DF du Toit was ’n taalstryder, joernalis en letterkundige.
Daniël Francois du Toit is op 15 Januarie 1846 op die plaas Kleinbos in Daljosafat gebore. Sy ouers was David Petrus du Toit en Helena Elizabeth du Plessis. Die gesin het uit ses broers en sewe susters bestaan en hy was die ouer broer van ds. SJ du Toit. Vyf seuns en vier dogters het volwasse ouderdom bereik. Sy pa was ’n regstreekse afstammeling van die stamvader Francois du Toit, aan wie die plaas Kleyne Bosch (Kleinbosch) in 1692 uitgegee is. Die destydse goewerneur, Simon van der Stel, het die plaas aan hom toegeken hoewel dit buite die grense van die destydse kolonie geleë was. Die voorwaardes was dat hy ’n duisend gulde moes betaal en homself teen die aanval van die San moes beskerm.
Die gevegte teen die San het gelei tot die benaming van Du Toitskloof, omdat dit die kloof was waardeur hy die San agtervolg het. As jong boerseun moes DF du Toit sy pa op die wynplaas help en hy het eers later begin leer nadat hy en sy broer die Goewermentskool bygewoon het. Hul onderwyser was Bart Smith, wat van Engelse herkoms was; sy foutiewe uitspraak van sy eie taal het gemaak dat Du Toit te skaam was om die bietjie Engels wat hy magtig was, te gebruik. Dit het beter gegaan toe eerwaarde Roth sy onderwyser geword het. Op die ou einde het hy net drie jaar op skool deurgebring en homself hoofsaaklik geleer.
Op 14 Augustus 1875 was hy een van die agt stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), en by die publiek was hy bekend as Oom Lokomotief, na aanleiding van die naam waaronder hy gereelde rubrieke in Di Patriot behartig het. Hy het vanaf 1876 op die redaksie van hierdie koerant gedien en hy was van 1878 tot 1891 die vaste redakteur. Hy het die redaksionele beleid van die koerant bepaal en was ten volle verantwoordelik vir die uitgawe daarvan. Hy was medestigter van die drukpers D.F. du Toit & Co., wat Di Patriot en verskeie ander publikasies van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging uitgegee het, onder meer Di geskiedenis van ons land in di taal van ons volk, Eerste Afrikaanse printjies vir soet kinders en Patriot-woordeboek.
Tydens die verkiesings van 1879 het hy versoeke ontvang om hom in die Beaufort-Wes en Montagu-kiesdistrikte as kandidaat verkiesbaar te stel. Sy keuse het op Beaufort-Wes geval maar hy is by die stembus verslaan. Met die totstandkoming van die Zuid-Afrikaanse Boeren Beschermings Vereniging (ZABBV), onder leiding van JH (Onze Jan) Hofmeyr, is hy tot die hoofbestuur verkies. Hy was medestigter daarvan en in 1882 was hy ’n ruk lank die eerste onderwyser aan die Gedenkschool der Hugenoten in Daljosafat. Hy het egter nie lank skoolgehou nie omdat hy nie sy redakteurskap van Di Patriot en die onderwys kon volhou nie.
Hy en CP Hoogenhout het Di Patriot in 1891 weens politieke verskille met sy broer verlaat en in 1892 het hy Paarl verlaat om hom in die Vrystaat te vestig. Hy het op die plaas Brightside naby Ladybrand, wat aan Johannes van Soelen behoort het, gaan woon. Die boerdery was nie ’n sukses nie; gevolglik het hy ’n plaasskool begin. In 1894 het hy na Bloemfontein verhuis en tot die redaksie van De Express toegetree. Tydens die Anglo-Boereoorlog het hy hom by die Boeremagte aangesluit en nadat hy gevange geneem is, is hy na Durban gestuur. Hy is vrygelaat, maar is weer gevange geneem. Hierdie keer is hy as krygsgevangene na Indië gestuur nadat ’n buurman ’n valse verklaring oor hom afgelê het. Na afloop van die oorlog het hy vertaalwerk vir The Friend gedoen en nadat verantwoordelike bestuur aan die Vrystaat toegeken is, was hy vertaler van die regering. Toe die Vrije Christelike School in 1905 in Bloemfontein in reaksie op Lord Milner se verengelsingsbeleid gestig is, was hy die eerste hoof daarvan. Hierdie skool het later Hoërskool Sentraal geword. Hy het bygedra tot die veldtog vir Afrikaans en saam met mense soos genl. JBM Hertzog, dr. O’Kulis en prof. Adriaan Fracken op die bestuur van die Afrikaanse Taalgenootskap, wat op 12 April 1907 gestig is, gedien.
Hy is in 1882 met Anna Susanna du Plessis getroud, maar sy is met die geboorte van hul dogter oorlede. Hy is in 1886 met Maria Catharina van Nierop getroud; vyf kinders is uit hierdie huwelik gebore.
Hoewel hy nooit ’n gepubliseerde skrywer was nie, het hy ’n groot getal Afrikaanse gedigte nagelaat en sy prosa, veral sy hoofartikels in Di Patriot, het baie gewig gedra. Hy het byvoorbeeld ’n aantal artikels geskryf waarin hy Afrikaans as landstaal bevorder het en sterk argumente aangevoer word oor waarom Nederlands nie ten volle in Suid-Afrika herstel kon word nie. Daarby het hy sy besware teen Engels as landstaal geformuleer. Hy het ook insiggewende kommentaar gelewer oor Christelike onderwys in skole en die rol van die Afrikaner in die politiek. Saam met CP Hoogenhout, Arnoldus Pannevis en SJ du Toit het hy “Die Afrikaanse Volkslied” geskryf; dit is in die Groot Verseboek opgeneem, asook in Die Afrikaanse Poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Afrikaanse verse, Eerste stemme en Afrikaanse letterkunde.
Hy is op 22 April 1923 in die ouderdom van 77 jaar oorlede.
Daantjie Badenhorst
Lees ook: FAK-kultuurnetwerke bring hulde aan Oom Lokomotief