Die reuse- driedimensionele letters wat “Afrikaans” spel en ’n landwye draai gemaak het as deel van die 100ste bestaansjaarviering van Afrikaans as amptelike landstaal, het op 27 Mei eindelik by die Voortrekkermonument in Pretoria aangekom. Dié geskiedkundige oomblik is met groot opgewondenheid en trots gevier.
Ná ’n wye tiekiedraai tot in die Kaap en terug, is die Voortrekkermonument die trotse tuiste van dié letters vir die res van 2025. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en van die breër Solidariteit Beweging se instellings – wat elk op ’n unieke manier op die letters uitgebeeld word, het byeengekom om dié betekenisvolle gebeurtenis te vier. En natuurlik is dit nie ’n fees sonder musiek en ’n koek nie!
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is die aankoms van die Afrikaans-letters by die Kultuurtuiste nie net simbolies van ons diepgewortelde geskiedenis en taaltrots nie, maar ’n verklaring van ons verbintenis én verantwoordelikheid om ons moedertaal soos ’n helder brandende fakkel die toekoms in te dra.
“Ons vier enersyds eeufees, maar bou terselfdertyd ’n toekoms waarin Afrikaans tasbaar en hoorbaar ’n onbeskaamde tuiste bied wat mense saamsnoer. ’n Taal word immers nie net gepraat nie – dit word ingeleef, ingeoefen, ingegrawe. Van kuns tot klaskamer, laboratorium tot lesinglokaal. Van waardes tot wetenskapstaal.”
As deel van die Afrikaans 100-feesvierings landwyd, is die letters na verskeie plekke reg oor Suid-Afrika geneem om die taal se komvandaan én vooruitgang te vier. Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskaps-, geskiedenis- en ad hoc-projekte, verteenwoordig die letters mense, verhale en die nalatenskap van ’n taal wat aanhou groei, aanpas en gemeenskappe reg oor die wêreld verenig.
“Oral waar die letters aangedoen het, het mense saamgetrek om hul liefde vir Afrikaans te vier en hul persoonlike verbintenis tot die taal te herbevestig. Dit is ’n simbool van kultuurtrots, maar ook van hoop. Afrikaans is relevant en springlewendig,” sê Müller.
Besoekers aan die Voortrekkermonument word uitgenooi om foto’s by die letters te neem en hul liefde vir die taal op sosiale media te deel. Want dié mylpaal kom net een keer in ’n leeftyd op ’n mens se pad!