Mediaverklaring
3 Oktober 2023
Met die klap- en knalgeluide van voorlaaiers is die Slag van Vaalrivier die afgelope naweek herdenk.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Parys en Vaal Kultuurnetwerke het oor die afgelope naweek op Udolpho Rivierplaas buite Parys in die Vrystaat geskiedenis laat herleef tydens die vertolking van ’n skyngeveg.
“Dit was baie indrukwekkend toe die gewere geknal en die kanon geskiet het. Dit het soos die regte lewe gevoel.”
Só sê Abigail Ströh (10) wat die skyngeveg saam met haar gesin bygewoon het. Sy was verwonderd oor die gebeure wat tydens die slag afgespeel het en wil graag weer so ’n geleentheid bywoon.
Die skyngeveg het die gebeure tydens die Slag van Vaalrivier vertolk. Die FAK-kultuurnetwerke en die Swartkruid du Vereeniging het hande gevat en die skyngeveg werklik een vir die boeke gemaak.
Alta du Plooy het ook die verrigtinge bygewoon en haar getuienis is weereens ’n bevestiging van die waarde wat kennis oor jou eie geskiedenis het en dat dit mens verryk.
“Dit was weereens ’n baie besonderse ondervinding om lewende geskiedenis so te beleef. Hierdie keer was dit ekstra spesiaal, omdat dit in die ossewalaer plaasgevind het. Dit is altyd lekker om bietjie meer van ons geskiedenis op só ’n manier te leer.”
Nasate van die Liebenberg- en Hamman-gesin is tydens die verrigtinge ook vereer. Ses Liebenberg-nasate en drie Hamman-nasate het elk ’n sertifikaat ontvang ter nagedagtenis van hul voorouers.
Mark Walden, van die Dundee Diehards se Transvaal/Freestate Garrison, kon nie uitgepraat raak oor die geleentheid nie. Gewoonlik vertolk Walden die rol van ’n Engelsman, maar dié keer het hy die geleentheid gehad om ook as ’n Boer te kon optree.
“Udolpho is ’n baie spesiale plek vir my, veral met sy kultuur wat hulle daar geskep het. Die storie agter die Slag van Vaalrivier was vir my baie interessant. Ek het nie geweet daar is sulke geskiedenis so naby aan ons nie.”
Min van die plaaslike inwoners weet dat net buite Parys groot geskiedkundige gebeure, soos dié veldslag, plaasgevind het.
Die Liebenbergs was deel van Potgieter se trekgeselskap en het in 1836 die binneland van Suid-Afrika ingetrek. Potgieter het sy trekgeselskap agtergelaat langs die Vetrivier om die roete te verken en die geselskap vermaan om bymekaar te bly. Die onderskeie families het egter beter weiding begin soek en uitgesprei langs die Vaalrivier, waaronder die Liebenberg-familie.
Vroegoggend op 23 Augustus 1836 het die Matebeles, onder Silkaats, die Liebenberg-laer aangeval. Die trek was reeds besig om in te span, want die nag tevore is hulle gewaarsku oor die naderende gevaar. Die Slag van Vaalrivier breek uit en die meeste van die Liebenberg-familie sterf.
Die koppie waarlangs die Liebenbergtrek uitgespan het, is tot vandag toe bekend as “Moordkoppie” of “Liebenbergkoppie”.
Drie kinders word ook ontvoer, twee dogters en klein Christiaan Liebenberg, wat vee opgepas het. Jacobus Hamman het geslaag om vir Christiaan Liebenberg te red. Die twee dogters kon nooit opgespoor word nie.
Jan-Danie Malan, kultuurkoördineerder van die FAK in die sentrale streek, glo dat wanneer geskiedenis op só ’n wyse oorvertel word, dit nie sal uitsterf nie.
“Deur geleenthede soos hierdie word ons kultuurerfenis bevorder. So word daar ’n nuuskierigheid by die jeug aangewakker en begin hulle wonder oor hul herkoms.”
Die FAK-kultuurnetwerke pak weekliks projekte aan ter bevordering van Afrikaans as taal, asook ons kultuurerfenis. Raak betrokke by jou naaste kultuurnetwerk deur kontak te maak met Barry Müller by [email protected]
Foto’s is verskaf deur die talentvolle Chilli PicNic fotografie.