Die FAK se Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade het vanjaar op ’n hoë noot afgesluit met bykans 2 000 leerders wat deelgeneem het en uitsonderlike prestasies gelewer het. Nege internasionale graadwenners is aangewys, saam met twee algehele wenners wat die hoogste punte onder onderskeidelik laerskool- en hoërskoolleerders behaal het. Daarbenewens is die laer- en hoërskool met die beste gemiddelde prestasie onder hul toppresteerders vereer.
Die Olimpiade het leerders van Graad 4 tot Graad 12 betrek en aan deelnemers uit Suid-Afrika én die buiteland die geleentheid gebied om hul kennis van geskiedenis in Afrikaans te toets, terwyl hulle ook hul eie verhouding met die verlede kon ondersoek.
Die twee algehele wenners is Joshua Joubert, ’n Graad 5-leerder van Laerskool Jan Celliers, wat met ’n indrukwekkende 97,00% eerste onder die laerskoolleerders geëindig het, en Raynard Bosman, ’n Graad 11-leerder van Hoërskool Pretoria-Noord, wat 94,00% behaal het om as die algehele hoërskoolwenner aangewys te word.


Die skole wat die beste gemiddelde prestasie onder hul topleerders gelewer het, is Laerskool Unika as die toplaerskool en Hoërskool Pretoria-Noord as die tophoërskool.


Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, strek die doel van die Olimpiade veel verder as die memorisering van historiese feite.
“Ons wil hê kinders moet die volle spektrum van ons geskiedenis leer ken, maar ook dat geskiedenis vir hulle ’n werklikheid word. Omdat groot dele van die Afrikaner se geskiedenis nie meer noodwendig in alle skole as deel van die kurrikulum behandel word nie, word baie jongmense toenemend van hul herkoms vervreem. Hoe groter die gaping tussen die jonger generasie en die geskiedkundige gebeure van die verlede, hoe verder beweeg hulle van hul eie verhaal af.
“Daarom wil ons hulle help om die geskiedenis persoonlik te beleef, om te verstaan waar hulle vandaan kom, wat in hul families gebeur het en waarom die erfenis van hul gemeenskappe belangrik is,” sê Müller.
Die Olimpiade is volgens ’n graadspesifieke geskiedenisraamwerk aangebied, sodat leerders binne die toepaslike tydvak vir hul graad kon meeding, vanaf die VOC-tydperk tot en met die Bosoorlog. Die kompetisie het uit ’n eerste en tweede rondte bestaan. Byna 2 000 leerders het aan die eerste rondte deelgeneem, waarna die toppresteerders na die tweede rondte deurgedring het.
Die Olimpiade is volgens ’n graadspesifieke geskiedenisraamwerk aangebied, sodat leerders binne die toepaslike tydvak vir hul graad kon meeding, vanaf die VOC-tydperk tot en met die Bosoorlog. Die kompetisie het uit ’n eerste en tweede rondte bestaan. Byna 2 000 leerders het aan die eerste rondte deelgeneem, waarna die toppresteerders na die tweede rondte deurgedring het.
Die tweede rondte het ’n besondere praktiese en persoonlike dimensie aan die kompetisie verleen. In die eerste fase van die rondte moes leerders ’n video oor ’n erfenisbaken in hul omgewing vervaardig en ook ’n opstel skryf. Die opstel het ’n keuse tussen twee temas gebied: “My Familiegeskiedenis”, waar leerders hul eie familiegeskiedenis kon ondersoek of “As ek dit kon verander”, waarin hulle kon besin oor wat hulle in ’n bepaalde historiese tydvak sou wou verander.
Die video-opdrag het deelnemers aangemoedig om hul plaaslike erfenis eerstehands te ontdek en die verhaal agter ’n monument of erfenisbaken met ander te deel.
Müller meen hierdie praktiese benadering is van groot waarde omdat mense dikwels eers die betekenis van erfenisbakens besef wanneer hulle die geskiedenis daaragter verstaan.
“As mense nie die belangrikheid van ’n erfenisbaken verstaan nie, sal hulle dalk nie omgee wanneer dit beskadig of verwyder word nie. Ons wil hê kinders moet die verhaal agter monumente, standbeelde en ander erfenisbakens leer ken, verstaan waarom dit belangrik is en besef dat dit deel vorm van die verhaal van waar hulle vandaan kom.
“Só ontwikkel hulle nie net kulturele trots en ’n belangstelling in geskiedenis nie, maar ook ’n groter verantwoordelikheid teenoor hul erfenis,” sê hy.
Die Olimpiade het vanjaar ook ’n sterk internasionale karakter gehad. Benewens deelnemers uit verskeie Suid-Afrikaanse provinsies het leerders uit Australië, Kanada en Londen deelgeneem. Waar fisiese deelname nie moontlik was nie, is aanlyn deelname onder gemonitorde omstandighede moontlik gemaak om te verseker dat deelnemers op gelyke grondslag beoordeel word.
Die nege graadwenners is:
Graad 4

Graad 5

Graad 6

Graad 7

Graad 8

Graad 9

Graad 10

Graad 11

Graad 12

Die FAK beoog om in die komende weke van hierdie leerders, asook ander toppresteerders, se erfenisvideo’s op sosiale media bekend te stel. Só kry ’n groter publiek die geleentheid om dié jong toekomsbouers se navorsing, kreatiwiteit en passie vir geskiedenis te ervaar, terwyl hulle ook kennis maak met die unieke erfenisbakens en verhale van gemeenskappe reg oor Suid-Afrika.
Die FAK se Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade bewys dat geskiedenis nie bloot iets is wat in handboeke geleer word nie. Deur jongmense aan te moedig om hul familiegeskiedenis, plaaslike erfenis en die groter historiese verhaal te verken, word die verlede ’n lewende werklikheid waarmee hulle hul identiteit en gemeenskap beter kan verstaan.
Soos oom Paul Kruger se bekende woorde lui:
“Want wie vir hom ’n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie. Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna u ideaal en trag om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik.”
