“Afrikaans het nie uit niks ontstaan nie. Daar was eeue van botsings en bydraes, ryk verhale, wat tot haar vorming gelei het. Deur dié stories te herontdek, gee ons mense weer ’n gevoel van eienaarskap van hul taal.”

Só sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, oor sy nuutste publikasie Hoek toe of hof toe? wat op 13 Augustus tydens ’n luisterryke geleentheid in die FAK-Liedjietuin by die Voortrekkermonument bekendgestel is.

Hoek toe of hof toe? ondersoek die ontstaan en toekoms van Afrikaans deur die oë van ’n jong regsstudent wat die taal in ’n fiktiewe hof in die beskuldigdebank plaas. Dit is ’n vars blik op die taalstryd van vóór die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 tot Afrikaans in 1925 ’n amptelike landstaal geword het.

Hoek toe of hof toe? is meer as ’n historiese oorsig – dit is ’n uitnodiging om eerlik én nuuskierig te kyk na die mense, besluite en strukture wat Afrikaans help vorm het. Die boek plaas nie net pioniers op ’n voetstuk nie, maar bring ook hul menslikheid en teenstrydighede na vore.

Dit sluit figure in soos Pierre Simond, S.J. du Toit, Jan Lion Cachet, John Daniël Kestell en Mabel Malherbe. Argiefmateriaal soos briewe, koerante, dagboeke en gedigte word as getuienisstukke in Frikkie se hofsaak teen Afrikaans gebruik.

“Hierdie boek is nie net ’n terugblik op die verlede nie, maar is ’n uitnodiging aan ’n nuwe geslag om Afrikaans opnuut te ontdek – nie as ’n taal van skuld nie, maar as ’n taal van hoop en veerkragtigheid,” sê Langner.

Die publikasie verskyn as deel van die weeklange viering van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 – ’n keerpunt in die bewuste ontwikkeling van Afrikaans as spreektaal tot skryftaal, en haar erkenning as amptelike landstaal in 1925.

“Vandag, ’n eeu ná daardie mylpaal, staan Afrikaans steeds in ’n hof van openbare mening – soms beskuldig, soms verdedig. Haar toekoms lê egter nie net in die hande van regsargumente of geskiedkundige feite nie, maar in die harte van dié wat haar praat, skryf en leef,” sê Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, wat die gesprek by die boekbekendstelling gelei het.

Hoek toe of hof toe? is nie net ’n historiese dokument nie, maar daarop gemik om gesprek aan te vuur, veral onder jong moedertaalsprekers wat met vrae oor identiteit, skuld en toekoms worstel. In die verhaal volg Frikkie die logika van ’n hofsaak, maar in ’n lekkerleesverteltrant. Hy begin deur die sterkste besware en kritiek teen Afrikaans in ’n klagstaat neer te lê, en bring dan alle beskikbare getuienis na vore.

Uiteindelik wys dié publikasie dat die huidige gesprek oor Afrikaans dikwels nie al die uiteenlopende stemme en bydraes van eeue terug weerspieël nie. Dit is dié dieper insig in Frikkie se benadering wat jong lesers kan help om vandag se ingewikkelde en verweefde kwessies beter te verstaan.

Volgens Etienne Hansen, tweedejaarstudent aan die AP Akademie en geskiedenisnavorsingsintern by die FAK en Erfenisstigting, kan hy hom maklik in Frikkie se skoene plaas. “Ons geslag dra swaar aan die beskuldigingsbagasie oor Afrikaans. Baie van ons moet in Engels studeer en eendag ’n Engelse werkplek betree. Ons worstel met Afrikaans se verlede én die vraagstukke oor haar toekoms.”

Langner verduidelik dat ’n taalstryd uiteindelik ’n ontdekking van jou eie identiteit is. In die boek vind Frikkie sy identiteit deur Afrikaans, iets waarmee baie jongmense vandag steeds worstel. “My hoop is dat hierdie boek jongmense sal laat herbesin oor Afrikaans, en hulle toerus in hul eie reis van identiteitsontdekking en taalstryd, sodat hulle met oortuiging kan sê: Ek is Afrikaans; dit is onlosmaaklik deel van wie ek is.”

Die boek is beskikbaar teen ’n spesiale bekendstellingsprys van R250 per eksemplaar, geldig tot 30 September. Bestel aanlyn by: https://kultuurkafee.com/shop/boeke/hoek-toe-of-hof-toe/