Die Onvoltooide Gesprek, ’n versameling van prof. Danie Goosen se uitgebreide bydraes oor dekades heen, is Saterdag 8 Maart amptelik bekendgestel tydens die gesamentlike direksieberaad van die Voortrekkermonument (VTM), die Erfenisstigting (ES) en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Dié boekbekendstelling was nie net ’n geleentheid ter viering van die organisasies se toekomsgerigte planne nie, maar ook ’n hoogtepunt vir Afrikaanse intellektuele gesprekke.
Die Onvoltooide Gesprek-boekstel neem die leser op ’n diep intellektuele reis en bied insigte oor ’n verskeidenheid filosofiese, kulturele en historiese temas.
“In vele opsigte is die boekstel eintlik ’n antwoord op die gedagte dat ons net individue is,” sê Goosen. “Vandag kom die gedagte eintlik makliker dat jy deel is van ’n volk, ’n kultuur, ’n beskawing, ’n gesin – dat jy deel is van ’n gemeenskap. Dit is eintlik ’n oer-oue wete wat ’n mens moet oordra aan die jonger klomp – dat ons deel is van verskillende gemeenskapsverbande. Dit is die groter bedoeling agter die bydraes.”
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is prof. Goosen ’n intellektuele reus wat diep spore in die Suid-Afrikaanse akademiese en kulturele landskap getrap het. “Die titel van hierdie versamelde werke, Die Onvoltooide Gesprek, weerspieël nie net die voortdurende aard van sy filosofiese navorsing nie, maar ook sy lewenslange verbintenis om nuwe idees te verken, uitdagende vrae te stel, en te bly deelneem aan die diep gesprekke wat die hart van menslike bestaan raak. Hierdie werk is ’n uitnodiging aan ons almal om saam met hom aan hierdie diep, steeds ontvouende gesprek deel te neem,” sê Langner.
Die bekendstelling van Die Onvoltooide Gesprek was ’n besonderse oomblik vir Afrikaanse kultuur en akademiese gesprekvoering, en dit beklemtoon die belangrike rol wat instellings soos die FAK en VTM speel in die bevordering van intellektuele debat en geskiedkundige besinning.
Volgens Goosen twyfel Afrikaners vanaf die 1990’s, en selfs vandag nog, aan wat dit beteken om ’n Afrikaner te wees. “Telkens word daar gevra wat ’n Afrikaner is en hierdie boekstel is ’n aanduiding van hoe ons as Afrikaners met die vraag gestoei het en hoe ons eindelik ’n antwoord gekry het. Die boekstel poog vandag steeds om ’n antwoord op hierdie vraag te wees,” sê Goosen.
Met hierdie boekstel kry lesers die geleentheid om saam met Goosen op ’n filosofiese reis te gaan – ’n reis wat nie noodwendig volledige antwoorde bied nie, maar eerder ’n waardering vir dieper denke en die voortgesette soeke na wysheid.
Vir meer inligting oor die boekstel of om dit aan te skaf, besoek die KultuurKafee se webwerf by https://kultuurkafee.com/shop/boeke/die-onvoltooide-gesprek-promosieproduk/