Die gewilde kunstenaars Jakkals Vibes en Blixim Straat, wat die musiekbedryf behoorlik op sy kop gekeer het en wie se liedjies vandag ’n stewige staanplek op treffersparades en radiospeellyste beklee, is twee van die kundige beoordelaars van vanjaar se FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie.
Dié twee baanbrekers sal spesifiek die inskrywings in die splinternuwe kunsmatige intelligensie (KI)-afdeling van FAK-Skryf’it onder die loep neem. Met dié nuwe kategorie verbind die FAK hom tot die verruiming van die Afrikaanse musieklandskap deur die innoverende en verantwoordelike versmelting van hart en hardeskyf.
Die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie het verlede jaar op ’n hoë noot afgeskop met meer as 580 inskrywings. Sommige deelnemers is egter weens die gebruik van KI gediskwalifiseer. Dit het die FAK genoop om vanjaar se kompetisie te herbedink en ’n vernuwende rigting in te slaan. Pleks daarvan om KI te verbied, word ruimte vir dié skeppings nou in ’n afsonderlike afdeling geskep.
“Ons glo dit is ’n belangrike stap vorentoe vir Afrikaanse musiek,” sê Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte en die dryfkrag agter Skryf’it.
“Met die toenemende rol van kunsmatige intelligensie in kreatiewe prosesse, bied hierdie afdeling aan deelnemers die geleentheid om dié betreklik nuwe landskap te verken en hul skeppingsvermoë op unieke maniere te ontwikkel.”
KI ’n hulpmiddel, nie ’n kunstenaar
Jakkals Vibes, wat steeds sy lirieke self skryf en bekend is vir sy vars benadering tot musiek en digitale platforms, bring waardevolle insig na die beoordelaarspaneel. Hy is die eerste KI-kunstenaar wat met sy treffer “Heeltemal stom” Maroela Media se top-20-trefferslys gehaal het.
Sy ervaring met moderne musiekproduksie en aanlyn gehore plaas hom in ’n ideale posisie om KI-gegenereerde inskrywings te evalueer. Volgens hom lê die waarde van KI nie daarin om die kunstenaar te vervang nie, maar om nuwe gereedskap te bied wat kreatiwiteit kan versterk.
“KI is ’n hulpmiddel, nie ’n kunstenaar nie,” sê Jakkals Vibes. “Die emosie, die storie en die bedoeling agter ’n lied bly die belangrikste elemente.”
Jakkals Vibes meen die gebruik van KI het sy ontwikkeling as musikant stukrag gegee. “KI het nie my kreatiwiteit vervang nie, maar dat dit verskerp. Ek dink nou meer struktureel oor musiek. Die melodie, energie en emosie word doelbewus beplan eerder as net gevoel. As mens raak jy meer analities, maar ook meer presies oor wat jy wil hê. Kreatiwiteit word nie minder nie; dit word gefokus.”
Hy waarsku wel dat KI steeds beperkings het. “Die grootste beperking is nie tegnologie nie, maar konteks. KI verstaan nie kultuur soos ’n mens dit leef nie. Afrikaanse musiek dra geskiedenis, idiome, emosionele nuanse en plaaslike identiteit met hom saam. As jy dit nie self insit nie, klink dit generies. KI kan klank bou, maar nie kulturele waarheid skep nie.”
Volgens hom gaan KI uiteindelik die kaf van die koring skei. “KI gaan die fokus verskuif van ‘hoe gemaak?’ na ‘hoekom gemaak?’. Meer mense gaan deelneem, maar net dié met sterk idees en identiteit gaan uitstaan. Jong kunstenaars wat dit reg gebruik, sal vinniger leer, meer produseer en hul styl vinniger verfyn – mits hulle nie afhanklik van KI raak nie.”
Hart van storievertel
Müller sê dit is presies wat die KI-afdeling van Skryf’it beoog. “Ons wil deelnemers aanmoedig om tegnologie verantwoordelik en kreatief te gebruik. Hierdie afdeling skep ’n ruimte waar jong skeppers met nuwe klanke, strukture en idees kan eksperimenteer, terwyl hulle steeds hul eie stem en identiteit ontwikkel. Deelnemers word aangemoedig om nie net op tegniese vermoëns staat te maak nie, maar om oorspronklikheid en inhoud te prioritiseer.
Hy voeg by dat die insluiting van ’n KI-afdeling nie bloot ’n reaksie op tegnologiese vooruitgang is nie. “Dit is ’n doelbewuste poging om ons jongmense toe te rus vir die toekoms van kreatiewe werk. Ons wil hê hulle moet nie bang wees vir tegnologie nie, maar dit bemeester en op hul eie unieke manier gebruik.”
Volgens Müller versterk die betrokkenheid van kunstenaars soos Jakkals Vibes en Blixim Straat die geloofwaardigheid en relevansie van FAK-Skryf’it.
“Dit is belangrik om beoordelaars te hê wat die moderne musieklandskap verstaan en self daarin floreer. Hul insig sal verseker dat die KI-afdeling nie net tegnies beoordeel word nie, maar ook artistiek en kultureel sinvol bly.
