Danksy Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en lede van die gemeenskap het 30 bejaardes vir die eerste keer die merkwaardige Vegkop-slagveldterrein, naby Heilbron in die Vrystaat, kon besoek en beleef.

Die FAK se Sentraal-Kultuurnetwerk het op 18 September ’n besondere toer vir bejaardes na die Vegkop-slagveldterrein gereël, waar die ryk geskiedenis van hierdie belangrike erfenisskat met groot entoesiasme gedeel is. Tydens die toer het die groep ’n insiggewende besoek aan die terrein en museum meegemaak, wat ook ’n indrukwekkende voorlaaier- en voorlaaierkanon-demonstrasie ingesluit het. “Ek wil graag die Vegkop direksie, Jasper van der Bijl en Johan Stadler, bedank vir die erfenis toer en in besonder Corné van der Merwe vir die voorlaaier- en voorlaaierkanon-demonstrasie,” sê Jan-Danie Malan, Sentraal-kultuurkoördineerder.

Die Slag van Vegkop was ’n betekenisvolle geskiedkundige gebeurtenis wat op 16 Oktober 1836 tydens die Groot Trek plaasgevind het. Die geveg het naby die hedendaagse dorp Heilbron, in die Vrystaat, tussen ’n groep Voortrekkers en die Matabele- (Ndebele-) krygers, gelei deur opperhoof Mzilikazi, plaasgevind.

Ten spyte van die oorweldigende getalle van die Matabele-krygers, het die Voortrekkers hulself suksesvol met vuurwapens en hul verdedigingslaer verdedig. Piet Botha en Hendrik Potgieter se jongste broer, Nicolaas, het gesneuwel, en veertien Voortrekkers is gewond. 430 Matabeles is op daardie dag dood, en 1137 assegaaie is in en om die laer opgetel.

Malan kon nie genoeg dankie sê vir die gemeenskapsbetrokkenheid nie.

“Hierdie toer is voluit deur die gemeenskap op kort kennisgewing befonds. Dit is ongelooflik hoe die FAK-kultuurnetwerke kan bydra, nie net met geld nie, maar ook met hande. Ek is trots om deel te wees van ’n kan-kultuur en ’n kultuur wat meer gee as wat hy moet en niks terug verwag nie,” sê Malan.

Een van die toergangers, Ria van Heerden, het haar opgewondenheid oor die ervaring gedeel. “Ons is aangenaam verras met die toer en al die ryk geskiedenis. Ons gaan beslis vir ons kinders vertel van die FAK en Vegkop.”

Malan het ook sy dank uitgespreek aan die donateurs, Dirk Bloem, Chris Grobler, Alta du Plessis, Deon van der Watt, Gerhard du Toit en Lenor Bothma, eienaar van Fusion Travel, wat die toer moontlik gemaak het.

Hierdie toer is gereël deur die FAK om bewusmaking onder die gemeenskap te skep oor die Afrikaner se erfenis. 35 persone het op die ou end die merkwaardige Vegkop-terrein besoek. Hierdie geleentheid het die wonderwerke wat by Vegkop plaasgevind het, uitgelig.

Die toer is bygewoon deur lede van die Gryskrag-groep van NG Welbekend, Bapsfontein, sowel as verteenwoordigers van die Vegkop Direksie en die Parys Museumkomitee. Die gebeurtenis het nie net geskiedkundige waarde verskaf nie, maar het ook bygedra tot die bewusmaking van die ryk erfenis van Vegkop.

Vir meer inligting, kontak vir Jan-Danie Malan by jandanie@kultuurtuiste.org.za.