Die Animato A Capella-sangkompetisie is vanjaar vir die tiende jaar op 4 en 5 Oktober by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied. Skole uit die Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en die Wes-Kaap het deelgeneem.
Jong sangers van regoor die land het gekom om deel te neem aan die finale rondte van vanjaar se Animato A Capella-kompetisie. Met trots geborg deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), het die geleentheid ’n gemeenskap van a capella-entoesiaste bymekaargebring, wat van die beste sang- en danstalent in Suid-Afrika gevier het.
Lieandri Ackermann, projekbeampte van die FAK, was baie beïndruk met die gehalte van die kompetisie. “Dit was vreeslik lekker en indrukwekkend om te sien hoe die kompetisie self en die kompetisie se standaard gegroei het. Die lied ‘Alibama’ was ook baie kreatief in hulle verwerkings gebruik.”
Tien skole het aan die kompetisie deelgeneem en hul vaardighede in ’n reeks kategorieë ten toon gestel. Die skole is Hoërskool Randburg, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Durbanville, Hoërskool Pietersburg, Hoërskool Rustenburg, C&N Sekondêre Meisieskool Oranje, Balmoral College, Hoërskool Generaal Hertzog, Hoërskool Linden en Northern Academy.
Lizelle van Staden, direkteur van die Animato A Capella-kompetisie sê: “Musiek word nie verniet ’n universele taal genoem nie. Dit is wonderlik om te sien dat die jeug uit verskillende kulture regoor die land hulle talente kan ontdek, ontwikkel en uitleef!”
Die kompetisie het verskillende kategorieë gehad, insluitend:
- Beste Afrikaanse Verwerking (Ensemble) word gedeel: Hoërskool Rustenburg vir die Man in die Maan en Northern Academy vir My Sarie Marais
- Beste Afrikaanse Verwerking (Produksie): Sekondêre Oranje Meisieskool
- Beste Choreografie (Produksie): Hoërskool Randburg
- Beste Kostuums (Ensemble): Hoërskool Pietersburg
- Beste Kostuums (Produksie): Hoërskool Zwartkop
- Beste Sang (Ensemble): Hoërskool Durbanville, Wes-Kaap
- Beste Sang (Produksie): Sekondêre Oranje Meisieskool, Vrystaat
- Beste Vertolking – Afrikaanse FAK voorgeskrewe lied (Ensemble): Northern Academy, Limpopo
- Beste vertolking – Afrikaanse FAK voorgeskrewe lied (Produksie): Hoërskool Linden, Gauteng
- Beste verwerking in ’n ander taal (Ensemble): Hoërskool Pietersburg, Limpopo
- Beste verwerking in ’n ander taal (Produksie): Balmoral College, Gauteng
- Beste verwerking (Keurspel): Sekondêre Oranje Meisieskool, Vrystaat
- Mees oorspronklike tema: Hoërskool Linden, Gauteng
- Mees spontane groep: Hoërskool Generaal Hertzog, Mpumalanga
- Mees belowende groep: Balmoral College, Gauteng
- Wisseltrofeë vir die beste vertolking, verwerking en sang vir die FAK voorgeskrewe lied “Daar kom die Alibama”: Hoërskool Linden, Gauteng
Die algehele wenners van die kompetisie was Hoërskool Linden o.l.v. Revan Luus wat hulle uitstekende talent en passie ten toon gestel het met hulle produksie Linden Serenade. Sekondêre Oranje Meisieskool het ’n tweede plek behaal vir hulle produksie Con Spirito.
Robert Engelbrecht van Hoërskool Linden het die kompetisie vreeslik geniet en raai ander skole aan om volgende jaar deel te neem. “Die Animato-kompetisie was baie lekker! Ons is so bly dat ons gewen het, ons gee alle eer aan die Here en ons is baie dankbaar vir die geleentheid. Baie dankie aan al die mense wat hierdie kompetisie moontlik gemaak het! Ek moedig enige ander skole aan om deel te neem, ons soek meer kompetisie vir volgende jaar.”
Hoërskool Durbanville het eerste plek behaal vir hulle ensemble Dakplaat, Northern Academy, tweede plek vir hulle ensemble, The High Notes en die produksie Die A-Team van Hoërskool Randburg het ’n derde plek behaal.
Die FAK bly daartoe verbind om jong talent in die kunste te help bevorder en te ondersteun om te verseker dat die kultuur van Afrikaanse musiek en uitvoering aanhou groei.