’n Groep jongmense het vandag hul stapstewels styf vas geryg om te voet ’n reis die Noord-Kaapse geskiedenis saam met die FAK aan te pak.

Die Rebelspoorvasbyt is besonders en eie in sy soort!

Vir die stapper: jy gaan so bietjie uit jou gemaksone geneem word wanneer ons op die spore van Jan Kemp, Manie Maritz en Albert Stadler gedurende die Rebellie van 1914/1915 reis. Jy gaan plekke besoek waar jy nog nooit was nie, dinge uit jou geskiedenis leer wat jy nie geweet het nie, op plase – waar jy nie sou kon dink iemand bly nie – met ope arms ontvang word. Vreemdelinge gaan vriende word.

Toe die roete in 2018 gestap is, was dit die eerste keer ná die Rebellie wat iemand hierdie spesifieke roete gestap het. Hiermee sê ons, ons vat ons geskiedenis terug. Ons wil weet wie ons helde was en ons wil weet wat hulle moes trotseer vir hul vryheidsideaal – iets waarna ons ook streef! Om op die spore van die rebelle te toer, is ’n unieke pad. Daarom gaan jy ’n meester word van met die minste klaarkom, tent opslaan en vuurmaak. En die Kalahari-sand gaan jou dalk vir ’n ruk ná die toer steeds bybly.

Ons doel is om vir jou ’n begeleide geskiedenistoer te bied wat: jou insig sal gee oor die aanloop, verloop en afloop van die 1914-Rebellie; die rolspelers van die Rebellie sal uitlig; jou sal laat ervaar wat die rebelle in daardie tyd vir vryheid moes deurmaak; en jou die samesyn tussen vriende met dieselfde belangstellings laat geniet.

Volg ons sosiale media oor die volgende paar dae en pak solank jou tasse vir die volgende avontuur!

Besoek https://fak.org.za/kultuur-en-geskiedenistoere/ vir meer inligting oor die FAK se landswye erfenisavonture of word ‘n vriend en gaan saam met ons op ‘n erfenisreis.