Kaptein Alexander Harvey Biggar – dié naam is opnuut onthou en die dapper man vereer met die onthulling van sy standbeeld in die Trekroetetuin by die Voortrekkermonument in Pretoria. Dit is vandag die 244ste herdenking van sy geboortedag.
In die Trekroetetuin, reg langs die walaer wat die Monument omring, is die trekroetes van die Groot Trek-leiers in veelkleurige leiklip uitgelê. Hier is Biggar se standbeeld geplaas by die voorstelling van die plek waar hy gesneuwel het, die Ophate-kloof by die Wit-Mfolozirivier.

In die Trekroetetuin is elke trekker se roete met ’n bepaalde kleur leiklip uitgelê. (Foto: Du Preez de Villiers)
“Die vraag is natuurlik waarom ons ’n Ier in die Trekroetetuin vereer,” sê Barry Müller, nasionale hoof van gemeenskaps-, geskiedenis- en ad hoc-projekte van die FAK. “Dit is belangrik, want hy is deel van ons geskiedenis en ’n bewys dat die Voortrekkers saam met ander gemeenskappe gewerk het. Die Groot Trek het ander begeester om die pad saam met die Voortrekkers te stap. Een hiervan was Biggar, wat besef het dat ons voorsate hulp nodig gehad het en hy het dit gebied.”

Barry Müller, nasionale hoof van gemeenskap-, geskiedenis- en ad hoc-projekte van die FAK; Monique Lubbe, kurator van die Erfenisstigting en Voortrekkermonument; en Jaco van Niekerk, beeldhouer, by die Alexander Harvey Biggar-standbeeld wat vandag in die Trekroetetuin onthul is. (Foto: Du Preez de Villiers)
Dié oorspronklike brons standbeeld is met ’n koue gietwerkproses deur die beeldhouer Jaco van Niekerk geskep. “Dit was nogal ’n uitdaging om vanaf ’n illustrasie ’n driedimensionele beeld te skep wat geloofwaardig lyk. Ek moes nogal sterk op my verbeelding staatmaak,” sê Van Niekerk.
Die beeld stel Biggar en ’n Zoeloe-kryger voor wat baklei om beheer van ’n assegaai te kry, terwyl twee van Biggar se helpers dood by hulle voete lê.
Dawid Brand, bedryfshoof van media, kommunikasie en toerisme by die Kultuurtuiste, sê die geskiedenis van ’n volk word nie net gevorm deur sy eie leiers en helde nie, maar ook deur ander wat die moed gehad het om hulle in tye van nood en stryd by te staan.
“Die Trekroetetuin by die Voortrekkermonument is ’n ruimte waar elke standbeeld, voorstelling en landmerk ’n storie vertel,” sê Brand. “Hier word ons herinner en geïnspireer deur pioniers se moed, lojaliteit en geloof – waardes wat ons vandag nog in ons gemeenskappe moet koester.”
Onwaarskynlike bondgenoot
Biggar is in 1781 in Kinsale, Ierland, gebore en het sy loopbaan as ’n offisier in die Britse leër begin. Hy het in die Napoleontiese Oorloë geveg, in Noord-Amerika gedien en tot die rang van kaptein gevorder. Tog het sy lewe ’n onverwagte wending geneem toe hy as deel van die 1820-setlaars na Suid-Afrika geïmmigreer het – ’n stap wat hom onwetend aan die geskiedenis van die Afrikaner sou verbind.
Hy was ’n man van teenstrydighede: ’n voormalige soldaat en handelaar, ’n pionier en vader van ’n groot gesin, maar bowenal iemand wat bereid was om vir geregtigheid en lojaliteit te sterf.
Toe die nuus van Piet Retief se moord deur Dingaan Port Natal in 1838 bereik het, het Biggar onmiddellik sy seun, die bekende Dick King, gestuur om die trekkerlaers te waarsku. King kon die tweede laer betyds bereik nadat die eerste kamp reeds aangeval is en het ook gehelp om die weerlose trekkers te verdedig.
Biggar se ander twee seuns, George en Robert, is albei dood tydens die bloedige gevegte met die Zoeloes. Tog, eerder as om te onttrek, het Biggar besluit om skouer aan skouer saam met die Voortrekkers te veg in hul gevaarlike stryd.
By Bloedrivier, op 16 Desember 1838, het Biggar saam met die Voortrekkers geveg – ’n Britse kaptein wat sy swaard vir die Voortrekkersaak getrek het. Hy het ook saam met Andries Pretorius se Wenkommando die strafekspedisies meegemaak.
Slegs elf dae later, op 27 Desember 1838, het hy by die Ophate-kloof, saam met vyf Voortrekkers en sy helpers, gesneuwel toe die Zoeloes hulle in ’n hinderlaag gelei het. Volgens oorlewering kon hy ontsnap, maar het gekies om by sy makkers te bly – ’n daad wat getuig van lojaliteit, moed en eer tot die einde toe.

Biggar het op 27 Desember 1838 op 57-jarige ouderdom in die Ophate-kloof gesneuwel op pad na Dingaan se stad, Umgungundlovu, wat in die Trekroetetuin met ’n Zoeloe-hut voorgestel word. (Foto: Du Preez de Villiers)
