Dit is vanjaar 125 jaar sedert die inwerkingstelling van die verskroeideaardebeleid op 16 Junie 1900. Op Jeugdag onthou die FAK die duisende kinders wat in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog onder hierdie gewraakte beleid gely en gesterf het.
Hierdie beleid was ’n onsuksesvolle poging deur Brittanje om ’n oorlog wat reeds langer geduur het as wat hulle gereken het vinnig tot ’n einde te dwing. Vir byna nóg twee jaar het die oorlog voortgeduur.
Die Anglo-Boereoorlog het ook in die Kaap die inrigting van kampe tot gevolg gehad, weliswaar nie konsentrasiekampe vir vroue en kinders nie, maar streng bewaakte deurgangskampe vir mans en seuns wat in die veld deur Britse soldate gevange geneem is. Daar was ses van hierdie kampe, twee in Natal en vier in die Kaap, waarvan twee elk in Kaapstad en Simonstad.
Boerekrygsgevangenes is met treine uit die binneland na hierdie kampe naby hawens gebring. Aanvanklik is skepe as drywende tronke gebruik terwyl kampe ingerig is. Vanaf hierdie kampe is manne as bannelinge weggevoer en ver van hul vaderland op eilande gevange gehou.
Siektes soos maagkoors het vinnig versprei in hierdie krygsgevangenekampe en heelwat lewens geeis. Daar was talle dapper ontsnappingspogings om te probeer uitkom uit kampe, met dubbele draadomheinings en streng bewaking, voor die skepe opdaag wat die krygsgevangenes nog verder sou wegneem na bannelingeilande.
Tydens ’n toer vanaf Maitland-begraafplaas tot in Simonstad via Groenpunt, het ’n groep Kaapse FAK-vriende Saterdag 14 Junie, op die vooraand van Vadersdag, die verhale van hierdie boerekrygsgevangenes by grafte, hospitale, treinstasies, kampe en ander bakens gevolg. Gedigte in Nederlands deur boerekrygsgevangenes in hierdie kampe spreek van ’n groot verlange na hul mense en ’n diep geloof in hul Skepper.
Ilista Swart wat die dag meegemaak het, het besef daar is werk wat voorlê: “Soos ek stap deur ons geskiedenis het ek besef ek sal daadwerklik die kennis en geskiedenis moet deel met ander mense en kinders. Veral my eie kinders ook. Nogmaals dankie en verseker mis ek die volgende uitstappie vir niks nie.”
Vir Henry Jooste, wie se oupa tydens die oorlog in die Groenpunt-deurgangskamp aangehou is, was die besoek aan die graf van FW Reitz ’n hoogtepunt.