Dis 10 dae voor die Olimpiese Spele in Parys in Frankryk afskop, maar dit is ook 10 dae voor die FAK se eie Spele in Suid-Afrika begin.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) hou vanjaar vir die eerste keer hulle eie “Olimpiese Spele”, naamlik die Taallimpiese Spele.

Die FAK sal van nou af elke vier jaar die spele aanbied. Die groot doel is om pret te hê terwyl die Afrikaanse taal gevier en bevorder word.

Lieandri Ackermann, skole- en musiekprojektebeampte by die FAK, sê die projek is nóg ’n voorbeeld van hoe die FAK Afrikaans onder die gemeenskap bevorder.

“Dit is alles deel van die viering van die 100ste verjaardag van Afrikaans. Op 8 Mei het ons Afrikaans se 99ste verjaardag gevier. Ons het besluit om op 8 Mei af te skop met die 99ste viering tot en met 8 Mei 2025, wanneer Afrikaans 100 jaar oud word. Ons bied ’n verskeidenheid aktiwiteite en temas aan soos fotografie, gedigte, blokkiesraaisels, woordskommel, woordsoeke, legkaart en idiome,” sê Ackermann.

Die Taallimpiese Spele is oop vir almal, van 10 jaar en ouer, wat lief is vir Afrikaans. Die kompetisie vind aanlyn plaas, met ’n bykomende geleentheid wat die 3de Augustus sal plaasvind vir mense om in persoon te kom deelneem. Deelnemers kan aansluit deur die registrasievorm in te vul, wat toegang tot die kompetisiewebblad op 25 Julie sal verskaf. Alle inligting sal per e-pos aan geregistreerde deelnemers gestuur word.

Die speletjies sal van 26 Julie tot 11 Augustus plaasvind, met aktiwiteite wat op verskillende dae oop- en toemaak. Elke aktiwiteit het ’n vasgestelde tydsraamwerk vir voltooiing. Alhoewel dit nie verpligtend is om aan alle aktiwiteite deel te neem nie, verhoog dit deelnemers se kanse om die algehele wenner te wees. Deelname is gratis, maar die FAK moedig deelnemers aan om die oudste Afrikaanse organisasie in die land te ondersteun en aan te sluit by die FAK. Hierdie bydraes help ons om die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis te bevorder.

Dwarsdeur die kompetisietydperk sal daar daagliks geleenthede wees om aan aktiwiteite deel te neem of inskrywings in te dien. Beide die volwasse- en skolierafdeling se algehele wenners sal ’n sertifikaat en medalje ontvang, saam met ’n R500 Takealot-geskenkbewys.

“Ons het baie gefokus op die ontwikkeling van spesifiek taal, so ons wil vir die skoliere ’n bietjie agtergrond deur die speletjies gee, asook waar taal vandaan kom en hoekom taal belangrik is. Dit bevorder die taal en bied hope pret vir die kinders,” sê Ackermann.

Barry Müller, hoof van nasionale projekte, sê die projek is die afskop van die FAK se Afrikaans 100-viering.

“Die konsep van die Taallimpiese Spele spruit uit die feit dat ons op die drumpel lê van Afrikaans wat volgende jaar amptelik 100 jaar oud word. Ons het net besef dat ons regtig nou al vuur onder die mense moet maak om ’n liefde te kweek vir ons Afrikaanse taal. Hierdie is die afskop van die FAK vir die amptelike 100-jaar-viering van Afrikaans,” sê Müller.

Deelnemers kan op die FAK-webwerf registreer. Inskrywings is reeds oop.

Klik hier: https://projekte.co.za/afrikaans-amptelik-100/

Kom vier saam met ons die Afrikaanse taal en kultuur en geniet ons Taallimpiese Spele!