Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het op 17 Oktober ’n mylpaal in die geliefde Liedjietuin by die Voortrekkermonument gevier, deur ’n nuwe liedjiebord op te dra aan Danie du Toit van die groep Spoegwolf vir sy ikoniese liedjie, “Bittermaan”.

Die geleentheid was ’n geskiedkundige oomblik toe du Toit die jongste ontvanger en die eerste kunstenaar uit die alternatiewe Afrikaanse rock-genre geword het wat hierdie gesogte erkenning ontvang het.

Du Toit het saam met sy ouers sy innige dankbaarheid uitgespreek en gesê: “Dit is regtig die grootste voorreg om op enige manier deel van die geselskap te wees. Dit is ook vir my ’n groot eer om deel te wees van die viering van Afrikaanse musiek.”

Terwyl Du Toit in die Liedjietuin gestaan en kyk het na die borde van die grootste Afrikaanse kunstenaars soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel en Laurika Rauch, het hy nederig gebieg en gesê dat hy nie hierdie erkenning verdien nie. “Om in dieselfde asem as sulke groot name genoem te word, is die grootste voorreg en eer van my lewe. Ek dink nie ek verdien dit nie, maar ek is ongelooflik dankbaar en ek gaan aanhou baklei en hard werk totdat ek wel eendag hierdie erkenning verdien.”

Die FAK se Liedjietuin vereer steeds kunstenaars wat beduidende bydraes tot die erfenis van Afrikaanse musiek gelewer het en Du Toit se erkenning staan ​​as ’n bewys van die ontwikkelende landskap en impak van moderne Afrikaanse musiek.

Danie Langner, hoof van die FAK, het sy dank uitgespreek teenoor Du Toit en sy ouers.

 

“Die Liedjietuin is regtig ‘n plek waar ons wil dankie sê, waar ons grootsheid wil erken, die uniekheid van Afrikaans wil erken en waar ons dit ook wil vier. Dit is baie lekker om dit vanaand saam met julle te mag vier – saam met mense wat lief is vir ons kultuur, ons erfenis en vir die monument. Dit was regtig ‘n groot voorreg om julle hier te mag ontvang,” sê Langner.

Du Toit se liedjiebord is amptelik die 61ste liedjiebord wat in die tuin is, met nog baie wat kom.

Tertia du Toit, Danie se ma, meen dat die geleentheid vir hulle as ouers besonder spesiaal was.

 

“Dit was ongelooflik spesiaal. Ons weet hoe hard hy gewerk het om hier te kom. Ons het gesien hoe hy die ure ingesit het en ons is ongelooflik trots op hom. ‘Bittermaan’ is een van ons gunstelingliedjies. Wanneer Danie ‘Bittermaan’ sing, dan is dit net iets anders. Dis die liedjie wat hy kies om bo-op die tafels te staan en sing.”