Mediaverklaring

10 Junie 2024

Vroeër die maand is beelde deur die bekende beeldhouer Danie de Jager op Hertzog-plein in Bloemfontein deur vandale beskadig, maar dit is nie ’n druppel in die emmer van agteruitgang nie en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) eis antwoorde.

Die toestand van erfenisbewaring in Suid-Afrika is ’n deurlopende probleem, tog het onlangse beskadiging van waardevolle beelde op die Hertzog-plein opnuut ’n kollig geplaas op die nonchalante wyse waarop ons plaaslike regering met erfenisbewaring in die land omgaan.

Jan-Danie Malan, die FAK se kultuurkoördineerder in die Vrystaat, sê hierdie kriminele optrede is kommerwekkend, verál omdat die wettige prosedure om die skade te herstel dit bykans onmoontlik maak om die agteruitgang te keer.

“Terwyl kriminele regoor die Vrystaat ons erfenisskatte beskadig en beroof, maak die prosedures dit baie moeilik om betyds in te gryp. Hoewel daar erfeniswette in plek is, maak dié wette dit moeilik vir individue of gemeenskappe om uit hul eie in te gryp, daarom is dit nou belangriker as ooit dat gemeenskappe moet uitreik na die FAK vir die nodige hulp en bystand,” sê Malan.

“Daar is reeds verskeie klagtes by die Bloemfonteinse polisie ingedien en die FAK monitor die situasie en lewer bystand waar ons kan. Die FAK is ten sterkste gekant teen die beskadiging en agteruitgang van ons erfenis en daarom het ons besluit om ook hier in die Vrystaat en meer spesifiek Bloemfontein in te gryp.”

Malan het oor die afgelope jaar reeds verskeie knelpunte in die Vrystaat geïdentifiseer en die FAK-kultuurnetwerke is reeds besig om hiér in te gryp.

“Meer onlangs is die beeldegroep op Hertzog-plein in Bloemfontein beskadig, die Wêreldoorloë-gedenkplate op Hoffman-plein is gesteel, die letters van President Brand se beeld is afgesteel, Memoriam-konsentrasiekampkerkhof is aan die agteruitgaan en daar is groot probleme in Sannaspos, 30 km buite die Vrystaatse hoofstad, om maar net ’n paar te noem. Die ou presidensie in Bloemfontein was ook in ’n toestand voor die FAK en die gemeenskap ingegryp het, en dít sonder staatsbefondsing.”

Hoewel erfenisbewaring en die onderhoud van ons land se historiese skatte deurgaans ’n groot probleem is, het die afgelope paar maande se agteruitgang regoor die Vrystaat die growwe nalatigheid van die staat nog duideliker laat blyk en daarom het die FAK besluit om in te gryp.

“Die FAK se kultuurnetwerke in die Vrystaat werk elke dag hard om hierdie agteruitgang en vernietiging teen te werk, en daarom wil ons oud en jonk aanmoedig om met ons hande te vat en te sorg dat ons erfenis beskerm word,” sluit Malan af.

Vir meer inligting oor die FAK-kultuurnetwerke in die Vrystaat, kontak gerus vir Malan by jandanie@kultuurtuiste.org.za