“Ons hoop om ’n nuwe generasie liedjieskrywers te inspireer om grense te verskuif en die Afrikaanse musiekbedryf te verruim. Deur gevestigde kunstenaars en nuwe tegnologie saam te bring, word ’n dinamiese ruimte geskep waar tradisie en innovasie hand aan hand kan ontwikkel,” sê Müller.
Die hart van musiek bly onveranderd, sê hy. “Om stories te vertel, emosies te deel en mense bymekaar te bring deur oorspronklike lirieke, bly die kern van die kompetisie. Met die hulp van kreatiewe hulpmiddels soos KI – en die leiding van ervare beoordelaars – kry deelnemers aan FAK-Skryf’it die geleentheid om hul stem op ’n nuwe en opwindende manier te laat hoor.
“Skryf eers sonder KI,” sê Jakkals Vibes. “Bou jou fondasie: lirieke, tema, emosie. Gebruik KI daarna as ’n instrument, nie as ’n bron van waarheid nie. As jou identiteit nie duidelik is nie, gaan alles wat jy maak, dieselfde begin klink. Jou stem en storie moet die anker bly.”
Hy verklap ook waarna hy spesifiek in die KI-afdeling gaan kyk. “Die idee en emosionele impak dra die meeste gewig. Tegniese vernuf is maklik om met KI te bereik; dit is nie meer ’n onderskeidende faktor nie. Wat saak maak, is of die lied iets sê, of dit bly hang en of dit eg voel – ongeag hoe dit vervaardig is.”
Bewuste fokus op kreatiwiteit
Pieter Daniel Groesbeek, beter bekend as Blixim Straat, het op sy beurt die afgelope twee jaar bekendheid verwerf vir die vernuftige manier waarop hy KI-klanke gebruik om sy uitdagende en komiese lirieke tot lewe te bring. In November verlede jaar was sy liedjie “Sy is op haar mooiste in my geskeurde T-shirt” heel bo-aan Spotify se Viral 50 in Suid-Afrika.
Groesbeek glo ook dat sy eie kreatiewe proses merkbaar ontwikkel het sedert hy KI begin gebruik het. “Waar tegniese uitvoering vroeër tydrowend was, stel KI my nou in staat om my idees vinniger te laat realiseer,” verduidelik hy. “Dit neem nie kreatiwiteit oor nie, maar dwing ’n mens om meer doelbewus te fokus op die kern van ’n lied: emosie, storie en boodskap. Omdat ek minder tyd aan tegniese aspekte bestee, kan ek meer energie in betekenisvolle lirieke belê – en dit bly die hart van goeie musiek.”
Hy stem saam dat KI nie ’n kultuur self kan oordra nie. Afrikaanse musiek, met sy ryk geskiedenis en unieke identiteit, is diep verweef met mense se ervarings, humor en konteks. KI kan patrone en style naboots, maar dit het nie werklik begrip nie. Sonder die kunstenaar se eie inset kan musiek maklik generies raak en die egtheid verloor wat Afrikaanse liedjies so besonders maak.”
Volgens hom is die potensiaal van KI binne die Afrikaanse musieklandskap enorm. “Vir opkomende kunstenaars is dit ’n waardevolle intreevlak – ’n manier om idees te ontwikkel sonder duur ateljees of groot produksiespanne. KI maak dit moontlik om met nuwe klanke en genres te eksperimenteer, en kan veral in ’n kleiner taalmark help om meer kreatiewe werk te lewer. Dit skep ruimte vir nuwe stemme wat dalk nooit gehoor sou word nie.”
Krag in emosie, eerlikheid
Hy is daarom baie positief oor die KI-afdeling van Skryf’it. “Sulke platforms kan jong kunstenaars leer om tegnologie verantwoordelik en kreatief te gebruik,” sê hy. “In plaas daarvan om KI as ’n bedreiging te sien, kan dit eerder ’n hulpmiddel wees wat tradisionele liedjieskryf aanvul. Hierdie samevloeiing van oud en nuut het die potensiaal om die Afrikaanse musieklandskap verder uit te brei en te vernuwe.”
Vir deelnemers wat KI wil gebruik, beklemtoon hy egter die belangrikheid van egtheid. Sy raad is eenvoudig: “Begin altyd by jou eie storie, jou eie emosie en jou eie perspektief. KI kan help om daardie idees vorm te gee, maar dit behoort nooit die bron van ’n kunstenaar se identiteit te wees nie. Die krag van ’n lied lê steeds in sy eerlikheid – in die vermoë om ’n luisteraar te raak en ’n menslike ervaring oor te dra.”
As beoordelaar in die KI-liedjieskryfafdeling van FAK-Skryf’it plaas hy daarom nie die fokus slegs op tegniese vernuf nie. Hoewel tegnologie ’n rol speel, bly die kernvraag dieselfde as met enige ander lied: raak dit die luisteraar? “’n Sterk lied is een wat ’n storie vertel, emosie oordra en betekenis dra – ongeag of dit met behulp van KI geskep is of nie.”
Met hierdie gebalanseerde perspektief bring dié twee kunstenaars nie net tegniese kennis na die beoordelaarstafel nie, maar ook ’n diep begrip van wat musiek betekenisvol maak. In ’n tyd waarin grense tussen mens en masjien al hoe meer vervaag, herinner hulle ons daaraan dat die siel van musiek steeds in die mens lê.
