet, wat ons taal se toekoms in skole bedreig, “is dit vanjaar belangriker as ooit om ons moedertaal te beskerm en vir ons is Afrikaans 100 die perfekte geleentheid om te wys waarom Afrikaans steeds ’n amptelike landstaal is en móét belangrik wees.”